Die Nuwe Testament – meer vrae as antwoorde

  • 4

Die Nuwe Testament wat deur Christene vandag gelees word is vanuit koine-Grieks vertaal, welke vertalings oor en oor gekopieer is van manuskripte wat lankal vergaan het.  Van die oorspronklikes het daar geen behoue gebly nie. Die oudste volledige manuskripte van die Nuwe Testament wat ons vandag het is die “Codex Sinaiticus” en die “Codex Vaticanus”, albei in die vierde eeu na Christus vanaf vorige dokumente oorgekopieer, met die “Codex Sinaiticus” ouer as die “Codex Vaticanus”.

Sedert die ontdekking van die “Codex Sinaiticus” in 1844 is vele wysigings gemaak tov vorige Nuwe Testament se vertalings.  Baie vorige interpolasies (onwettige byvoegings) in die Nuwe Testament is uitgelaat of gekorrigeer in nuwe vertalings.  Beide “Codex’s” verskil met mekaar tot sodanige mate dat Dean Burgon (1813 – 1888) verklaar het dat: “it is in fact easier to find two consecutive verses in which these two MSS differ the one from the other, than two consecutive verses in which they entirely  agree."   https://en.wikipedia.org/wiki/Comparison_of_codices_Sinaiticus_and_Vaticanus.

Daar bestaan 3036 teksverskille tussen die twee, aldus Herman Hoskier (1832 -1904) https://en.wikipedia.org/wiki/Herman_C._Hoskier.  Dat die heel oorspronklike teks met vandag s’n verskil, is ’n gegewe.  Dus wat die hedendaagse  Christen lees, verskil heel waarskynlik hewig met dit wat die Christen van die eerste eeu gelees het.  Dat hy dit in Grieks gelees het, is heel onwaarskynlik. Aramees was die taal van die Jode van Palestina in die eerste eeu, die taal van Jesus en die dissipels.  Dit maak in elk geval nie sin om ’n sendbrief aan die Romeine in Grieks te skryf en nie in hul eie taal Latyns nie,  ook nie aan die Hebreërs in Grieks en nie Hebreeus of Aramees nie.  Die enigste oorspronklike Grieks sou aan Griekssprekendes gerig gewees het, nl van die sendbriewe van Paulus aan bv Efesiërs; Korintiërs; Kolossense; ens. https://en.wikipedia.org/wiki/Aramaic_New_Testament

Die Apostels was ongeletterde manne, aldus Hand. 4:13.  Dat enige van hulle die Evangelies kon geskryf het is onwaarskynlik, veral in Grieks. Jesus self was ongeletterd (Joh.7:14,15) en het niks self geskryf nie, en wat hy te sê gehad het, en weergawes van sy lewe is eers dekades later op skrif opgestel, die dat daar nie noukeurige ooreenstemming tussen die evangelieskrywers rakende sy lewe en woorde is nie.  Daar is by die 194 weersprekings in die Nuwe Testament.  http://www.skeptically.org/bible/id6.html, juis ten gevolge van geheues wat nie gebeurlikhede en woorde presies meer kon onthou nie en duimsuigmetodes gebruik om leemtes aan te vul.

In die lig van bogenoemde is dit ’n “misnomer” dat “die hele Skrif (hierdie teks eintlik verwysend na die Ou Testament) deur God geïnspireer is” 2 Tim.3:16.

Juis ten gevolge van hedendaagse gekorrupteeerde weergawes van die oorspronklike Nuwe Testament se teks, kan daar nie aanspraak gemaak word dat die Nuwe Testament as primêre bron van God se openbaring kan dien nie, en in die afwesigheid van sodanige primêre bron, is die goddelikheid van Jesus verdag.

 

  • 4

Kommentaar

  • Jaco. Ek vra weer wat is jou punt. Wat wil jy bewys, dat jy die Bybel ken of dat ons gelowiges agterlike/onnosel mense is volgens jou Egiptiese filosoof of "spindokter". As jy probleme het met die Christelike geloof en leerstellings, ek stel regtig nie daarin belang nie. Hou dit vir jouself. Ek is nie te vinde om oor Godsdiens te redekawel nie. Hetsy die wetenskaplikes nou ook al wat bewys, interessante leesstof, gaaf om kennis te dra. As jy nog nie die "oproep" gekry het nie, jammer vir jou. Hou net jou foon aan, miskien kry jy 'n tweede kans en kry daardie "oproep". Sterkte vir jou.

  • Reusedwerg
    My punt? Heel duidelik in my laaste sin: "Juis ten gevolge van hedendaagse gekorrupteerde weergawes van die oorspronklike Nuwe Testament se teks, kan daar nie aanspraak gemaak word dat die Nuwe Testament as primêre bron van God se openbaring kan dien nie, en in die afwesigheid van sodanige primêre bron, is die goddelikheid van Jesus verdag."
    Ek skryf nie om Reusedwerg te plesier nie. Niks keer jou om my bydraes nie te lees nie, maar die nuuskierigheid oor wat Jaco te sê het, sal jou altyd oorweldig.

  • Beste Reusedwerg, moet jou nie steur aan wat Jaco Fourie te sê het nie. Die verskille wat voorkom is juis 'n bewys dat daar nie gekonkel is nie, want jy sien as alles woordeliks ooreengestem het sou dit juis daarop dui dat daar vooraf eers beraadslaag is oor wat geskryf moet word.
    Enige ondersoekbeampte sal daarvan getuig dat as getuies se verklarings feitlik woordeliks ooreenstem hulle of bymekaar gekom het om ooreenkoms te bereik of voorgesê is wat om te skryf.
    Ooggetuies van enige gebeurtenis sien dit elk uit 'n ander hoek. Selfs met honderde kamera-hoeke en stadig terugspeel is daar selfs nog steeds onenigheid oor sekere dinge in rugbywedstryde en sal ondersteuners van spanne altyd van mekaar verskil, afhangende of die beslissing ten gunste of teen jou span was.

  • FC Boot
    Nou toe nou! Wil jy nou soos ek, vir Reusedwerg terapie gee, die dat jy namens hom wil praat? Moenie jou rekening aan hom vergeet nie.
    Kom ons brei uit op jou "getuie"-analogie, en plaas dit in 'n werklike hofsituasie:
    Eerste getuie: Mt 1:17 het dit dat daar 28 geslagte vanaf Dawid tot Jesus was. Tweede getuie Luk 3:23 - 31 het dit dat daar 43 was? Nie alleenlik verskil hulle getuienis in getalle nie, maar ook in geslagsname. Bv Luk het dit dat Josef se pa Eli was en Mt 1:16, het dit dat Josef se pa Jacob was. (Josef = Jesus se pa).
    Onthou, albei het onder eed in die hof gesweer dat sy afsonderlike getuie waar en eerlik is. Het een of albei meineed gepleeg, want daar is nie naastenby ooreenstemming om vir die regter te kan bepaal waar die waarheid mbt Jesus se geslagsregister lê nie? Die saak word dus uit die hof gegooi weens onvoldoende getuienis.
    FC, beide jy en Jan is lief vir analogie, wat my baiekeer laat wonder of julle twee nie dieselfde persoon is nie, 'n twee-in-een pleks van 'n drie-in-een in die Bybel.
    As die Bybel homself nie self kan verklaar of verdedig nie, dan is dit definitief nie van God afkomstig nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top