
Foto: Canva
Die perdeblom
Ek is elf en kaalvoet,
spierwit knieë en blou-groen bril.
Dis geelveldwinter in die platteland,
en ons móét krieket oefen.
“Vang die bal!”
gil ’n sportbesetene soos ’n oorlogsirene
Maar my hande is yskoud,
en ’n krieketbal is seer om te vang.
Ek word summier herontplooi,
iewers waar die bal nooit kom nie.
Dit pas my.
Ek kyk na my voete,
hulle is pienk en my tone blou.
Daar is geel blommetjies geweef in die gras.
Ek pluk een, terwyl klapgeluide in juigende gille ontaard.
Die blommetjie is klein, eenvoudig en sag.
“Perdeblom – dis ’n onkruid,” het my ma altyd gesê.
Die kinders runnik soos masjiengewere: “Hy droom alweer, Meneer!”
Ek hoor niks. Ek voel alles.
Hoe voel dit om ’n blom te wees
wat niemand wil hê nie?
Skielik staan ek langs hom.
Hy is lank en het ’n baard.
Hy staan gemaklik en lyk so selfversekerd.
Sy skouers is breed, sy oë gelukkig.
Hy kyk na ’n huis en glimlag.
Ek sien hoe hy afloer na my,
sy oë lyk bekend – ken ek hom?
Ek het hom nog nooit gesien nie.
“Als gaan oukei wees,” sê hy.
’n Fluitende klank, soos dié van ’n mortier,
ruk my terug na die winterlug.
’n Rooi bom rol hoppend kort duskant my,
dis net blommetjies wat spat.
“Wakker word, troep!” beveel Meneer sportief.
Die batiljon se kreet: “Hy droom alweer, Meneer!”
Ek kyk na die duwweltjies langs my kaalvoete.
“Wat ’n simpel sport,” dink ek.
Dagdroom was alledaags,
maar dié was anders.
Dié was meer.
Ek was daar.
Ken ek hom?
Ken hy my?
Dit was beslis ’n droom,
hy’t gesê alles gaan oukei wees.
Dit is nie, nie vir my nie.
Ek is ...
anders.
Jare gaan verby en vrede kom,
kinderseer-oorlogeggo’s is nou stom.
Ek koop ’n huis saam met my man,
hy lag en sing daar binne.
Ek staan kaalvoet in die tuin
en kyk trots na ons huisie.
Tussen die welige groen gras
skuil ’n enkele geel blommetjie.
Skielik is my vel yskoud,
en staan ek in ’n winterslagveld,
in die voorste loopgraaf.
Klappende geluide en gille weergalm dof,
ek voel die teenwoordigheid van ’n klein seuntjie,
net hier kort neffens duskant my.
In daai oomblik tref dit my,
’n ruggraat-hoendervleisrilling deurboor my lyf.
Ek is skielik hiperbewus van die raakpunt van my vingerpunt,
en ek weet, en ek sien, ek voel en ek onthou.
Ek kyk na die klein seuntjie
en fluister glimlaggend sag:
“Alles gaan oukei wees.”

