
Ek en Venetia was daai tyd op laerskool. Ons het voor die deur sit en speel. Toe sien ons daar kom Jaco en Patrys met die ding in die grondpad af, skuifel-skuifel lat die stofwolkies blom. Hulle twee het saam met Pappe gewerk. Baie by onse huis gekom ook. Man-man twee pote in die hand van onder, versigtig, of hulle ’n swaar, gekweste dier dra. Sukkel-sukkel het dit gegaan, want hulle was maar aan die min kant. Die son staan stil bokant hulle koppe. Die sweet tap hulle af. “Simoné! Venetia! Gee pad!” skree Pappe soos die ding hierdie kant toe en daardie kant toe gedraai word om by die deur in te pas. Pappe het nes ’n voorman staan en beduie hoe Jaco en Patrys moet maak om die ding reg in te kry: “Soontoe, manne. Nee, op sy sy.”
“Hy kan nie, ou Adam,” sê Jaco, “dis te nou. Wag, laat ons eers ... só ... daar gaan hy.”
“Mooi, manne, moet tog nie lat die ding nog verder seerkry nie.”
Maar Mamme het net stil eenkant gestaan.
Ons tweetjies het op en af gespring en rondgedans – dis maar min dat ’n nuwerige ding oor ons drumpel kom. Agter ons hande gegiggel en in mekaar se ore gefluister en na die ding beduie toe hy sy staanplek in die kamer kry. Naderhand laaie oop en toe getrek, tot Mamme gegil het: “Dis nou genoeg! Hou julle nou op! Loop speel buitekant!”
Dit was nog op die plaas. Nou staan die ding hier, vasgekeer in die klein kamertjie in my huisie in die Kaap. Ou Lisbet se spieëlkas. Skrape en kapmerke het daar oor die jare bygekom van die ge-uit en toe ge-in en weer ge-uit en ge-in, maar sy trots het hy nie verloor nie. Duur hout. Brêgherig. Bak bene soos ’n voël wat se lyf te swaar was om te dra. Bolkloue om beter sy staan te staan. Fyn patroontjies sorgvuldig uitgekerf.
Venetia hoor nie toe ek by die kamer inkom nie. “Jong! Die ou vrou is weer deurmeketaar vandag! Jy moet tog die polismense bel en hoor of Mamme se doodsgeld opbetaal is.”
“Hoekom moet jy altyd so raas, Simoné?”
“Ek dink sy’s nou rêrag op haar laaste. Praat heel bleddie dag van ’n erfporsie, erfporsie. Wat waarvandaan kom? Lyk sy’t goudmunte begraaf doer op die plaas. Want wragtig, daai oumens-pay hou skaars die maand uit.”
“Sy praat seker van die spieëlkas.”
“Nee wag, jong! Wie wil daai ding hê? Jy sien dan die ding pas skaars in die kamer. Jy kan hom mos daar by jou huis hou. Jy’t klomp plek. Of ons verkoop die ding sommer.”
“Ai, Simoné. Jy weet tog hoe die ou vrou oor haar spieëlkas is.”
***
Mamme lê toe-oë op die kooi met die ingeduikte matras onder die hekelkombers. Die kamer ruik na sterksalf en siekte. Grys hare oor die kussing gesprei. Sy was darem ’n vrou in haar dae: fyn gebou en lank met stulpings van voor en agter daar waar dit regtig saak maak. Mens kon sien hoe die manne skaamkry as hulle met haar praat. Kon haar nooit in die oë kyk nie.
Haar hare was daai tyd meestal onder haar kopdoek. Maar Saterdae het sy dit gewas en uitgekam en in die son laat droog raak. Op haar stuitjie het dit gehang.
Ek en Venetia is lig van kleur, soos Pappe. Ons lyk seker soos Pappe se mense, het ons maar afgelei. Nie dat ons Pappe se mense ken nie. Sy ma is dood. Broers en susters het hy nie. Venetia kon nie wag om te gee pad van daai plaas af nie. Amper elke dag tjank-tjank, snik-snik van die skool af gekom, want die kinders spot ons.
Ons stap nog so eendag huis toe, toe’s Mietjie en haar trawante agter ons.
“Is julle nie bang nie?” vra sy vir hulle.
“Vir wat moet ons dan bang wees?” vra die een.
“Hierie nagspoke op dagdiens voor ons,” sê sy en hulle almal bars uit van die lag. Ek gaan staan stil.
“Los hulle, Simoné,” sê Venetia.
Ek gooi my sak neer, ek draai om, en toe gryp ek daai Mietjie aan haar min haartjies. Sy’t my vlegsel beet en dis ek en sy aanmekaar.
Toe ons by die huis kom, is Mamme daar. Die kamer ruik na seep na ’n mens jou klaar gewas het.
“Wat maak Mamme dan by die huis?” vra Venetia.
“Hoekom lyk julle gesigte soos ’n stormwolk?” vra Mamme.
“Dis al weer daai Mietjie-hulle, Mamme,” sê ek. “Hulle wil nie ophou met ’n mens nie!”
“Ai, my kind, daar’s party stryde in die lewe wat ons altyd sal moet stry.”
“Mamme bly sulke goete sê wat niemand kan verstaan nie,” sê Venetia terwyl sy uit die kamer stap.
Die spieëlkas was eers mevrou Claire s’n, toe kry sy glo eendag gier om dit uit te smyt. En Mamme het gemaak dat daai spieëlkas in haar plaashuisie sy staan kom kry. Ons het daai tyd eers nie geweet hoe sy dit reggekry het nie.
Toe Jaco en Patrys die spieëlkas die dag by die plaashuis aanbring, toe sak Pappe af: “Jirre, julle manne werk swak. Kyk hoe lyk die ding!” Want in die ronde raam van die spieël was daar niks oor behalwe ’n skerf glas nie. Die skerf van die spieël wat oorgebly het, het lateraan uitgeval. En niemand het plan gemaak om ’n ander spieël in te sit nie. Dit was of hulle nie eens meer gesien het die spieël is uit nie.
Jaco en Patrys het niks gesê nie; net skuins na Mamme geloer.
En Jaco is net vol “sorry, sorry, ou Adam”. “Nee ou Adam,” gaan Patrys verder, “toe ons hom by die groot huis se trappe afdra, toe gly Jaco wat voor vat en daar tuimel die ding die res van die trappe af en toe die ding sy stillê kom kry toe is die spieël net skerwe glas.”
Een aand, toe’t Jaco en Patrys ’n ou drinkdingetjie met Pappe kom deel. Toe Pappe sien die kan loop leeg: “Kyk waar lê hy al. Ek hou dié bietjie vir my vir môre vir die kop.”
“Moet tog nou nie so wees nie, ou Adam,” sê Patrys. Maar Pappe hou vol.
Sak Patrys af: “Ag, man! Hou jou wyn! Jy bly dom.”
“Los dit, man. Kom ons loop liewer,” wil Jaco die vrede bewaar.
Mamme staan in die deur. Die gepraat het ons almal wakker gehad. Ek en Venetia op onse knieë ’n paar treë agter haar lat sy ons nie kan sien nie.
“Hy’s ’n kont, hy!”
Pappe gaan staan styf teen Patrys. “Met wie praat jy? Hè?”
Gaan Patrys aan: “O, so jy wil nou teen my kom styfstaan? Daai kas het in elk geval nooit by die trappe afgedonner nie. Toe ek en Jaco dit gaan haal, toe is die spieël klaar gebreek. Siena het die gangvloere in die groot huis gepolish, toe sien sy hoe daai spieël gebreek het.”
“Julle mense met julle stories,” sê Pappe. Hy gaan sit; vryf oor sy kop soos altyd as ’n ding pla. “Wat myne is, is myne. Julle was nie by nie. Niemand het gesien nie, maar julle praat julle stories nog al die tyd.”
Toe Patrys en Jaco wegsteier, klim Mamme by die trappie af.
“Adam,” sê sy sag.
Maar Pappe het nie opgekyk nie; net aanhou oor sy kop bly vryf.
’n Ruk ná meneer Simon se afsterwe in sy oudag, toe kom die balju met die brief wat sê mevrou Claire sê Mamme en Pappe moet van die plaas af. Dis nou haar en haar kinders se grond en hulle slaan wet oor wie daar bly en wie nie. Ek en Venetia was al weg.
Maar dis nie wat meneer Simon altyd vir Mamme gesê het nie. Só het sy gesê. Hy’t gesê hy los als vir ál sy kinders en dan kan Mamme daar bly tot sy die dag dood. Dít het hy haar belowe. Pappe het halfweg geprotesteer teen die uitsetting. “Julle kan nie daai ding maak nie. Dis ’n nuwe land hierdie. ’n Nuwe goewerment en nuwe wette. Waarnatoe dink julle moet ’n oumens op sy oudag gaan?”
“Daar’s ongelukkig niks wat ek aan die saak kan doen nie, Meneer. Die besigheid is klaar deur die hof en dit is nou so. Julle sal maar plan moet maak. Maar die mevrou het haar voet neergesit.”
Toe kom hulle hier in die Kaap met ’n lift aangery tot by my huisie, ingedruk in ’n ou bakkie. Ou Lisbet en Adam en hulle goedjies en die spieëlkas.
Meneer Simon het altyd allerhande oorskietgoed vir Pappe gegee. Met die oorskietwyn het hy hom doodgedrink. Kort nadat hulle by my plek aangekom het, is hy weg. Al die jare se suipery. Net sy koperpand wat hy vir ons gelos het. Mamme s’n is nog aan haar vinger.
“Slaap Mamme?” vra Venetia. Nog voordat ek kan antwoord, maak Mamme haar oë stadig oop. Sy sien ons voor die spieëlkas staan, maar dit lyk sy kyk verby ons.
Mevrou Claire het daai spieël self breek gemaak. Ek en Venetia het maar so die stukkies wat ons hier en daar gehoor het, bymekaar gesit.
Eendag toe vang mevrou Claire glo vir Mamme voor die spieëlkas sit. Sy’t haar doek afgehaal en met mevrou Claire se ivoorkam haar hare sit en uitkam. Rooisel aan die lippe en wange gesmeer en lekkerruikwater gespuit.
Toe mevrou Claire die kamerdeur oopgooi, sien sy Mamme voor die spieël sit. “Wat dink jy doen jy?!” En mevrou Claire se oë val op die kam wat Mamme van die skrik laat val het.
“Ek is jammer, Mevrou. Ek wou net ... Ek was besig om die ...”
Daai dag toe lyk dit mevrou Claire raak van haar kop af, het Siena vir die mense vertel.
“Jy sal nooit my plek kan inneem nie, nooit! Nooit!”
En toe vat mevrou Claire die blompot wat op die spieëlkas staan en gooi die spieël fyn en flenters daarmee.
“Julle moet plaas toe. Julle erfporsie wag. Wettiglik. Daai tjinners wat so baasspeel, moet beginte plek maak,” begin Mamme weer.
“Sien jy nou?” sê ek vir Venetia. “Ek het jou gesê sy praat heeldag daai ding.”
Mamme begin toe weer: “Simoné was klaar geplant toe Adam my vat. Die mense gaan praat, het my ma gesê. Adam was nie een wat vrae gevra het nie. Julle weet tog hoe hy was.”
“Wag, laat ek vir Mamme eerder bietjie water gaan haal. Mamme is seker uitgedors van al die medisyne,” sê Venetia.
“Simon Venter,” gaan Mamme verder. “Saans as de laaste vark loop lê het, het hy by my kooi kom inkruip. En julle twee het van die gelêery gekom,” sê sy.
My woorde was weg. Ek kyk na Venetia. Sy kyk na my. Toe gaan sit sy by Mamme se voete op die bed. Sit haar hand op Mamme se onderbeen. En sy sê: “Mamme moet nou ophou met daai storie. Dis ou goete. Begraaf saam met Simon en Pappe.”
Soms, as mevrou Claire weg was dorp toe, het Simon haar sommer in sy huweliksbed beetgekry. Wat sy agterna weer moes opmaak. Mamme maak haar oë toe. “Loop nou, julle. Ek. Wil. Rus.”

