Die trap

  • 0

“Die trap” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die trap

Ek is oorlaai. Nie met die wêreld se sorge of met agterstallige werk of enige van die ander abstrakte konsepte waarmee ek gewoonlik oorlaai is nie, maar fisies. Ek voel soos ’n kameel met twee oorlaaide saalsakke in die hittige woestyn. Aan elkeen van my gebrande skouers hang ’n lang, wye lapsak. Klink lig, maar hulle bars uit hulle nate en hang tot by my knieë en voel soos twee ankers wat dreig om my enige oomblik op die plek vas te meer. Die lap kan jy seker boheems noem; toepaslik vir vrouens in hulle middeljare met huweliksprobleme wat op lang reise gaan om sodoende kamtig hulself, die ware self, te herontdek. ’n Eat, Pray, Love moment, soos my vriendin die waansin probeer naamgee het.

In die een sak het ek alles gehad wat ’n mens moontlik op ’n dag soos vandag kan benodig. ’n Baadjie, ’n reënjas, ’n hoed, ’n klomp pakke aartappelskyfies waarop die geure in ’n vreemde taal geskryf staan (dit het die afgelope paar dae vir my ’n soort patetiese speletjie geword om laatnag die geure in die bed te sit en raai, die tjips voor my soos hamstersaagsels op die plastiese hotelskinkbord uitgewerp), ’n lapbeursie met ’n vuisvol Hong Kong dollars daarin en ’n groot bottel louwarmwater met ’n harde strooitjie wat nog na gister se lemoensap smaak. In die ander is die goed waarsonder ek nooit my voete by die huis uitsit nie. Daar is die handgeweefde mat wat ek in my twintigs, gedurende ’n soortgelyke (en tog, heeltemal verskillende) uittog na Zanzibar by ’n mooi Maasaiman op ’n straatmark gekoop het. Buiten vir ’n mat, kon dit dien as ’n kombers, ’n tafeldoek of ’n skerm wanneer jy smag na privaatheid in ’n oorvol oornagbus. Twee boeke (want behoede my as een sou opraak en ek nie onmiddellik my hande op die volgende kon lê nie) – vandag s’n Disgrace van JM Coetzee en The Brothers Karamazov van Fyodor Dostoevsky – ’n stoere volume wat ten spyte van sy sagteband die sak onder soos ’n vyf maande swanger maag laat bult. Dan is daar die sonroom, faktor vyftig, natuurlik (ek het tot my lewenslange spyt ’n ryspapiervel en twee rooi wangetjies by my Engelse voorvaders geërf), die asmapomp, die allergiepille en heel onderin, ’n swart piesang, ingeval my bloedsuiker val.

Maar dit was nie al nie. In my arms het ek die groot rooi lêer saamgedra. Die een wat ek al die pad van Suid-Afrika Hong Kong toe saamgepiekel het omdat ek die bevlieging gekry het om te skryf. Dit was seker onvermydelik, want wat anders doen ’n laerskoolonderwyseres met ’n sabbatical en ’n midlife crisis – jy skryf jou memoires! Of ’n rowwe buitelyn vir jou debuutroman, of, if all else fails, kan jy altyd probeer dig. Hopelik sal dit nie daarop neerkom nie!

Die probleem is dat die lêer nie sommer net ’n PNA-lêer is met ’n paar leë blaaie wat ywerig vir die geïnspireerde pen lê en wag nie. Nee, daarin moes ek mos ’n hele versameling items in plastiese liasseersakkies toekram – ’n paar prompts, het ek gedink. Ingeval ek vasbrand. Daar was goed soos ou strokies en rivierklippies en twee pare gebreide babaskoentjies (wat na al die jare nog na Sta-Soft ruik), asook die paar plastiese plakkies waarmee ek as jong vrou die hele Zanzibareiland platgeloop het. Toe ek die dag voor my vertrek die lêer aanmekaargesit het, het ek gedink dat die uitsoek van die items ’n diep, intuïtiewe oefening was – die begin van my introspeksie, kan jy glo? Nou, met die swaar, lomp lêer in my arms, skouers wat uit hulle potjies trek en negehonderd van die duisend trappe wat nog voorlê na die tempel toe, was ek besig om my lewenskeuses beswaard te bevraagteken.

Ek is nie ’n atletiese vrou nie. Kort-kort moet ek hygend op die nou trappies stop om my asem terug te kry. Dan is ek die spreekwoordelike stok in die goed-geoliede wiel – ’n hindernis wat die stroom mense (die maer, jong smaakmakers met hulle selfie sticks, die bejaarde Hongkongers wat eerbiedig en met regop oumenstreë die heilige berg bestyg om hulle wierookstokkies te gaan brand) in die loop moet sidestep. Die vlieg in die salf.

Almal is gelukkig te proper om iets te sê, maar binne-in my wens ek, ek kan verduidelik dat ek van Pretoria af kom en ons daar nie baie geleentheid kry om te stap nie. Ek dink skielik hoe verregaande dit vir hierdie mense wat op hulle twee voete leef sal klink, dat ek byvoorbeeld vir maande nie ’n toon uit die vier sekuriteitsheinings van die estate, aka die bangparkie, waar ek woon gesit het nie.

Halfpad gekom wonder ek of ek nie maar net daar op die trap kan gaan sit, my piesang eet en maak of ek baie ernstig besig is om te skryf nie. My vriendin sê altyd people watching is vir haar die mees opwindende tydverdryf op aarde (en dit in Sandton waar almal maar gecopy-paste is). Shame, het ek dan sommer gedink, nie dat my lewe veel interessanter was nie. Nou besef ek skielik dat mensekyk ’n goeie verskoning is vir wanneer die begeerte om te beweeg jou ontgaan. Ek vermoed my bene gaan dit in elk geval nie maak nie.

Die trap is vuurwarm onder my sitvlak. My voete is twee poffers en my hakke voel asof die Trojaanse prins hulle met sy pyl en boog bygekom het. My enkels is so opgeswel ek sou my linkertoon kon gee vir ’n koue koolblaar (ek is skielik maar net te dankbaar vir die wye pype van my geblomde palazzo-broek). Ek probeer so eenkant op die stel trappe sit as moontlik, so ver uit die stroom as wat ek kan. Wanneer hou dit op, wonder ek? Is dit skielik – droog die mense net eenvoudig teen ’n sekere tyd op? Of is daar party wat in die nag die pelgrimstog aanpak? Maar hulle moet dit op hulle knieë doen, besluit ek, want sonder die bloedige son, waar is die boetedoening?

Heel onverwags stop ’n ou tannietjie skielik voor my. Sjinees, oorgebuk en uitasem. Dat die tingerige ou dingetjie dit tot hier gemaak het, is ’n wonder en ek kry haar so jammer dat ek skielik wens ek kon ’n breë rug en sterk paar bene aanbied. Laat ek jou sommer die res van die pad opdra, sou ek sê. Die tannietjie knik haar kop vir my, haar swart ogies groot en blink, en beduie na die trap langs my. Sy wil sit, besef ek. “Natuurlik,” skud ek my sweterige voorkop op en af.

Verlig sak sy neer en pluk ’n heldergeel, toegevoude, Sjinese waaiertjie by haar cleavage uit. Met haar klein handjie wapper sy die ding soos ’n kanarievlerk voor haar gesig rond, en naderhand, as ’n guns, voor myne. Ek lag, half verleë, maar hoe meer ek lag hoe harder waai sy my. Ek begin tot wonder of sy ooit regtig moeg was? Dalk het sy eerder besef hierdie mens op die trap is op pad bokveld toe en sy sal moet kom plan maak. Ons glimlag heen en weer vir mekaar tot ons kieste pyn. Toe wys sy na my lêer, ’n regte nuuskierige ou agie. Nou goed, dink ek, ek sal maar saamspeel. Ek slaan dit oop en wys vir haar die skoene. Die vuil plakkies staan haar nie aan nie, maar een van die babaskoentjies vat sy in haar hande, saggies, so asof dit ’n vlinder is wat sy nie wil seermaak nie.

“Baby?” vra sy.

“Baby, yes,” antwoord ek. Sy begin in haar sak vroetel en ek weet toe sommer dadelik wat kom. Sy haal haar foon uit en druk die ding voor my neus.

“Baby, my baby.” Ek het vir die kind op die skerm gekyk en dadelik besef sy bedoel seker haar kleinkind. Sy moes dit ook besef het, want sy probeer weer: “My baby baby.”

“Your baby’s baby, I see.” Ek vat die foon by haar en maak asof ek die kind aandagtig bestudeer. “Very cute,” sê ek en gooi vir haar ’n dubbele thumbs up ingeval sy nie verstaan nie.

“Yes, very cute.” Sy glimlag soos ’n regte ou trotse oumatjie en ek kry sommer lus en gee haar ’n drukkie of klim in haar skoot en huil daar vir die res van my lewe. Toe vat sy my hand en vryf met haar sagte duimpie oor my vingers. “Come. You come?” Sy wys op met die trappe. Ag, wil ek sê, nee wat, dankie Ouma, ek is nou gaar. My bene wil nie meer nie. My voete kan nie meer nie en my hart is lankal nie meer lus nie. Maar toe wys sy na die vuil plakkies in die lêer. “You already walk very far?” vra sy, en ek wens ek kan vir haar sê ja, genade, weet Ouma hoe ver loop ek al die afgelope twintig jaar? Weet Ouma hoeveel bulte, berge (!) het die lewe al in my pad gesit. So, nou ja, dink ek toe. Ek kan maar netsowel ’n bietjie verder.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top