Die kerkraad slaan gat om

  • 0

Die enigste geluid wat op hierdie Saterdag op die stowwerige Knoppieslaagte hoorbaar is, is die gezoem van besies. Hitte maak walms op die pad en warrelwinde stuif op in die blou droë Karoo-lug. Dis ’n dorre dag. Nie eers ’n  beduidenis van ’n luggie nie.

Oom Koos van Rensburg sit in sy blou Ford Fairlane onder die enigste stukkie koelte, nie te ver van die konsistorie af nie waar die kerkraadsvergadering om drie-uur moet begin. Hy het maar vandag vroeg  ingekom dorp toe. Sy voerkamer is leeg. Die veld is kaal. Die Dorpers is uitgeteer en die ooie gooi hul lammers weg. Geen wonder nie dat die aasvoëls kringe in die lug draai.

En dan vanmiddag se vergadering. Oom Koos, al jare lank leierouderling, het by ta’ Hetta gemor oor die stuitlikheid wat besig is om kop uit te steek in die gemeente.

“Ek staan alleen, Hetta, die broers kerkraad gee boedel oor! Die wêreld is verkeerd. Slaat gat om!”

“Pakkiebol, bedaar tog maar,” probeer ta’ Hetta bemoedig. “Dit help nie om jou so te ontstel nie. Jy kon nog altyd jou woord doen.”

“Maar, Tolla, jy verstaan nie! Hoe gaan die gesag van die kerkraad bly staan voor al die nuwighede? Ek sê jou, ons word die spotvoëls van die gemeente!” blaas hy verontwaardig.

Een vir een kom die broers nader. Gestewel en gespoor. Swartpakke. Gedas en gehoed.  Dan sien oom Koos vir Hendrik Lerm, die jong boer van De Hoop. Ja, dink oom Koos, die kêreltjie boer vooruit. Nogal ’n goeie senter en glad kaptein van die dorp se eerstespan. Maar dat hulle hom leierdiaken gemaak het, kan oom Koos nie kleinkry nie. Die mannetjie is nog te nat agter die ore en praat te veel.

“Middag, oom Koos. Ons swart klere is nie juis koel nie, nè Oom” lok Hendrik oom Koos uit. Die broers kerkraad weet al die twee sit nie om een vuur nie.

“Daar is nog steeds iets soos respek, kêrel” kap oom Koos terug.

“G’n mens kan dit hou nie, Oom. Dominee moet wraggies nie vandag dinge lastig maak nie. Ons wil gaan luister hoe Spiekeries die All Blacks gaan opwiks!” gaan Hendrik ongestoord voort.
Uiteindelik is almal in die konsistorie. Stug kyk die vorige leraars uit die swart portretrame op die broers af. Stoere voorbeelde van ingetoënheid en vroomheid.

Oom Koos kyk dominee Koster, ’n jong man vars uit die kweekskool, stip in die oog, asof hy hom wil aanmaan. Sal die predikantjie ooit vandag die mas opkom en doen wat hy moet doen, wonder oom Koos.

“Middag, Broers. Dis warm en droog, maar tog dankie dat u vanmiddag hier is. Ons het ’n paar belangrike sake, soos dit ook op die sakelys aangedui is, te bespreek. Oom Koos, sal Oom vir ons die vergadering open, asseblief?” begin dominee Koster die verrigtinge.

Uiteindelik is die broers by die hoofitem op die sakelys. Die verslae van die kommissies is aanvaar, weliswaar na ’n geknibbel oor die loonverhoging vir die kerkpersoneel.

Soos te verwagte is oom Koos eerste aan die word. Sy traagheid vir verandering is by almal bekend. ’n Mens kan ’n speld hoor val.

“Broer Voorsitter,” sê hy afgemete. “Ons is hier om leiding oor kerksake te gee. Deur die jare het die Kerkraad staande gebly teen baie versoekings. Maar stadig maar seker het die nuwerwetse gebruike, die Humanisme en die Liberalisme ook hier op Knoppieslaagte begin kopuitsteek. Ons het toegegee aan die kelkies by Nagmaal. Maar waaragtig, as ons vandag hier gaan ingee oor ons manelle, is die dood in die pot. Dan wyk ons af van ons kerklike en Hervormingstradisies. Vergeet ons dan hoe Martin Luther en Johannes Calvyn ons voorgegaan het! Hoe, wil ek weet, gaan ons nog tug toepas onder die afvalliges as ons self afvallig word? Watse voorbeeld stel ons? Waarom moet ons by die liberale stadsgemeentes inval?”

“Broer Koos” kom dominee op die been. “Gesag sit nie in die klere nie. Ons verdien dit deur ons optrede.”

“Ons optrede?” ontplof oom Koos. “Hoe tree ons op met gesag as ons nie in die Woord geklee is nie. Ons boer agteruit! As ons nie meer ons manelle dra nie, kan ek nie, sal ek nie meer deel van dié spul wees nie.”

 “Broer oom Koos,” probeer Hendrik paai. “Ons leef tog in genade met mekaar. Ons word mos nie anders sonder ons manelle nie. Manelle word bloot vervang deur ewe gewyde swart pakke. Selfs die wit das word behou. Die kerkraad is mos steeds die kerkraad.” Oom Koos beur orent. Bloedrooi in sy gesig.

“Hier bly ek nie langer nie!” Hy storm uit en slaan die konsistoriedeur met mag en mening toe en haas hom na die Fairlane, heeltemal verneder.

’n Verligte stilte daal neer in die konsistorie.

Dit word laat en ta’ Hetta word onrustig. Die vergadering is mos darem seker al verby. Waar bly Koos, dink sy. ’n Gesteun lok haar na die buitegeboue. Daar vind ta’ Hetta hom agter die waenhuis, graaf in die hand.

“Tolla, die hele ou spul het my verraai. Ek kan nie meer nie!” sug hy.

“En nou die graaf en die grond, Pakkiebol?”  Ta Hetta is doodsbleek en verstom.

“Ek het hom begraaf, Tolla – die manel is in sy graf!” beur oom Koos orent en gryp ta’ Hetta aan die arm. Saam loop hulle die huis binne.

Na ’n stil en stroewe aandete sit die twee oues op die stoep. Die maan skyn bleek. Geen wolk te sien nie. Net die helder sterre. Oom Koos sug diep en kyk smagtend na bo.

“Wat pla, Pakkiebol? Ons is mos by mekaar!” troos ta’ Hetta.

“Jy’s reg, Tolla. Maar die hemel is vanaand so ver!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top