Die laaste rit

  • 0

Toe die foon om 7:20 die Maandagoggend lui weet ek ... My skoonsus laat weet ons moet kom, tyd om vir Ma te groet. Dis hier waar my reis begin. Ek gryp verskillende koffers met emosies en laai dit in. Hulle is so swaar en ek sleepdra hulle. My man bestuur en dit help my, want nou het ek tyd om al die koffers se inhoud te orden.

Die eerste stopstraat en my hart wil sommer stop. Hoe laat ek haar gaan? Hoe groet ek haar? Sien, my bargaining met God het vroeg al begin toe ek gevra het sy moet asseblief bly tot ek klaar met skool is. Na skool besef ek, ek kan nog nie sonder haar wees nie en vra uitstel tot ek ’n man het wat na my kan kyk. Ek kry toe ‘n buitengewone, amazing man, maar gats, hy kan nie my ma vervang nie. Wel, weer vra ek klein bietjie uitstel net tot ek kinders het, self ‘n ma is, dan behoort ek oukei te wees.

Die realiteit is toe dat mens ‘n ma dan meer nodig het en ek vra of ek die laaste maal uitstel kan kry net tot hulle tieners is. Alles sal dan reg wees, ek sal al goed wees met die ma-ding. Noudat sy moet gaan vra ek: “Maar Here, het ons nie die ding deurgepraat nie? Hulle is nog nie tieners nie?” Hy glimlag met deernis en vou my toe in Sy arms en sê: “My liefste kind, jy’t gepraat en ek het geluister, maar wanneer sou dan die regte tyd wees? Jy sal haar nooit laat gaan sou dit jy wees wat die tyd bepaal. Daarom het Ek die tyd bepaal, en die tyd is nou.” Ek weet Hy’s reg, alhoewel ek dink dat ‘n kind ‘n ma lewenslank behoort te hê.

Ek wonder by myself of mens kan aanhou lewe as jou ma dood is; ek wonder of ek nog sal kan asem kry wanneer hare stop. Dit kan tog nie moontlik wees nie. Dis my ma, ek is deel van haar. Ek wil sommer net uit die motor vlug. Ek voel benoud, kortasem … en ja baie, baie bang.

Ons ry in Lynnwoodweg verby ‘n bekende wolwinkel en ek sien haar voor my, altyd besig, haar hande nooit vir ‘n oomblik stil nie. Hekel sy nie slaapkouse nie, is sy aan die brei; kombersies vir die kleinkinders. Met wie gaan ek nou my vrese deel, by wie gaan ek nou huil as ek sommer net moedeloos voel met die groot kry van my kinders? Net sy het verstaan, sy het my geken, geweet hoe om my weer moed in te praat. Haar eie jong-mamma vrese met my gedeel.

Verby ‘n kerk en ek onthou hoe ek Sondae in die kerk styf teen haar gesit het. Sy het altyd ekstra sneesdoekies saamgeneem en vir my gegee om mee te speel. Dit kon nie raas nie. Sjoe, sy was een van daardie praktiese planmakers. By ‘n kwekery verby en daar is sy, wat altyd so lief was vir haar tuin. Bruin gebrand en gedurig aan die werskaf met haar plante. Gepraat met die plante, my altyd verseker dat plante weet as hulle nie aandag of liefde kry nie. God se aarde met alles op het sy lief gehad, onvoorwaardelik. Vergeet nie van die tuinvoëls wat oorskiet broodjies en vrugte gekry het nie. Haar voëltjies in die tuin het selfs later in karnivore verander. Sal nie vergeet die dag toe ek met skok verneem hulle eet ook nou vleis en sy was hoogs in haar noppies daarmee.

Die ouetehuis op linkerkant herinner my aan haar liefde vir oumense. Sy kon hulle nie weerstaan nie en het altyd tyd gehad vir hulle midde in haar jare van kinders grootmaak en skoolkar ry. Hierdie liefde het ek oorgeërf by haar ek ken dus die passie en die liefde waarmee sy dit gedoen het. Sy het dit gedoen so lank sy kon en toe word sy ook een …’n oumens.

Te vinnig doem die groot hospitaal voor ons op. Ek kyk anderpad, die plek laat my nou voel dis die einde van ‘n reis en die vrees kom sit in my binneste. Ek kry haar reuk as sy my saans in die bed kom sit. Dis Oil of Olay se nagroom wat ek ruik terwyl sy vir my Bybel lees en my gebedjie laat opsê het. My man sit sy hand op my been en sê: “Sterkte my lief, ek is daar vir jou.”

Traag en so oneindig moedeloos stap ek na die ingang van die hospitaal en onthou haar omgee en hulp aan ander. Soveel keer as jong kind het ek saam met haar pasiënte in hospitale besoek, ‘n bord kos vir ‘n siek mensie geneem, fondse ingesamel vir Kansa. Die hospitaalreuk maak my naarheid feller, soveel mense elkeen met redes waarom hulle nou hier is. Die selfvoldane pappa wat van voor af kom met die glimlag en te klein hemp vir sy breë borskas, herinner my aan die ironie. Ek gaan groet; hy verwelkom. Die toekoms is vir my piknagdonker; vir hom skyn die son helder. My hande moet streel en laat gaan, syne streel en hark nader.

Ek stap die kamer binne, sien haar en weet, daar is vir haar ‘n beter plek as hier. Sy moet gaan dat sy in volkome gesondheid en in oorwinning saam met God kan leef en ek laat haar gaan … Laat haar gaan, want haar reis op aarde is voltooi, sy het gedoen wat sy moes doen, bereik wat sy moes en al haar drome verwesenlik.

Vir my het die reis nog pas begin. Is ek bang? Baie. Is ek moedig? Effens. Gaan ek dit maak? Ek is tot alles in staat deur Christus Jesus wat my die krag gee, dus ja, ek gaan dit maak. Klein treë vir klein treë en met my hand styf in Syne, want op geen ander manier sien ek kans vir hierdie reis van my nie. My moeilikste een nog.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top