Die note wat my huis toe bring

  • 0

Vir my is ry en musiek soos 'n lekker stuk vet beesbiltong en 'n skerp knipmes. Jy kan die een nie regtig geniet sonder die ander nie. Dit besef ek weer toe ek een Vrydagaand na 'n braai by die bure voor die TV tussen die DSTV kanale lê en blaai en per ongeluk afkom op 'n program waar Andre Rieu 'n Nederlandse gehoor vermaak met viool en prettige musiek. Die spesifieke lied het onder andere 'n vrolike herhaling gehad van “la Spanja”, of so iets.  Almal sing saam, man en vrou wieg saam, man vryf wang liefderyk teen vrou se wang, ensovoorts. Dié tonele laat my toe onwillekeurig dink aan al die vreugde, genot, wroeging en ander emosies wat musiek mens kan aandoen. Veral as jy alleen is op die langpad en die radio en CD-speler jou beste vriend is.

My musieksmaak is so wyd as hierdie droewe land se vlaktes wat ek al so dikwels deurkruis het op my togte van Noord na Suid en van Oos na Wes. Meeste van hierdie reise was alleen en gewoonlik in 'n werkshoedanigheid. Die pilare van my musieksmaak is opgerig in die Tagtigs, en is dit veral die Voëlvry-manne wat my en my studentepêlle oneindige genot verskaf het. Ek volg nog ieder en elk van hul se loopbane pligsgetrou waar en wanneer ek kan. My CD-versameling probeer byhou met die ou en nuwe uitreikings van hierdie ysters.

So skaf ek onder andere heeltemal te laat vir my Koos Kombuis se “Bloedrivier” album aan. Die album skop mos af met die “Die Fokkol song” en word die liedjie toe so jaar of twee gelede half en half my langpad “anthem”. Dit het gebeur tydens 'n vorige werk waar ek gereeld die lang pad tussen Cradock en Douglas moes aandurf. Voordat die teerpad, so onlangs as Desember 2013, tussen Hopetown en Douglas geteer is, het ek die pad gereeld Prieska om aangedurf.  Vir die wat nie weet nie, tussen Britstown en Prieska is daar ongeveer 127km van eindelose niks, en tussen Prieska en Douglas 'n verdere 120km waar die niks eindeloos strek. Nodeloos om te sê smeek hierdie eensame paaie vir musiek, en meer spesifiek musiek wat net jy laaik. Dit was dan hier dat ek Koos se liedjie uit volle bors sing terwyl ek oor die Karoo vlaktes, verskoon die woord, voortfok.

Gewoonlik is mense wat aanhangers was van die Voëlvry Beweging so effens snobisties en sien dikwels neer op ander kommersiële Afrikaanse musiek. Hulle sal selfs praat van al die “common songs” in ons skoonste taal wat daagliks die lig sien. Ek kon gelukkig daardie stadium ontgroei en is nou dalk selfs miskien meer “common” as ander.  Daarom is daar 'n menigte gunstelinge uit hierdie oord wat vir my die langpad dikwels kort maak. Hoewel dit geensins 'n volledige lys is nie, sluit dit die volgende in: Kurt Darren se “Hemel op Tafelberg”, Ray Dylan se “Jessica”, verskeie van Adam Tas, Manie Jackson se “Die Hemel Weet” (Here, maar dis mooi), Steve Hofmeyr (dalk moeilik om te glo, maar my gunsteling is “Windgat De Klerk, wat by die loodgieters in George werk”), Hugo se “Deur die Straights”, Mathys Roets se “Introspeksie”, en nog vele meer.

Dan is daar natuurlik die stapelvoedsel: alles van Anton Goosen, die aardse, bobaas storieverteller David Kramer, al die alternatiewes soos Kerkorrel, Kombuis, Valiant en Piet Botha, Gert Vlok Nel met daai lied oor Koos Dup se dood wat vir my steeds een van die mooiste ballades is wat ooit in Afrikaans geskryf is, en so gaan die lys aan.  Valiant se draai by Boeremusiek saam met Ollie Viljoen het my met nuwe oë na dié genre laat kyk. Meer onlangse gunstelinge wat voor in die ry staan is Danie Niehaus se “Meesters van die Kuns”, Coenie se “Hart van Glas” met die liedjie “Op Reis” 'n spesifieke gunsteling vir die reisiger, Radio Kalahari Orkes se “Heuningland”.  Te veel om te noem.

Aan die Engelse kant is daar net soveel aansoekers wat met bykans elke reis die paal haal.  Ek is nie skaam om te erken dat country musiek reeds in my kinderjare 'n spesiale plekkie in my hart oopgesing het nie. Nou is daar veral drie ridders van die hartseersnaar wat 'n permanente plekkie in my motor het: Johnnie Cash, Kris Kristofferson met “Sunday Morning Coming Down” een van my “all time” gunstelinge, en die immergroen Willie Nelson.  Die ander “croners” is iets van alles: Leonard Cohen, Smokie, ABBA, Alphaville, Fine Young Caniballs, Tina Turner, Bonnie Tyler,  Elvis, Tom Jones,  Bruce Sprinsteen – te veel om te noem.  Ja, om vir elke reis 'n paar CD’s te kies is 'n hele ritueel en avontuur.

Soms, as ek CD’s ruil, dan vang my oor die radio en as daar mooi musiek op is luister ek eers bietjie daarna. Dit gebeur nogal veral in die middae, gewoonlik tussen Hanover en Middelburg, gewoonlik “Tjailatyd” van Amore Bekker, gewoonlik is daar allerhande verskriklike verkeersverslae op die radio met opeenhopings en moeilikheid oral. Daar is om die een of ander rede altyd stront by die Gululies-wisselaar.  Dan is ek skielik baie bly ek is nie nou daar nie. Ek weet nie eers of musiek my sou kalmeer nie.

Maar die lekkerste van 'n lang rit is dikwels om terug te keer huis toe. My hartsplek en woning is die Baai, of te wel Port Elizabeth. Die woorde van Amanda Strydom se “Rit Huis toe” kon net sowel my eie gewees het:

al die bekende name groet my langs die pad
bakens wat nog sterk staan, wat my altyd huis toe vat
Middleton, Alicedale, Somerset-Oos
Paterson, Jansenville, Kommadagga
Kinkelbos en Kirkwood, Sondagsrivier
Pearston, Colchester, Coega
Die wêreld word nou groener, ek draai my venster oop
Ek ruik die see by Aloes, sit my voet neer en laat loop
En skielik sien ek water, ek voel die Baai se wind

En dan is ek by die huis. Die musiek het my huis toe gebring.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top