Hulle was iewers bo in Noord-Afrika, oppad terug huis toe, toe hy skuins in sy sitplek na haar draai en saggies haar naam roep. Sy sukkel om haar oë oop te maak, en die irritasie lê vlak onder haar vel. Sy is moeg tot satwordens toe - vir wag op vertraagde vlugte, van nie weet of jy jou volgende aansluitingsvlug betyds gaan haal nie, massas passasiers, onbeholpe lughawebeamptes. Sy verlang nou na ruimte om haar. Spasie met bitter min mense daarin. Selfs afstand van hom, haar Siamese tweeling van die afgelope reis.
Drie weke vantevore het hulle reis afgeskop op ‘n handvol Griekse eilande. Dit was nou weliswaar nie die sogenaamde ‘wit’ eilande nie, maar groen Samos, Lesbos en Ghios het weereens bewys dat gewilde toeriste-trekpleisters nie noodwendig die antwoord op alle reisigersdrome is nie. Hierdie eerste been van hulle reis was gevul met skoon, oop, blou dae langs die Mediterreense See. Die ronde, see-gemaalde klippertjies op die strande, pleks van fyn, goue sand, was so onbekend aan hulle. Nog ‘n aardigheid was die seekatte wat oral van klein restaurantjies se stoepdakke gehang het, om later deur die eienaars sag geslaan te word teen die hawemuur.
Sagte seekattentakels (kalamarákia) het telkemale in hulle monde gesmelt, afgewissel met keftédes (klein frikkadelletjies), biftékia (klein hamburgertjies) en souvlákia (kebabs). Hulle kon nie genoeg kry van disse soos tarmasalata, tzatziki, saganáki en dolmades nie. Hy was mal daaroor om haar te voer met die souter-as-sout ansjo-vissies, afgespoel met inheemse Griekse wyne. Vir die gewilde Griekse brandewyn, Metaxas, het hulle nie kans gesien nie, maar ‘n klein glasie ouzo af en toe was nie onaardig nie. Altyd is maaltye afgesluit met tipiese Griekse soetgebak, wat gesmaak het asof die gode van antieke Griekeland van die berg afgekom het om dit persoonlik vir hulle te maak. Tot hul verbasing is dit dikwels tafel toe gestuur met komplimente van die restauranteienaar. Die Grieke glo klaarblyklik ‘n mens moet altyd ietsie gratis gee by ‘n transaksie.
Hulle twee was vir tien dae meegesleur deur die fassinerende antieke geskiedenis van Griekeland, soos vergestalt in die museums en argitektuur. Die feit dat pleknaam-borde geskryf is met letters wat hulle nie eers kon ontsyfer nie, het hulle vreemdelingskap onderstreep. Lewendige musiekklanke laat saans uit klein restaurantjies wat knus op die hawemure sit, het hulle laat ontspan tot ‘n punt waar hulle gevoel het dat hulle weer hulself vind.
Met hulle vertrek na die Turkse kus via ‘n groot, kragtige maar luukse veerboot, was hulle reeds opgewonde oor eksotiese Istanbul en die interessante sandsteengevormde strukture van Cappadocia in die binneland.
Istanbul oorweldig hulle summier. Keramiek in malse kleure, helder loodglas lampe, bont kelims en duur eksotiese persiese tapyte is orals. En katte. Katte in strate, katte op kelims, katte in winkelvensters en restaurante. Selfs katte in die Blou Moskee. En dan ook mense. ‘n Verskynsel wat nie anders beskryf kan word nie as ‘n kakofonie van mense. In die Grand Bazaar word hulle van twee kante aangeval. Enersyds die groot toergroepe, met hul toerleier al vlaggie-draende aan die voorpunt, en andersyds die stormloop deur die bazaargange van Moskeegangers wat moet gehoor gee aan die wekroep om te gaan aanbid. Telkemale druk hulle hulself plat teen die winkelvensters om uit die pad te kom. Van rustig inkopies doen, kom daar nie veel nie.
Weereens is die kos ‘n treffer, met die Turkse ‘pide’ brood onweerstaanbaar. Hierdie opgepofde broodjie, saam met humus en vars slaaie, word hul stapelvoedsel. Wyn is duur en daar word soms gefrons by navraag daaroor. Dus word hul drankies van voorkeur appeltee en sterk Turkse koffie (kahve). Met ‘n af-en-toe glasie raki.
Beide van hulle is ietwat senuagtig voor hulle vertrek na die konserwatiewe binne-land. Na ‘n drie-uur vlug en landing by Kayseri se eenman-lughawe is hulle nog steeds benoud. Hulle word by
die lughawe opgepik en terstond, met bagasie en al op hul eerste ekskursie geneem. Derinkuya Underground City is oënskynlik net ‘n gat in die grond. Wanneer hulle beurt egter aanbreek om die trappe na onder te neem, gaan daar ‘n onwerklike wêreld voor hulle oop . ‘n Volledige stad is onder grondvlak gebou, kompleet met wynkelder, bakkerye, skole, kerke, veekrale en woonplekke, op verskillende vlakke en vervat in ‘n labirint van nou gangetjies. Sestig meter onder die grond deel ‘n menigte, malende toeriste - tesame met een klaustrofobiese Suid-Afrikaanse vrou - dieselfde ervaring. In die Ihlara-vallei, op ‘n tien kilometer voetslaanpad, besigtig hulle oopmond die antieke wonings wat hoog op in die berge uitgekap is. Weereens is daar toerbusse vol toeriste. Hulle begin die tamheid aan hul lywe te voel.
Cappadocia is ‘n hoogtepunt. Die landskap lyk soos ‘n vreemde planeet. Inderdaad is ‘n hele paar bekende rolprente al hier geskiet. Sandsteenvorms wat soos stalagmiete lyk, en bekend staan as “fairy chimneys”, strek sover as wat die oog kan sien. Sommiges met deurtjies en vensterluike van hulle vroeëre bewoners. Hul luukse huisvesting in Urgüp is ‘n hotel wat ook uit die sagte vulkaniese neerslae gekap is. Met sonsondergang sit hulle op die balkon en verkyk hulle aan die see van swewende veelkleurige lugballonne.
By soewenierstalletjies is die blouglas-oë te koop, wat bedoel is om onheil te besweer. Ook hier is die aanwesigheid van toeristebusse opvallend. Hoe hulle hul menslike inhoud met reëlmaat uitspoeg en insluk.
Hy sukkel nou om haar aandag te trek en te behou.
“Goggabie, daardie brakdakhuisie in Prins Albert. Die ene met die olyfboordjie op die rand van die dorp. Ek dink ons is reg om ‘n aanbod daarop te maak?”
Haar wye glimlag en blink oë gee die antwoord vir hom.
‘n Soel Karoo-aand vind hulle twee maande later op hul breë agterstoep, aan die rand van die dorp, waar hulle behaaglik langbeen sit. Die oorvloedige sterrehemel kyk neer op hulle, en die krieke het sopas ontwaak.
Dit neem soms ‘n baie ver en mensvreemde reis, om die nabye reis af te lê en te voltooi.

