Die vrou wat alleen bly deur Karel Schoeman

  • 0

 Die vrou wat alleen bly
Karel Schoeman
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485301844

Koop Die vrou wat alleen bly by kalahari.com.

Nuwe niefiksie uit die pen van Karel Schoeman is iets heel sonderlings. Al publiseer hy al om die hawerklap ’n historiese werk, het hy al meermale te kenne gegee dat hy nie meer fiksie skryf nie; trouens, teenoor my het hy laat blyk dat hy nie eens meer fiksie lees nie. Maar hier is hierdie bundel nou: sonder fanfare het dit verskyn, heel onopsigtelik uitgegee met ’n monochroom maroen omslag en beskeie letterwerk. Ooglopend is sorg gedra dat niks aan hierdie publikasie modern of uitspattig aandoen nie. Dit is asof dit nie veronderstel is om aandag te trek nie.

Hoe bring ’n mens die kloutjie by die oor?

Daar is twee ooglopende verklarings. Protea Boekhuis, die uitgewer hiervan, doen eintlik nie reklame vir sy publikasies nie, of nie so dat jy dit sal agterkom nie, en Schoeman is bekend om sy skuheid vir die kollig. Die bandteks help ’n mens egter om agter die kap van die byl te kom: met hierdie boek het Protea verlede jaar dié skrywer se 75ste verjaardag gevier en so nie net sy verbintenis met Schoeman gehuldig nie (sowat 25 van sy niefiksiewerke het hier verskyn), maar ook die skrywer se ongeëwenaarde bydrae tot die Suid-Afrikaanse lettere, onder meer deur van die heel beste romans wat in Afrikaans verskyn het, en daarby sy immer groeiende korpus biografieë en geskiedkundige werke. Laasgenoemde alleen kan ’n hele biblioteeksaal vul.

Maar nou hierdie ene. Dis nie net fiksie nie, maar boonop twee draaiboeke, dit wil sê tekste wat vir film geskryf is, en dan met so ’n onfilmiese omslag?

Nee, dit op sigself behoort eintlik nie ’n verrassing te wees nie, want Schoeman maak nie ’n geheim van sy skatpligtigheid teenoor die filmkuns nie; sien byvoorbeeld die opmerkings in sy outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, oor hoe films sy skrywersverbeelding geprikkel het – weliswaar nie Hollywood nie, maar die groot Europese outeur-filmmakers van ’n halfeeu of meer gelede – mense soos Fellini, Bergman en Antonioni. (Die boek se onmodieuse voorkoms is tien teen een ’n doelbewuste stellinginname teen die populêre.)

Boonop is hierdie twee draaiboeke glad nie Schoeman se eerste filmtekste nie; in die jare sewentig het drie tekste vir televisie uit sy pen verskyn, en per slot van rekening is hierdie draaiboeke wat toonaard en tema betref tipies Schoeman. Dit is wesenlik stil tekste, en al is albei taamlik woordryk, gaan dit eintlik oor die stille roerings agter woorde; dit is trouens wat die uitvoerige toneelaanwysings impliseer, met ander woorde wat deur die beskrywings van ruimte en stemtoon en gebare gesuggereer word. Dit is die kern van Schoeman se visuele taal, hierdie parenteses, en aan enige voornemende regisseur word eintlik net die kinematografie oorgelaat, naamlik die verwesenliking van hierdie beeldetaal deur filmskote, kameraposisies en toneeloorgange. Dit kan taamlik voorskriftelik voorkom, maar hierdie parenteses is ook waar Schoeman op sy beste is; hier ervaar jy by uitstek sy skrywerlike waarnemingsvermoë en sy sielkundige insig. ’n Voorbeeld:

(Hulle is weer stil. Onduidelik begin Susan nou reeds uit wat gesê en wat verswyg is, besef dat daar moontlik iets meer agter haar seun se dood skuil as wat sy vermoed het; maar die gedagte het nog geen duidelike gestalte gekry nie.)

Soos die titel aandui, gaan dit hier om mense wat emosioneel en fisiek geïsoleerd is. In die eerste draaiboek is die karakters vasgevang op ’n klein dorp (Sutherland); in die tweede stuk in ’n afgeleë hotelletjie. In albei gevalle is die sentrale karakter ’n vrou wat alleen is; nie noodwendig eensaam nie, maar iemand wat deur ’n kombinasie van omstandighede en doelbewuste lewenskeuses “alleen bly”. Indien jy in gedagte hou dat dit filmtekste is dié, dan herinner die tweede stuk, getiteld Hiér was huise, hiér ’n pad, aan ’n Merchant-Ivory-film, en wel in die sin dat dit ’n periodefilm is (speel in 1908 af) oor fatsoenlike mense wat ontnugter is of gebuk gaan onder die een of ander tragiese verstrikking. Dit het ook iets van die praterigheid en poserings van ’n comedy of manners, hoewel daar bitter weinig komies daaraan is.

In albei stukke word die konflik veroorsaak deur ingewikkelde, veelkantige liefdesintriges – ongeoorloofde liefde, sou ’n mens kon sê – en dit is juis in hierdie opsig dat die tekste tog ’n effense afwyking van die tipiese Schoeman-patroon is. Die tipiese Schoeman-protagonis is ’n wêreldvreemde enkeling wat in hoofsaak aseksueel is, maar hier kry jy karakters wat hartstogtelik hoewel vergeefs bemin. Na my gevoel is die manier waarop die karakters hul liefde bely – soms uitkreet! – vlakby melodrama, veral in die tweede stuk, maar juis hierdie teks is seker Schoeman se mees openlike behandeling van die homoërotiek, al is dit weinig meer as suggestiewe gebare en aanrakings tussen die twee jong mans.

Maar dit is helaas nie nuwe werk deur Schoeman nie; albei draaiboeke dateer van 1985, hoewel dit nóg verfilm, nóg gepubliseer is. Waarom nie?

In sy voorwoord sinspeel Schoeman daarop dat dit was omdat hy nooit tevrede was met die verfilmings van óf sy draaiboeke óf dit wat hy die “bewerkings” van sy romans noem nie, en dat daar sedertdien niemand na vore gekom het wat dit behoorlik sou kon doen nie. Maar dit kan ook wees dat Schoeman self destyds nie heeltemal tevrede daarmee was nie, want in ’n ietwat verdedigende trant skryf hy verder in sy voorwoord dat hy “hierdie twee stukke in eerste instansie ... as léés- eerder dan as spééltekste beskou het”. Hy noem voorts dat die manuskripte onlangs “aan die lig gekom het” nadat hy gemeen het dat dit lankal nie meer bestaan nie, en dat hulle nou gepubliseer is soos hulle geskryf is, “aangesien dit nie sinvol gelyk het om ná verloop van meer as ’n kwarteeu nog daaraan te probeer verander of verbeter nie”.

Die laaste opmerking (Schoeman-bewonderaars sal hul verkneukel aan die hovaardige toon) gee te kenne dat ook Schoeman bedenkinge gehad het oor die gehalte hiervan, hetsy as lees- óf speeltekste. Ek glo byvoorbeeld nie hy was met die uitbeelding van ’n hedendaagse kleindorpse lewe heeltemal op vertroude terrein nie, veral nie met die voorstelling van mans by ’n braaivleisvuur nie, en die gebruik van artistieke werke as leitmotiewe (onderskeidelik ’n Schumann-klavierstuk en ’n Swinburne-gedig) is taamlik geyk. Maar selfs mindere Schoeman-werke soos dié bied diepe leesbevrediging, en oor die literêr-historiese waarde hiervan, of die gebruik daarvan as ’n huldigingsbundel, kan ’n mens gerus maar applous gee, aan skrywer én uitgewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top