Ek luister Saterdag na Die Tale Wat Ons Praat (RSG) en daar is weer die alewige storie oor Standaardafrikaans (wat met 'n frons uitgespreek word) teenoor die 'ander variëteite' van Afrikaans, spesifiek Kaaps (wat dan met 'n glimlag behandel word).
Die gasspreekster was juis 'n taalmens (Afrikaans, maar haar kinders is in 'n Engelse skool [natuurlik]) en dié het in gewone en goeie Standaardafrikaans te kenne gegee dat bruin leerders einste nie mooi verstaan nie en, met 'n bietjie aanpor van Magdaleen se kant af, laat blyk dat die leerlinge beter sou presteer as handboeke in die sogenaamde Kaapse variëteit aangebied word.
Die probleem met Afrikaans is as volg: die kind leer Afrikaans aan moedersknie en sy moeder (soos my moeder) is geen taalonderwyseres nie. Dis maar soos atletiek en gimnastiek; jy leer hardloop en bollemakiesieslaan by die huis maar om 'n suksesvolle wedloper of gimnas te wees het jy 'n afrigter nodig. Nou word die kind in 'n Engelse skool gesit waar hy Standaardengels leer en sy Afrikaans bly agterweë; die kind ken mos Afrikaans, dit is dan wat hulle by die huis praat (en Engelse skole steur hulle nie juis aan Afrikaans nie).
Die kind sal byvoorbeeld sê "hy moet matriek het", of "julle moet almal daar is" maar nooit "he must has matric" of "you must all are there" nie want hy word reggehelp as hy so sou praat. Wat Engels betref word hy geleer die infinitief volg na die modale hulpwerkwoord en, alhoewel dieselfde geld in Afrikaans (en Nederlands en Duits en seker alle Indo-Europese tale) word hy nie reggehelp nie. Om die waarheid te sê, hy word nog aangemoedig want hy word vertel hy praat bloot 'n oulike 'variant'.
As hierdie soort van, noem dit maar vereenvoudigde grammatika, gevestig raak kan daar dalk eendag die ekwivalent van 'n Pannevis opstaan en die uiteindelike gevolg kan wees 'n woordeboek, letterkunde, grammatikaboek, spelreëls en die soort van ding en uiteindelik 'n erkende taal naamlik Kaaps. Dit is seker nie onmoontlik nie; Afrikaans se grammatika is eenvoudiger as Nederlands s'n wat weer eenvoudiger as Duits s'n is en Engelse grammatika is eenvoudiger as Duits, Nederlands en Frans, sý voorouertale s'n.
Die ingooi van Engelse woorde oral is egter 'n gruwel; dit kan nooit 'n variant van Afrikaans verteenwoordig nie. Neem nou byvoorbeeld die manier wat Marius en Lerato in Villa Rosa praat; hoe gaan jy ooit dit kan vertaal in, sê maar taal X? Jy sal 'n taal Y moet soek waarvoor die sprekers van taal X 'n hoër agting het as hulle eie taal en dan, lukraak, woorde van taal X vervang met woorde van 'verhewe' taal Y. Nou waar anders in die wêreld kry jy sprekers wat 'n buurtaal as die ideaal beskou en hulle eie taal verarm deur woorde van die taal, wat hulle as verhewe bo hulle s'n beskou, oral in te gooi?
So, tot tyd en wyl Kaaps sy eie grammatikaboek het, is dit bloot verkeerde Afrikaans.
Jan Rap

