Die rottang was destydse Google Maps

  • 2

Vroeër jare – voor die koms van Google Maps – was die rottang ʼn nuttige rigtingwyser vir balhorige skooljongens wat die pad byster geraak het. As die rottang destyds met jou gesels het, soos die stem in jou slimfoon of GPS deesdae doen, kon jy jou roete aanpas om by jou bestemming te kom.

My eerste proe van dié gewraakte, verskriklike brand van die rottang was as koshuiskind in St 6 (vandag se Graad 8). Een laatmiddag stap ek in die koshuisgang af. “Was jy al by die kantoor?” vra ʼn mede-kosganger. Toe ek vraend “Nee?” antwoord, sê hy ek moet daar ʼn draai maak.  

In die gang voor die personeelkamer beland ek agter in ʼn ry benoude koshuisbrakke. Ons hoor vorentoe is ʼn grootskaalse veldslag met plofgeluide, en almal kyk pieringoog rond. Skielik is dit my beurt: Drie houe swiep en plof op my agterstewe. Eiiina! Die trane lê vlak. Jy byt op jou onderlip en kies koers badkamer toe. Van die deurgelooptes bekyk hul agterstewes. “Waarvoor was dit?” vra ek. Niemand het eintlik geweet nie. Maar, dit het my laat my besluit: “Hier moet ek mooi trap!”

Nadat ʼn karnallie by die skool of koshuis van die rottang geproe het, is dié merke gewoonlik laat smiddae tydens storttyd aan nuuskieriges gewys. Dié rooi hale is met groot gelag of bewondering begroet. Soortgelyke, véél erger en verskriklike rillers is dan met smaak en lang stertjies oorvertel. Onder groot gelag!

In matriek het die skoolhoof my op ʼn dag kantoor toe laat roep: “Mannetjie, jy kan beter doen,” het hy gesê en die jongste lys van klasposisies onder my neus gedruk. (Hy was natuurlik heeltemal reg!) “Kom, buk,” het hy gebulder.

Uit van my klasmaats se ervarings het ek geweet wat wag: Jy buk agter die kantoordeur op die klein matjie. So gebukkend moet jy liefs opkyk en begin lees aan die Onse Vader, in ʼn houtsneewerk wat agter die deur hang. Dan val die houe!  As jy dink jy het genoeg gehad, moet jy vinnig padgee het die maats vertel, selfs voordat jy klaar gebid het! Snaaks hoe dié besoek én die Onse Vader my punte daarna verbeter het!

Een van ons onderhoofde, mnr Smuts, was ʼn gemoedelike mens met ʼn heerlike sin vir humor. As jy kantoor toe gestuur is, het jy éérs by sy kantoor ingeloer voordat jy die skoolhoof se kantoor al biddend aangedurf het. As mnr Smuts op kantoor was, het hy jou net liggies afgestof. Gewoonlik met ʼn glimlag: “Kom, buk, ons gee jou so bietjie aanmoediging.” Jy het dan lig daarvan afgekom.

In ʼn Afrikaanse les het mnr Smuts hom op ʼn dag verskriklik vererg vir ʼn klasmaat, Fanie Nel, en hom kantoor toe geneem. Ons hoor die plofgeluide van ʼn yslike pak slae: Ses van die bestes! Mnr Smuts het niemand nog só getugtig nie. Ons is boeglam geskrik.

Die twee kom terug klaskamer toe. ʼn Wasbleek Fanie stap voor. Nou ja, een van die klasmaats, Bokkie Homann, was nie ʼn man wat sy lag kon hou nie, en toe hy sien hoe sleg Fanie lyk, bars hy uit van die lag! Groot fout! Mnr Smuts vererg hom die tweede keer en hy sleep Bokkie kantoor toe. Ons luister: Ook ses van die bestes. Toe Bokkie terug in die klas stap, is hy self wasbleek. Ons lag nou lekker daaroor.

Doerie tyd het ʼn rottang sommer byderhand gelê, onder die swartbord op die plaatjie vir die kryte. ʼn Skoolmaat in die Engelsmedium-klas vertel dat hy eendag, net nadat hy badkamer toe was, in die klaskamer ingestap het en gewaar die seuns in die klas staan almal in ʼn halfmaan om die onderwyser se tafel en kyk na iets wat die leerkrag verduidelik. Ons winter-skooldrag was grys flennie-langbroeke en wit hemde met die skooldas. In daardie tyd, voor gekleurde hemde, het onderwysers ook maar flennie-langbroeke en wit hemde gedra. Terwyl al die seuns so lekker gebukkend staan en kyk wat die onderwyser beduie, tel die skoolmaat die rottang op en hy besluit om een van klasmaats te raps. Toe hy die rottanghou laat val, vlieg die geslaande figuur penorent en gil: “Ooo #$%@” (Onnoembaar). Dis toe die onderwyser wat so tussen die seuns gestaan en praat het wat toe voel hoe bitter brand die rottang!

Nou ja: Die skoolrottang was vir my soos ʼn padkaart.  Onderwysers kon agterkom as jou noord na oos, wes of selfs suid draai. Dan het hulle koers weer ingestel, soos Google Maps. Dankie!

 

  • 2

Kommentaar

  • Ja Jan, jy het vir jou eie stert 'n rottang gepluk. Jy gaan verguis word oor jou wrede onmenslike brief wat jy durf geskryf het. Hoe kan jy sê dit was die enigste rigtingwyser? Kan jy nie om jou sien dat hoe mooi, presies en ordelik dit deesdae in die skole gaan nie? Dissipline, respek vir alles is daar en dit is sonder die rottang. Die kinders praat nie teen die ouers se gesag nie. Ouerlike gesag is in elk geval 'n onderdrukkende metode om jou nageslag se kreatiwiteit en skeppingsvermoë te onderdruk. Voorspoedigheid vir die wat nog telge moet en wil opbring.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Partykeer was dit net aanranding. Lyfstraf was wettig, nie te sê billik of regverdig nie.
    Partymaal was bloed onder vel...
    Ek was gelooi in 1960's en 1970's, by huis en skool.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top