Die Ruiterbos-kolletjie

  • 0

Aan die voetenent van die Outeniquaberge lê Ruiterbosvallei se groen golwende heuwels soos die Atlantiese Oseaan voor jou uitgestrek. Hier lyk dis asof die lug se skoon ruimtes tot teenaan die hemel se plafon opstyg. Met elke asemteug asem mens die natuurprag tot diep binne-in jou siel, terwyl die teerpad jou wegvoer op ‘n kaleidoskoop van kleur. Met Robertsonpas in my visier ry ek al soekende na waar die die padkaartkolletjie “Ruiterbos” moet wees. Waar die kolletjie se naambord langs die pad staan is daar nie veel nie!

‘n Entjie pad-af is daar ‘n gesellige plaaswinkeltjie wat jou nader wink. Behalwe vir die kafeetjie is daar ‘n posagentskap, eetplekkie en ‘n paar kunswerke in die gebou. Oorkant die winkeltjie pronk daar ‘n plaasskooltjie. Ek krap kop. Aikona, Ruiterbos moet iewers anders wees.

Met ‘n nuuskierige versigtigheid ry ek oor die R328 en volg die grondpad met die steilte af. Die rooi motorfietsie gedra homself mooi en seil soos ‘n wafferse rubberbootjie oor die klippiepad se golwende bulte. Eenvoudig en plat is die Tuinroete gelukkig nie! Die pad vurk voor my en ek swaai terug teerpad se kant toe. Om in die middel van die somer te verdwaal in ‘n spinnerak van plaaspaaie sal groot konsternasie veroorsaak.

Terug op die R328 swiep die grys teerpadslang verby die tagtigjare Eight Bells Country Inn se fabelagtige eikeboom wat al tweehonderd jaar oud is. Die grond waarop die hotel staan is oorspronklike deel van 2322 morg grond wat deur Goewerneur Lord Charles Somerset in 1816 aan ‘n Johannes Petrus Marx gegee is op voorwaarde dat reisigers hier kan uitspan voordat hulle die Outeniquaberge oorsteek.

Al het reisigers somtyds by die plaashuis aangeklop vir herberg is daar eers met die koms van die omgewing se eerste skoolmeester besluit om twee kamers aan te bou. (Waar die hotel se Bosun’s Whistel Pub vandag is, was die kamers eers geleë.) Teen die 1930’s was die uitspanplek voor die Outeniquaberge so gewild dat die plaas omskep is in ‘n vakansieplaas. Dis veral die hardebaard Royal Navy matrose wie hul seewaterskoene hier kom uitskop het wanneer hul skepe in Mosselbaai se hawe vasgemeer was. Hulle gereelde besoeke het ook bygedra tot Eight Bells se naam. Sien, in daardie jare is die seemanne se werkskof met 8 klokslae afgetel. Teen die tyd wat die agste klokslag lui, was dit dus tyd vir ‘n blaaskansie en waar is daar nou ‘n beter rusplek as hier!

Die geelhoutvloere en plafon van die oorspronklike plaashuis kan vandag gesien word in die hotel se snoekerkamer.

Alhoewel Eight Bells Country Inn mens aan die Engelse platteland laat dink, kan jy sonder ‘n borsrok of kuilhoed kom aansit vir tee. Valhelm in die hand gaan sit ek by een van die teetuin se wit ystertafeltjies. Dis net ek, ‘n ouer paartjie en die hotel se vrypostige kat onder die koeltebome.

Na ‘n hemelse Coke float (en ‘n goed gemasseerde katjie) verken ek die res van Eight Bells. Hier’s nogal ‘n oulike paar staproetes waarvoor jy jou tekkies kan inpak, tesame met ‘n swembad, tennisbaan en kinderspeelplek.Dis egter die langbeenperde op die vallei se skuinste wat my aandag trek. Briek-briek loop ek afdraand af na waar hulle doodluiters staan en gras vreet. Een of twee stap nuuskierig nader. Behalwe vir die krrrrrtttts-krrrrrrtttts van perdetande wat gras afpluk is dit doodstil. Ek vertoef lank by hulle. Mens kry min kans om sulke mooie skepsels te bewonder!

Kortpad na my motorfiets deur die ontvangslokaal ontmoet ek Clive. ‘n Paar jaar terug het hy ‘n groentetuinprojek aangepak. Man alleen, het hy sakke en sakke perdemis in 5 hektaar grond ingewerk en aartappels, kropslaai, pampoen en uie geplant. Op sy eie het hy nat gemaak, geskoffel dat die stof staan en wie weet dalk het hy selfs een of twee keer voëlverskrikker gespeel! Sy harde arbeid het 180 sakkies aartappels opgelewer. Die hotel het dit, tesame met die res van Clive se groenteoes, by hom aangekoop en aan Eight Bells se gaste die lekkerste etes bedien.

Clive sien my af onder die reuse eikeboom waarvan van die boomtakke tot 20 meter lank is. Met ‘n sagte toetgroet ry ek onder die boomtakke uit en draai in Robertsonpas se rigting.

Gebou deur Thomas Bain en ‘n span Knysna-bandiete is hierdie pas met sy krulstert draaie en fraai uitsigte ‘n moet vir enige iemand se doendinge-lysie. In 1867 is daar met die pas se bou begin nadat Mosselbaai se padowerheid moedeloos gesukkel was om ‘n wapad te probeer bou op die ou Attakwaskloofpad. Thomas Bain het toe ‘n gedeelte van die ou Ruytersboschpad en die Attekwaskloofpad gebruik om ‘n nuwe pas oor die Outeniquaberge te bou. Vernoem na daardie tyd se Kaapse hoof pad-ingenieur, Murrel Robertson wie hierdie pas moontlik gemaak het, is Robertsonpas in 1869 geopen.

Sodra mens deur die pas se gevaarlike haarnaalddraai is, kan jy begin uitkyk vir ‘n bosboustasie op regterkant. Die gemeenskap wat hier woon is groter as wat ek gedink het. Dalk is dit die Ruiterbos-kolletjie op my kaart!

Die laaste plek wat ek besoek is by ‘n aftrekplek langs die pas waar daar twee gedenkstene staan. Een herdenk die dood van ‘n Hollandse dame wat hier oorlede is, terwyl ‘n ander een hulde bring aan gestorwe SAP lede wie hier in ‘n busongeluk gesterf het.

Hier kom my ontdekkingstog vir die dag tot ‘n einde, want vir hoogtes en skerp draaie het ek baie respek!

Versigtig ry ek weer deur die haarnaalddraai wat soos ‘n vishoek oor die pad lê voordat ek op die reguit pad versnel. Met tyd aan my kant het ek nuwe belewenisse ervaar. Dis ‘n dag waar ek die kans gekry het om deur ‘n klein gordynskrefie na ander se lewens te kon loer. Ons het baie dinge wat op ons voorstoep en agterplaas wag om ontdek te word. Kom so bietjie uit. Gaan verken jou wêreld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top