
Foto: Unsplash.com
Die geheim van luiperd wees
Die geheim van luiperd wees,
is die eensaam wees
sien
sonder selfblootstelling
jag
sonder maat
wreed wees
die geheim van luiperd wees
is sonder vaste maat wees
om elke nag te soek –
blinkoog turend;
natneus soekend
teen die aandlug
die onrus se nabyheid te besef;
dit sluipend agterna te draf,
hurkend daarop te wag
die geheim van luiperd wees
is dus die eensaam wees;
die altyd op wag wees
met die onrus altyd bekruipend
in die gees


Kommentaar
Briljant!
Skerp.
Fyn.
Adembenemend ...
Ek dink dis absoluut briljant geskryf, Ferdi.
Baie dankie, Lizzie en Mich.
Treffend, ja, maar sekerlik moet Rilke se "Der Panther" (1901, uit Neue Gedichten/Nuwe verse), hiermee saam gelees word, tog? Ter aller verryking, Rilke en Wheeler?
Op 11 September 2019 het hier, in presies hierdie forum, ook 'n verruklike vers van Jacobus Swart verskyn oor die baie selde waargenome, en uiters skaars, bedreigde sneeuluiperd - waaroor toe kort tevore tog 'n adembenemende video op YouTube verskyn het (al hierdie verse seker nakomelinge ook, weens die onderwerp en die gegote syn in die Afrikaanse taal, van Van Wyk Louw se "Die swart luiperd", van 1942).
_______
Der Panther
Im Jardin des Plantes, Parys
Sein Blick ist vom Vorübergehn der Stäbe
so müd geworden, daß er nichts mehr hält.
Ihm ist, als ob es tausend Stäbe gäbe
und hinter tausend Stäben keine Welt.
Der weiche Gang geschmeidig starker Schritte,
der sich im allerkleinsten Kreise dreht,
ist wie ein Tanz von Kraft um eine Mitte,
in der betäubt ein großer Wille steht.
Nur manchmal schiebt der Vorhang der Pupille
sich lautlos auf –. Dann geht ein Bild hinein,
geht durch der Glieder angespannte Stille –
und hört im Herzen auf zu sein.
Rainer Maria Rilke
____________________
Die Luiperd
in die Botaniese Tuin (Parys)
Sy staar is van verbyswiep van die tralies
nou so moeg, dit kan niks meer hou.
Dit voel na duisend tralies daar
en agter duisend tralies geen wêreld meer.
Sy sagte soepel gang so sterk getree
wat steeds in allerkleinste kring daar draai
is soos 'n dans met krag alom 'n sentrum,
waarin verdoof 'n groter wil stilstaan.
Net soms verskuif die voorhang voor sy oë
klankloos op - en vang 'n beeld daar vas,
gaan deur sy liggaamsdele in gespanne stilte -
en stol dan in die hart tot niks.
(vertaling van Rilke, Helize van Vuuren, 13 April 2022)
__________
(die vorm van die vers hieronder ongelukkig verwring weens die "sny-en-plak" metode - jammer!)
______
die sneeuluiperd
Jacobus Swart
vir Heleen Louw
ore platgetrek
hurkend teen dungeskilde lig
afgerol tot in die doopbekken
in die stilte wat jou vooruitgaan
die omkluisterde voetkussing op die klip
’n bergbok
die stolpunt
in die bleekgroen lawaglas van jou oog
langs die loodregte krans
’n vallende gnomon
berghang en bok
’n verbrokkelende ruitverwysing
ná die afgrond
die goue ratio van jou luiperdlyf
’n gestrekte boog
kwasbegrepe deur die onverskrokke stert
’n halwe Rorschach agter sy gesperde voorklou
bo en onderkaak versoen
in die jong ooi se ontblote keel
die deurbyt van slagtande
gutturaal
in maagdelike stilte
onder die aanraking van ’n vingerpunt
met asem en bloed
die grotwand tot lewe versteur
******
Dis 'n uitstekende beskrywing van hoe die luiperd sy "magsvertoon" in die natuur te wys. Goed gedoen.
Dankie Helize, vir die liggie wat jy skyn op die luiperd in die poësie.
Graag gedaan, Freddie - jou gedig gee aanleiding tot die woordestroom (kon myself nie help nie)
"Luiperdgedig" van Marlene van Niekerk (2013 KAAR, p.63), hoort by die lys
Luiperdgedig
Soos uit ’n kaf hang skigte lig
die kloof nog vol – dan
word dit onleesbaar stil, suikerkanne,
riet, die ingehoue val van vo lgeroep
asof iemand peins oor ’n gedig.
Die herbegin is tentatief, ’n tingel-
tangel krieke, vuurvlieg, ster-
getwinkel, forte maankristal
die pieke, kranse, berg.
Plots, ondenkbaar uit stram varre,
die skuur en sprong van iets
wat blitssnel romp en flank ontkelder,
’n bok se kreet wat een maal helder,
in strofes van die nag versterf.
By Van Niekerk kom nog 'n dier-in-die-nag, Ted Hughes se "The Thought Fox"
https://poetryarchive.org/poem/thought-fox/
Dier en digterlike inspirasie...
Baie besonderse gedig met raak beelde.
Baie goed gedoen! Die siel van die luiperd.