Die verskil tussen Kaaps en Afrikaans

  • 7

Oorspronklik bedoel as kommentaar op Jan Rap se kommentaar onderaan sy brief van 25 deser.

Beste Jan

Ek kan jou verseker, elke woord wat jy skryf word met ʼn fynkam bygekom, en ek verstaan Afrikaans, selfs beter as Engels. Verder het ek deeglike opleiding gehad om taal in al sy nuanses te verstaan en ondersoek in te stel wat taal op ʼn gegewe oomblik doen. Ek weet waarom jy bv skryf soos jy skryf. Ek merk bv ʼn effense verleentheid by jou wanneer jy my antwoord op jou skrywe lees, en dan verdoesel jy dit deur my van onbekwaamheid te beskuldig.
Jou skrywe is ʼn bewys dat jy nie die vaagste benul het wat met Kaaps bedoel word nie. Jy dink dis ʼn variant van Afrikaans met ʼn “gebrek van die infinitief na modale hulpwerkwoorde) wat deurspek is met Engelse woorde (en op ʼn lukrake wyse)” (wat dit ook al mag beteken).

Kom ek verduidelik vir jou wat Kaaps is en wat Afrikaans is, sonder om jou te veel te vermoei met geskiedenis.
Toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het om ʼn verversingspos te stig, het hulle nog Nederlands gepraat. Mettertyd het variasies van die taal ingetree sodat dit bekend gestaan het as Kaaps-Hollands en later ook net Kaaps. Changuion praat ook van “de Kaapsche uitspraak” in die grammatika wat hy vir hierdie Kaapse taal geskryf het. (De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika Hersteldt, 1844), Lichtenstein noem dit “Bastaard-Hollandsch”, en Swaving weer, “Boeren-Kaapsch”.

Daar is verskeie redes waarom die taal so begin verander het, soos bv die invloed van tale soos die Slawetaal, Maleis-Portugees, en die inheemse tale. Die hoofoorsaak vir hierdie taalverandering lê egter by die gebrek aan skole waar kinders behoorlik in die Nederlandse taal onderrig kon word.

Mettertyd het uit hierdie Kaapse taal ʼn nuwe taal ontstaan. Mense het taalbewus geraak. (Ik ben een Afrikander.) Hulle het begin skryf in hulle taal. Dink maar aan De la Caille, Sparrman, Thunberg, Le Vaillant en andere wat geskryf het oor plek-, plant-, en diername. Wikar het reisverhale geskryf en dan, iets soos “Lied ter ere van die Swellendamse helden” wat ʼn voorloper is van doelbewuste geskrewe Afrikaans.

Hierdie Afrikaans het mettertyd ʼn veredeling ondergaan, is doelbewus bestudeer en as vak onderrig in skole. Met die oorname van die Kaap deur Engeland in 1795 en 1804, deur die Engelse oorlog tot vandag toe, het Engels ʼn groot gevaar ingehou vir die bestaan van Afrikaans. Alles sou nog mooi verloop het, maar telkens is pogings aangewend om die Kaap en later, die twee boererepublieke te verengels. Dit sou ook beteken dat Afrikaans vernietig moes word. ʼn Taalstryd soos min het ontstaan, en uiteindelik het Afrikaans geseëvier toe dit as amptelike taal naas Engels, verklaar is. Dit was egter nog maar die begin van ʼn nuwe vrees: Afrikaans, wat nog maar sy kinderskoene aan het, sal deur ʼn magtige taal soos Engels verswelg word. Taalkundiges, geleerdes en taalsuiweraars het naarstiglik ingespring om te probeer red. Alle Engelse invloed moet sover moontlik beveg word. Engelse woorde en idiome mag nie sommer netso gebruik word nie. As ʼn nuutskepping deur bestaande woordmateriaal nie gemaak kan word nie, moet dit vertaal word. As dit netso gebruik moet word omdat daar nie so ʼn woord in Afrikaans is nie, moet dit verafrikaans word. Onderwysers moet spesiaal aandag gee aan die uitroei van anglisismes. Kreatiewe skryfwerk van leerlinge word bekrap met rooi ink dat dit ʼn naarheid is. Mettertyd bloei die poësie en prosa, en so het Afrikaans die taal geword waarvoor ons so lief is.

Intussen het die taal, kom ons noem dit maar die ouboet van Afrikaans, nl Kaaps, se ontwikkeling heel anders verloop. Dit het nie dieselfde veredeling as Afrikaans ondergaan nie. Geskrifte in Kaaps van so ver terug as 1700 is wel ontdek, maar niks om oor huis toe te skryf nie. Dit het wel aan die ou Nederlandse kultuur vasgekleef, meer as Afrikaans, in bv liedere, moppies, ens, maar het nooit ʼn onderrigtaal of skoolvak geword nie. Engels was nooit so ʼn groot gevaar vir Kaaps as vir Afrikaans nie en daarom is Engelse invloed nooit teengestaan nie. Daarom bestaan ʼn taamlike groot gedeelte van Kaaps se woordeskat uit Engelse woorde netso oorgeneem.

(Ek wil net hier so tussen hakies byvoeg: dis ʼn jammerte dat kinders wie se moedertaal Kaaps is, nie deur middel van Kaaps onderrig word nie. Dit is tog bewys dat moedertaalonderrig die beste vir ʼn kind is, en wanneer hulle op skool kom, word hulle deur ʼn vreemde taal onderrig. Dis ʼn groot agterstand wat hulle moet inhaal, maar gelukkig is Afrikaans nie so heeltemal vreemd nie, en kinders het ʼn groter vermoë om ʼn taal aan te leer as grootmense.)

Kaaps het natuurlik sy eie woordeskat en taal-idioom wat groot ooreenkoms toon met Afrikaans. Heelwat daarvan het natuurlik verlore geraak vir Afrikaans: gatiep, Imam(dominee), lambar (verloof), batja (bid), atjar (vrugteblatjang), en as jy ʼn goeie Moesliem is, gaan jy djannat toe. ʼn Oulike meisie is tog te ougat, en sy kan ook poenankies wees. In rugby moet die flyhalf oener die kaarte wees, anders verloor die Springbokke. Hulle is la-die-daa mense.

So, Jan Rap, waar kry djy darie kop?

Baing kirislam by die hys se kant,

Angus

  • 7

Kommentaar

  • Beste Angus,
    Jan Rap skryf ivm die “mengeltaalkwessie” soos hy na Kaaps verwys die volgende:
    “As jy Afrikaans en Engels magtig is kan jy ‘Kaaps’ praat; jy praat bloot Afrikaans en gooi lukraak Engelse woorde in.” En verder: “Laat ek dit dan anders stel – wat jý ‘Kaaps’ noem, is bloot slordige Afrikaans.”
    Wat Jan Rap dus eintlik te kenne gee, is dat ek en jy ook Kaaps kan praat as ons wil, ons moet net so af en toe ’n Engelse woord of twee ingooi. By implikasie, volgens die taalbeskouing van Jan Rap, praat elke Afrikaanse kunstenaar wat so graag “awesome” en “actually” en “song” sê, ook Kaaps! Nou toe nou.
    Ek het op ’n baie interessante (ongedateerde) gepubliseerde praatjie, Die historiese dinamika van Kaaps – toe en nou, gelewer deur Ernst Kotzé – emeritus professor (NMMU) & navorsingsgenoot (NWU), afgekom. (Soek net vir “voorbeelde van Kaaps” en dit verskyn onmiddellik).
    Kotzé gee ‘n gedetailleerde geskiedenis van die ontstaan en die wortels van Kaaps, wat soos hy sê, reeds 360 jaar gelede te vinde is in die skaduwee van Tafelberg met die samekoms van die Hollanders, 14 300 slawe uit Indonesië, 16 300 slawe uit Indië asook 15 800 slawe uit Madagaskar en 16 600 uit Afrika.
    Kotzé stel dit verder dat al hierdie slawe se moedertale… “in die slag gebly het en die sprekers “n ander taal, die Nederlands van die VOC-amptenare, moes leer om sosiaal te kon oorleef, en die aangeleerde taal aan hulle kinders oorgedra het. Dit was ook die lot van die inheemse Khoi-Khoin en San, soos dié van andertalige werknemers van die VOC uit Europa.”
    Hy brei verder uit en beskryf hoe Kaaps as nuwe gesprekstaal ontwikkel het met ‘n mengsel van hoofsaaklik Hollands en invloede uit die slawe se moedertale.
    Kotze gee talle en talle voorbeelde van Kaaps wat op dees aarde niks met Engels te doen het nie. Jan Rap kan dit gerus gaan naslaan voor hy weer op sy kruistog gaan oor "mengeltaal".
    Dis vir my insiggewend dat Jan Rap aanhoudend die "slordige mengeltaal" perd opsaal en dan onder die sprekers van Kaaps invlieg, so asof hulle met opset probeer om "Standaardafrikaans" te infiltreer of weg te erodeer of wat ook al, terwyl hierdie mense, soos jy telkemale uitgewys het, slegs hul moedertaal praat wat oor 300 jaar plus ontwikkel het. Eintlik hang hier 'n ideologiese onderrok uit, nie 'n taalkundige een nie. Dis al afleiding wat ek kan maak.
    Gooi djy venaand blatjang by djou breyani? Onthou ommie wyn yt die silwere bieker te drink.
    Groete
    Dirk

  • Angus

    Dankie vir 'n heel insiggewende stuk. Ek het my maar altyd met die wetenskap en wiskunde doenig gehou en nooit werklik dieper oor taal gedink nie.

    Ek was bevoorreg om tot op M-vlak al my studies in Transvaalse Afrikaans te doen en as ek dink hoe baie dit my gehelp het kan ek nie anders as om jou voorstel te steun dat Kaaps-kinders in hulle eie dialek geskool moet word nie.

    Groetnis
    Thomas

  • Beste FC Boot
    Interessante skakel wat jy gegee het. Ek het dit nog nie gelees nie maar Van Eeden het 'n klomp werk ingesit waarby ek seker is ons gaan baat.
    Daar was jare gelede 'n Hollander wat dieselfde voorstel gehad het en ek het vir hom gesê hy's nou 'n mooi een om te praat, want Hollands (Nederlands as jy dan nou wil) is propvol Engelse woorde. Sy antwoord was dat woorde soos boesteentjies was, hier en daar 'n anderse steentjie in 'n Hollandse gebou verander niks aan die gebou nie. Afrikaans egter, was sy bewering, se boustyl begin verengels. Bo en behalwe die Engelse steentjies waarmee die gebou deurspak is, is die styl van die gebou ook al amper Engels.
    Dit is waar, ek kon nie daarteen stry nie. Die geveg om die behoud van Afrikaans strek dus baie verder as om net te waak teen die lukrake gebruik van Engelse woorde; ons sintaksis begin ook verengels soos blyk uit sinsnedes soos 'ek doen' en 'ons kom nou by dit uit' ens ens.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Ryno van der Westhuizen

    Ék is maar dom oor die verskillende taalontwikkelings van Afrikaans. Ek het Afrikaans grootgeword, is nou 83 en goeie Afrikaans (volgens my groot- en oudword ) is musiek in my ore. Wat my pla, is die wyse waarop bruinmense op Kyknet-sepies gekategoriseer word. As een ’n "bruin" rol moet vertolk, mag hulle goeie Afrikaans praat, maar moet net kort-kort ’n Engelse woord inforseer, want dit word verwag! Watter belediging teenoor die "Bruinmense"!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top