Die twee laaste mondjies

  • 0

Foto: Canva

Die laaste twee mondjies

Liefde tussen my en jou was soos ’n twee liter Coke.

In die begin was daar daardie harde psssst toe ons oopmaak – daardie eerste oomblik waar alles nog vol gas was. Jy onthou mos hoe lekker dit is: die bottel yskoud, die plastiek wat kraak onder jou hand en die eerste sluk wat amper in jou neus opborrel. Alles bruis. Jy lag sommer oor niks.

Ons het nie eers glase gebruik nie.
Ons het sommer uit die bottel gedrink.
Ek een sluk. Jy een sluk.
Jy het altyd eerste gedrink.
Mond teen dieselfde opening soos mense wat nog nie dink oor wat later kan gebeur nie.

In daardie begin raak ’n twee liter gou leeg.

Maar later raak dinge anders.

Iemand sit die bottel neer.
Iemand vergeet om die doppie mooi vas te draai.
Soms staan hy lank op die tafel terwyl die gas stadig uittrek, sonder dat iemand dit sien.

Soms word hy buite die yskas vergeet.

Dan kry jy hom later weer – halfpad leeg, lou.
Die borrels het al stiller geword.
Jy vat nog ’n sluk.
Nie sleg nie. Net ... plat.

En tog gooi mens hom nie weg nie.

Jy draai maar weer die doppie toe en sit hom terug in die yskas.
Soos ons ook maar gedoen het.

En nou staan hy daar –
daardie laaste twee mondjies.

Maande. 

Soms jare.

Ek sien hom elke keer as ek die yskas oopmaak.
Elke keer dink ek, ek gaan hom nou klaar drink.

Maar ek doen nie.

Miskien omdat ek weet hoe dit gaan proe.
Miskien omdat party dinge beter is
as hulle net so bly staan.

Agter in die yskas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top