Die roep van die naguil

  • 3

Vir Helen Martins

Helen lê in die bed en hou die kussing stywer vas. Sy onthou Graaff-Reinet en die Kamdeboo-bos, in die verte, die koppie met messnye in. Die ou Katolieke kerkie en Johannes se asem wat altyd na ou pyptabak geruik het. Sy onthou die wolke wat reën belowe het, maar selde gebring het, die groot skadu’s teen die sykant van die dorp.

Dan spring haar gedagtes na Muizenberg en die reuk van die see, en die koue, nat winters. Die bekendes in die kafee, elk met hulle eie karaktertrekke. Die winterson wat speels op die see se golwe dans. Dans nes pa Piet, voor hy begin kreun het soos ’n leeu. Toe hy nog sterk was. Sterk om haar elke keer wat hy haar gesien het, te vra: “Wat maak jy klein miss Helen?” Sy draai op haar sy en gooi die kussing op die vloer. Die Karoonag in Nieu-Bethesda is stil en die maan se strale kom net-net deur die klein venstertjie. Haar vingers vryf oor die laken wat sy al lankal wou weggooi. Die wit is lankal nie meer wit nie – dit het van te veel was ’n aaklige grys geword. Dan raak haar gedagtes stil en vir ’n oomblik maak sy weer haar oë toe.

Terug in Muizenberg en die trein na Kaapstad. Verby St James, Kalkbaai, Clovelly en Vishoek. Sy maak haar oë oop en probeer dit skrefies oop en toe maak om die bruin muurpapier ’n ander kleur te maak. Tevergeefs. Sy haal diep asem en draai weer om op haar rug. Dit help seker nie ek lê hier en onthou die verlede nie, dink sy.

Sy staan op en trek haar klein groen blommetjiesnagrok aan, gryp die grammofoon en die plaat van Chopin se Nocturne terwyl sy haastig na buite stap. Haar gunsteling-stuk musiek. Die lug is skerp en skoon. Die naguil volg haar met sy oë, terwyl sy oor die bruggie stap en probeer onthou wanneer laas daar water in die Gatsrivier was. Haar pa was altyd oortuig dat die rivier nie bedoel was vir kinders nie. Hoekom, weet sy nie. Sy kan die grond voel kraak onder haar sandale en sy stap al vinniger. Die grammofoon is swaar.

Van ver kan sy die toring van die wit kerk sien. Die dorp is stil en dis net die roep van die naguil wat nou ’n geluid maak. Sy besluit om verder te stap. ’n Uur later sit sy die grammofoon neer en begin dit opwen. Sy is uitasem en die sweet drup sagkens by haar bors af. Die uil volg haar nog steeds, dink sy. Sy sit die naald versigtig op die plaat en die musiek vul die nag. Helen gaan lê en maak haar oë weer toe. Die klavier se krapgeluide sus haar. Iewers, dink sy, moet sy haar donkerte laat staan.
Muizenberg en Graaff-Reinet, en Johannes en sy asem en die kind, moet sy laat gaan. Tussen Chopin se note of tussen daai naguil se roep, dink sy, sal sy die kind moet laat gaan. So nie gaan sy nooit geslaap kry nie. Weer van voor begin. Maar haar ma Hester sal sy vashou. Sy sal haar vertroetel aan die reuk van die Roger en Gallet-parfuum in die glasdiamantbotteltjie wat die lig soms vang. Die parfuum lankal klaar, maar die reuk wat toegedraai word in haar ma se sakdoekie. Vir die res, een vir een in besonderhede herroep en in sement vasklem. Maar vir die kind sal sy spesiaal iets moet doen. En die bruin van die kamers sal moet gaan as sy weer ordentlik wil slaap.

Sy dink weer na: die leemte wat ek ervaar, is die wegbeweeg van God af. Wat is God? Vind ek God in geloof? Dit werk vir party. Vind ek dit in ander mense? Soms. Vind ek dit in liefde? Absoluut. Wat is liefde? Liefde is ’n warm gevoel wat my vul en vol maak. Soms het ek geen meer liefde om te gee nie. Soos vir Johannes. En dan soek ek liefde op by plekke wat net meer leemtes laat. Dawid se bekende gedig. Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here. Die Here van my kindertyd is besmet met mense se ego’s en my pa se aandring om Hom te gaan soek. Mense se idee dat as ek iets doen of nie doen soos wat hulle dit doen nie, ek nie God se liefde toegestaan word nie. Waar soek ek dan liefde?
Ek soek dit tussen Gatsrivier en die groot koppie. Ek soek liefde tussen vriende, maar besef dat vriende nes ek, menslik is. Hulle faal. Hulle struikel.

Ek soek liefde in familie. En al wat ek vind, is ’n konneksie gebaseer op ’n onsigbare band van herinneringe. Ek onthou ek was eens op ’n tyd vir ’n ruk jou familie, Pa. Maar as ons op ’n ander geleentheid mekaar moes ontmoet, dink ek sou ek geen konneksie met jou hê nie.

Die plaat is amper klaar. Helen maak haar oë oop, die naguil sit ’n paar meter van haar af. Eers skrik sy, maar sy kan sien dat die naguil die heeltyd net daar gesit het en haar dopgehou het. Vir jou, naguil, bou ek heel eerste ’n standbeeld met kleurvolle oë. Sy glimlag vir die uil.

Sy haal die geel papiertjie uit haar binnesak en lees die woorde hardop:

And, as the Cock crew, those who stood before
The Tavern shouted – “Open then the Door!
You know how little time we have to stay,
And once departed, may return no more.”

Omar Khayyam sou verstaan, fluister sy.

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Soveel insig in 'n hart ... in 'n wese ... in 'n vrou. So kompleks. So diep. 

    Ek't geniet om dit te lees. Dankie.

    Iewers het ek 'n persoon-skuiwing ervaar van Helen af, seker na Marinus toe, maar tog weer terug na haar, maar nie met volle passie. Soos twee riviere se water elk 'n eie smaak het, met 'n nuwe smaak as hulle saamgekom het.

    Marinus, jou beelde is kraakvars en lewendig tot in die sesde-sintuig in. Ek is nie 'n kenner van skryfwerk nie, maar jy't my so pas op 'n 'trip' gevat met jou woorde. Dankie.

    Dan wil ek ook net sê dat jou skrywe dieper is as wat ek kon verstaan en ook dit is prikkelend, maak my soek na antwoorde. Is elke vrou nie maar 'n raaisel nie?

  • Dankie Berdine! Waardeer die gaaf woorde. Bly jy het dit prikkelend gevind. Helen was so 'n awesome interessante mens gewees. M. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top