Die heilige verhaal van die boom van die lewe - die self-geskapene

  • 0

Sanibonani!

Daar was geen sterre nie - geen son,
Nie eens 'n maan of aarde nie -
Daar was niks behalwe duisternis self -
'n Donkerte oral om.
Niks behalwe niet het bestaan,
'n Leegheid sonder warm of koud,
Dood of lewend -
'n Niksheid veel erger as niks
En vreesaanjaend in die uiterste niet daarvan.

Hoe lank die Niksheid bestaan het,
Sal geeneen ooit weet nie;
En hoekom daar niks behalwe die Niksheid self was nie
Moet ons nooit probeer verstaan nie.

Die Niksheid het gesweef
En niemand weet hoe lank nie,
Op die onsigbare waters van Tyd -
Daardie magtige Rivier
Sonder fontein of monding,
Wat was -
Wat is
En ewig sal wees.

Tot een dag-
Of is dit reg om te seg "een dag"? -
Reik die Rivier van Tyd in vurige verlange na die Niksheid
Soos 'n vlees-en-bloed ondier in sy manlikheid
Sy vroulike maat begeer.
En uit hierdie vreemde verbintenis
Tussen Tyd en Niksheid,
Is daar 'n baie klein en byna onsigbare vonkie
Van lewende Vuur gebore.

Hierdie klein, nietige Vuurvonkie kon dink
En het bewus geraak van sy eensaamheid;
Niemand en niks kon sy roep hoor nie
In die eensame dieptes van die Uiterste Niet -
Soos 'n troostelose baba,
Verlore in wanhoop,
In 'n koue donker woud.

"Ek bestaan - ek is, wat is ek!"
Was die lewende gedagte wat deur die 'hartjie' van die klein vonkie
Geklop het wyl dit wild deur die duister geskiet het
In 'n poging om te vlug waarvandaan daar geen ontsnapping kan wees nie -
'n Poging om die lewelose te ontduik,
Die leegheid, donkerte en Uiterste Niet,
Dit was soos 'n klein vuurvliegie verlore
In 'n donker grot diep in 'n berg
Vanwaar dit nooit kan ontsnap nie.

"Ek moet groei of my lewe beëindig,"
Het die vonkie na 'n lang ruk, en ten einde laaste gedink;
"As die Niksheid my wil verswelg
In my huidige mate en bestaan,
Dan moet ek groot word
Totdat ek gelyk is aan die Niksheid!"

Daar was niks vir die vonk om mee gevoed te word en te groei nie,
Daarom het dit op dit self begin teer
En dit het gegroei totdat sy moeder Niksheid
Bewus begin raak het van sy onwelkome teenwoordigheid
En sy besluit het om dit te vernietig.

Niksheid het eers probeer
Om dit in Duister te versmoor
Die vyand van Lig,
Maar die vonk het dit in helderheid weerstaan - en nog helderder geskyn.
Toe spreek Niksheid 'n vloek van koue oor die vonk;
Koue - 'n dodelike vyand van hitte,
Maar dit laat die vonk net
Warmer word en nog meer hitte bygroei.

Die Lewende Vonk het gegroei, en gegroei totdat
Dit uiteindelik gelyk aan Niksheid geword het
En om volhoubaar te wees - aangehou om te groei,
Dit het sy moeder Niksheid verslind
En haar verteer
In 'n verskriklike ligstraal
Wat geeneen of iets ooit die geleentheid had, of ooit sal hê om te aanskou.
"Ek is wat Ek is," het dit gespog.

Maar die Rivier van Tyd was woedend vir die vonk oor sy daad
En het dadelik die Gees van Koue gestuur om die vonk te beveg.
'n Magtige oorlog het ontstaan waarin die vonk,
Wat op daardie stadium 'n Kosmiese brullende Vlam was
En die ganse hemelruim met ontelbare stygende tonge gevul het,
In sy verdediging probeer het om die Koue Gees te smelt en om dit totaal te verteer.
Wyl Koue sy ysige Gees,
Sy Koue nat asem in die Vlam blaas;
Dit uiteindelik net 'n deeltjie van die Vlam
In koue wit as verander het.

En hierdie verwoede stryd, wat so lank gelede begin het,
Woed vandag steeds onverpoos voort, en sal voortwoed
Totdat Tyd eendag opdroog.
En al die Wyse Manne van die stamme is dit eens
Dat sou die Vlam eendag wen,
Alles wat bestaan sal vergaan
In een verterende Vuur,
En sou die Gees van Koue oorwin
Alle lewende dinge sal verkluim!

Mag die Groot Gees, onse HERE, die Almagtige
En Absolute Hoof van alles
Gee dat nie die Vlam of die Koue
Ooit die oorlog sal wen nie.
Want wie ookal die ander oorwin -
Sal die son, die maan, die aarde en sterre
En alles wat lewe sal ophou om te bestaan!
Mag beide vyandiges voort veg tot in die ewige Tyd,
Want aan hul onophoudelike konflik
Hang alle Lewe.

(vervolg)
My vertaling in nederige erkenning aan Vusamazulu Credo Mutwa (en elke ander Afrikahart) uit Indaba, My Children - Book One "the bud slowly opens" - The sacred story of the Tree of Life, the Self-Created. 
Afrikaliefde,
Cornelius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top