Die koringkalkoen

  • 0

Die koringkalkoen
(Hoe ek dit onthou)

My pa was ’n saaiboer. Hy het altyd gespot en gesê hy is maar ’n klein boertjie; het net 100 morg om te bewerk sodat hy sy elf kinders deur die skool kan kry. Hy het van die swakste grond gehad op die besproeiingskema, naamlik Sterkrivier. Hy wou ook nie beurse van die staat af aanvaar nie. Tyd vir grappies was daar maar min. Ons het vakansies saam met die werkers op die lande gewerk.

Hy het een dag gaan koring sny. Ek weet nie watter kinders het gaan help nie. Ek was nog klein, dink ek.

Die snymasjien was agter die trekker gehaak. Dié masjien het die koring gesny en dit in gerwe gebind. Kort-kort het hy omgekyk of alles daar agter nog reg verloop. Hy was vreeslik bang dat een van ons kan seerkry by die skerp lemme van die snymasjien.

Op ’n stadium klim hy van die trekker af om te gaan kyk of alles nog reg is daar agter by die gerwe.

Hy sien toe iets baie snaaks: die een koringgerf het twee ogies wat vir hom loer, ’n rooi lel aan sy keel, vere en twee beentjies wat onder uitsteek.

Toe hy naderkom, sien hy dis ’n kalkoen wat tussen die koring-are vir hom loer. Sy het in die koringland gesit en broei en die snymasjien het jou wrintie-waar haar pootjies afgesny, en haar saam met die koring in ’n gerf gebind!

Die twee pootjies het naby die nes met die twee eiers gelê.

Almal het lekker gelag toe hulle die storie hoor. Ek het gehuil oor die kalkoen haar pootjies verloor het.

Daardie aand was daar gaar kalkoen saam met die pap op die etenstafel.

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top