"Die hond mis jou" deur Francois Bloemhof

  • 0

Die hond mis jou

Liefde, Epol – alles help niks.
Die hond mis jou iets verskrikliks.
Hy mis jou meer en meer.
Sy honne-hart is seer.
Hy mis jou en hy mis jou
en dan mis hy jou maar weer.
Hy slaap nie en hy eet niks.
Die hond mis jou ... iets verskrikliks.

Hy tjank die meeste in ons kamer.
Ek kry daai dier so deksels jammer.

KOOR:

Hy het vir jou sy hart gegee,
’n geskenk so onverdiend.
En jy? So sonder aandag
vir ’n vrou se beste vriend.
Hy mis jou-oooooouuuuuuuuuuu
Hy mis jou-ooooooooouuuuuuuuuuuuuu

 

PRAATSTEM:

En ek weet hy onthou hoe jy sy kop gevryf het,
jy wat sulke sagte hande aan jou sagte lyf het.
En die stappies – van die stoep af
hoor ek jou lag, sien ek hom draf ...
Wat van “beter of slegter”? Wat het gebeur?
Net ’n liefhê-en-trou, en daar was jy uit by die deur.

Liefde, Epol – alles help niks.
Die hond mis jou iets verskrikliks.
Hy soek jou oraloor.
Hy het jou spoor verloor.
Hy mis jou en hy mis jou
en dan mis hy jou van voor.
Hy slaap nie en hy eet niks.
Die hond mis jou ... iets verskrikliks.

Hy snuif die stoel waar jy gesit het,
die stoel waar hy jou so aanbid het.

KOOR:

Hy het vir jou sy hart gegee,
’n geskenk so onverdiend.
En jy? So sonder aandag
vir ’n vrou se beste vriend.
Hy mis jou-oooooouuuuuuuuuuu
Hy mis jou-ooooooooouuuuuuuuuuuuuu

 

PRAATSTEM:

Nee, ék’s orraait, dis nie waaroor dit gaan nie.
Ek maak maar net of jy glad nie bestaan nie.
So los die hallo’s – vergeet ek’s hier,
vergeet van my, onthou net ons dier ...
Maar “vir ewig en altyd” – wat is dit werd?
Net ’n vinnige blaf, verby in die piets van ’n stert.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top