Met vandag se petrolprys ry jy nie ver pad sonder 'n kar vol vriende om die koste mee te deel nie, finish en klaar (soos ons oorle polisiebaas sou sê). Maar die lang pad - met padkos in die mandjie en 'n flessie tee, jou eie keuse van musiek - en miskien 'n internasionale krieketwedstryd as jy gelukkig is (en dit al die pad kan opvang!), is ek bevrees 'Chicken or beef?' - afhangend van watter lugredery jy vat, kom nie naby daai solitêre bevrediging van agter die stuurstang sit en die landskap voor jou verby te sien skuif nie.
Vir my rit van Kaapstad na Johannesburg het ek besluit om die pad self deel van die vakansie te maak. Dus, pleks van die vervelige (en duur, met al sy tolpaaie!) N1, besluit ek op die N7 vanaf Kaapstad tot by Vanrhynsdorp. Vandaar swenk ek regs op die R27 na Nieuwoudtville.
Die N7 is besig (maar darem nie so besig soos die N1 nie!) en daar's heelwat padwerke. Die oomblik wanneer jy op die R27 afdraai, raak dit rustiger.
Op Nieuwoudtville het jy die keuse om op die R27 te bly en Calvinia om te ry (langer pad), of die R357 te vat Loeriesfontein (korter pad) om jou uiteindelik op Brandvlei weer by die R27 te laat aansluit. Wat die kaart my nie sê nie, is dat die pad van Loeriesfontein na Brandvlei 120 kilometer grondpad is en by tye met erge sinkplaat, hobbels en duike.
My vrees vir laat by die Augrabies-hek uitkom is besweer toe ek die kamp bel en 'n hulpvaardige beampte sê die hek bly 24-uur oop, hulle sal my hut se sleutel soontoe stuur as ek na ses daar aankom. Dan kan ek net die volgende oggend formeel by die kantoor inboek ...
Die hut is 'n skaflike eenkamer-eenheid met bed, stort, toilet en kombuisgeriewe. En welkome lugversorging as teenvoeter vir die 40-plus grade in die somer!
Die volgende dag het ek die park per motor verken - 'n grondpad wat nou en dan laagwaterbruggies insluit met vloeiende water, wat jou vat na interessante plekkies soos Moon Rock, Oranjekom, Ararat, Eggo Hoek en Hollenbacht. Die temperatuur in Desember hang so in die vroeë veertigs. Dank Vader vir lugversorging! Radio-ontvangs is ook nie altyd so lekker tussen berg en dal nie. Telkens hoor ek op RSG die telling tussen die Proteas en Indië is nou grrrts-crrrts-xxx.
Terug by die kamp steek 'n paar wolke op en 'n paar sware druppels val. Is dit al? wonder ek nog so by myself. En dis toe of die reëngod hom vererg – sy nek styf maak, diep asemhaal – en die Augrabies met 'n stortvloed tref. Maar ook nie so dat die waterval meer dramaties teen die rotswande afdruis nie. 'n Halfuur later, en dis of daar g'n druppel geval het nie.
Van Augrabies af het ek op die N14 gebly - deur Upington, Olifantshoek, Kuruman en Vryburg, tot al die pad by Krugersdorp waar ek die bekende ou Ontdekkerspad gevat het tot in Johannesburg.
Na 'n goeie Kersfees by vriende en familie, vat ek die N12 terug Kaap toe. My plan is om by Magersfontein te oornag – die plek waar ek nog altyd verbygery het op die N12, en nog altyd gedink het ek moet nog eendag daar uitkom. Martha is die opsigter/bestuurder/restourateur van die museum en Bagpipe Lodge. Sy vertel ek moet anderkant Kimberley by Ritchie links draai en dan 'n klomp links- en regsdraaie vat tot by die museum.
So 'n ent voor Hopetown bel ek Martha. Sy reken ek moet omdraai, ek het te ver gery. Ek moet terugry tot by Ritchie (ek het my oë geknip en die plek gemis), dan regs by Modderrivier, dan regs by 'n kruising oor die treinbrug, dan weer links. By Ritchie bel ek haar uit radeloosheid weer. Martha klink die tyd al bietjie moedeloos. Net toe stop 'n bakkie langs my. 'n Vriendelike jong boer klim uit en vat die gesprek met Martha oor.
“O,” seg hy, “die museum!”
Dan beduie hy my terug tot by 'n plek waar konstruksiewerk aan die gang is – daar moet ek regs draai en die pad volg tot by die museum. Maar nie lank nie, of die pad maak weer 'n T-aansluiting. Ek kies regs – not 'n dêm, ek gaan nie weer vir Martha bel nie!
Na 'n ent sien ek die afdraai na die museum. Wat sommer van meet af grondpad word. Erge grondpad vir my kar wat net gemaak is vir teerpad. Uiteindelik sien ek die hek links wat na die museum lei. Ek bel graag weer vir Martha.
“Meneer is nou by die regte plek. My suster is by die hek.” 
Ek betaal die R15 toegangsfooi en volg die pad deur 'n vergete era se slagveld tot by my eindbestemming.
Ek is net mooi 114 jaar te laat vir die Slag van Magersfontein. Tussen Boer en Brit – Generaal de la Rey en sy manne, teen Generaal Lord Methuan en syne. 'n Klomp Skandinawiërs het ook aan die kant van die Boere geveg, en 'n bittere prys betaal met baie wat gesneuwel het. De la Rey het later aan President Steyn geskryf as dit nie vir die Skandinawiërs was nie, het hulle die veldslag verloor.
Ek is bly ek is laat vir die geveg. Nie net uit vrees van doodgeskiet word, of die pyn en lyding van gewond wees nie. Stel jou voor om in die donker nag in 'n loopgraaf te lê met slange, skerpioene en giftige spinnekoppe wat die wêreld vol krioel!
Die aand sit ek op die stoep van my opsigtershuisie, die Bagpipe Lodge. Die gesuis van sonbesies het plek gemaak vir die roep van krieke. Bokant my, soveel sterre as wat ek in jare nie gesien het nie. Ek stel my voor hoe Boer en Brit (en Skandinawiër) onder dieselfde hemelruim moes voel. Gerugte wil dit hê dat jy op sommige aande die eensame klank van 'n Skotse doedelsak kan hoor.
Vandaar die naam, Bagpipe Lodge.
Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

