Die swart hond

  • 0

Jy was maar altyd daar het ek eers later besef. Van die eerste keer op die koue trap waar ek in twee geskeur was deur die monster se weeklaag en die alleen en bang wees in die bed. Desolation.

Jy was ook daar al die kere daarna. Deur al die ander gebeure daarna in my grootword- en menswordproses. Ek weet nou jy het deur alles by my voete gelê. Ek het jou geruik, soms jou asemhaling teen my voel blaas. Ek het party keer hard baklei teen jou en ander kere oorgegee aan jou deur myself te onttrek aan die mense en dinge rondom my. Ek het my in die donker alleen geworstel met jou terwyl ek die rustelose bene probeer stilmaak het. Desperation. 

Ek en jy het mekaar later verskeie kere van aangesig tot aangesig ontmoet en ek het jou warm asem in my gesig voel blaas, jy growwe vel teen my lyf gevoel en jou skerp naels in my bene voel inslaan. Jy het my soos 'n ou vriend omhels en styf vasgedruk en ek kon net snak na asem. As jy my dan vir ’n oomblik laat los het, het ek verbete geveg vir ’n plek in die son en die druk om die grootmenswêreld te kan hanteer. Ek het soms die enigste maniere wat tot my beskikking was gebruik om die omgewing in toom te hou deur ’n nar te wees soos my dogter sal sê. Dit het vir daardie oomblikke die dier van die deur af gehou. Ek het ook woede-uitbarstings gehad en my toys gegooi soos die mense sou sê. Die meerderheid van die kere het dit slegs tot stilswye en onttrekking gelei wat my asosiaal laat voorkom het. Dit het my egter onwillekeurig na jou laat terugkeer, nader aan jou gebring terwyl ek juis uit jou kloue probeer bly het. 

Hierdie reaksies het my in konflik laat kom, met julle wat die naaste en liefste vir my is en was. Ek het julle onwetend en onkundig weggestoot toe ons mekaar eindelik die nodigste gehad het, dit het skaaf en skuurplekke gelaat, maar ook diep wonde gelaat wat seker moeilik sal genees.

Toe my moeder wat ek so lief gehad het begin siek word het en so was dat sy ons nie meer herken het nie, het jy my gemoed wat so laag was gesien as ’n gaping om my te omhels. Ek kon min weerstand bied en as gevolg van my werk op daardie stadium het ek baie tye alleen deurgebring, lang ure op die pad met net RSG as metgesel. Daar het ek die eerste keer jou naam gehoor, ek sal die oomblik in tyd nooit vergeet nie. Die dame op die radio het ook met jou geworstel en sy het jou ’n naam gegee. Ek het by ’n padverlegging gestop en kon die gesprek mooi volg. Dit was tussen Middelburg en Noupoort. Die Noupoort wat in die nuus was. Noupoort waar die dwelmverslaafdes gebêre word. Min het ek geweet dat ek binnekort ook deur die nou poort sou moes gaan en dat die wande my dié keer te styf sou druk. Ek wou die heeltyd ontsnap uit jou kloue, asem skep teen die stortvloed wat nou al harder probeer het om my te verswelg.

Daar in die kloof, naby die watergat op Marieps se berg het ek het met jou geworstel, jy het die keer bloed getrek, jou tande gewys en my teen die afgrond saam met jou afgetrek in die donker gat in. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top