Die metafoor geslaagd sentraal in Ilse van Staden se fluisterklip

  • 0

Titel: fluisterklip
Outeur: Ilse van Staden
Uitgewer: Lapa-Uitgewers, Pretoria
Bladsye: 50
ISBN: 9780799342635
Handelsprys: R100
Publikasiedatum: Julie 2008

Klik hier om fluisterklip nou te bestel by kalahari.net!

fluisterklip is Ilse van Staden se tweede digbundel, ná Watervlerk.

Die gedig "Fluistering" (34) sê waaroor die bundel gaan:

Dis juis die ding wat fluister -
dat mens nie maklik hoor nie,
dat jy jou voete skeef kan sit en struikel
oor iets ooglopend soos 'n klip
wat skynbaar niks anders is as dit nie.

Dis juis die ding.

'n Fluisterklip laat niks deurglip
harder as die hardklop van 'n klip
niks luider as die spin uit kwartsietkele
of soms 'n gles uit diamant nie.

Fluister is die sluimering vóór woorde begin
soos berge beweging is,
diép binne-in.

Buiten die onderwerp en tema wys hierdie gedig ook op die gebruik van metafoor, en veral ook 'n ars poetica.

Die meerderheid van die bundel bestaan dan uit gedigte rondom klip; en feitlik al die gedigte werk met metafore as middel tot beelding en transformasie. Soms kognitiewe, en soms emotiewe metafore.

Ek dink natuurlik die emotiewe metafoor is die mees eerlike. Maar dis 'n ander storie.

Om nog iets nuuts oor klip te skryf, is 'n onbegonne taak. Die mitologie, die Bybel, die Afrikaanse letterkunde, die wêreldletterkunde - alles is vol klippe.

Maar hierdie bundel slaag om een groot rede: die metafoor.

Dat die metafoor die waarmerk van die digter is, is vir my 'n oortuiging; en die mees geslaagde metafore is dié waarin klip en ars poetica vereenselwig word, waar die vergelykingspunte die klip en die gedig is. Ek dink óók dat elke goeie digter gedurig die kuns van die poësie moet bedink.

Daar is talle voorbeelde. Soos in "Beeldhouer" die Van Wyk Louw-klippie, wat hier nie so suksesvol soos syne is nie: "Hoe doen mens dit/ hoe kap mens fluisters uit 'n klip" (12). Die metafoor waar die klip/digter se klipasem opraak: "My keel stort soos 'n grot ineen./ iewers lê 'n woord verstaan" ("Snak", 17). Die orator met 'n klippie in die mond vir die hakkel wat "... die klanke klip-klip uit kan spel" ("Raad vir hakkel", 21).

Maar daar is ook later in die bundel tog 'n bietjie hoop vir die poëtiese woord:

Klippe is nie vir ewig nie,
...
Klippe se hande is hulpeloos
swaar in die aarde vasgeknel,
selfs rots en berge bly nie bestand
teen die beitelende woord nie,
en stilte is onvoldoende verweer -
mettertyd moet klippe
ook maar verbrokkel.
(Uit "Verweer", 32)

'n Verder onoplosbare paradoks: al kan woorde nie sê nie, kan klippe ook nie fluister nie ("Belydenis", 41). Maar die klip fluister wel, dus kan die woord dan ook.

Sovéél klippe, sovéél ars poeticae, sovéél metafore. Pogings om te transformeer. Maar dit word tog later te veel, voorspelbaar-kognitief ("Op eie risiko", 39); en soms "dooie" metafore soos die skip. Breyten het al daaroor gewonder: "as die lewe 'n skip is is die dood daardie kiel/ wat die lomp vaartuig houvas gee in die see van bedwelming ... dit klonk mooi, maar gee/ die mengelmetafoor mee? ..." En ons raak ook al moeg vir die motief van die reis. Ons sal tog nooit daar uitkom nie?

Maar dis nie groot kritiek nie, want dit is 'n bundel wat baie sê - omdat die metafore meestal werklikhede nader kan bring.

Waarvan ek ook gehou het, is dat die metafoor van die klip mens verder laat dink - aan ander klippe. Die mitologie: Sisyphus se springende, rollende klip elke keer die berg af. Die Bybel: "Verskrikking en vrees ... deur die grootheid van u arm was hulle stom soos 'n klip ..."; "... Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel?"; "... Wee hom wat vir 'n stuk hout sê: word wakker! vir 'n dooie klip: Ontwaak! ..."; "... En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep."

Ons kan luister hoe die bestes van Ilse van Staden se klippe fluister!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top