I
Ek wonder of dié dag my iets gaan leer van jou skielike afsterwe,
jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie. Jy brand elke nag
die maan met jou lyf wanneer jy kaal onder vrugbare grond
weer deel word van die aarde. Jy proe elke wurm sag deur jou
lyf. Ag, hoe kan ek ontsnap uit die woorde wanneer ek nie eens
weet wie of wat jy is nie, jy vir wie ek skryf, ses voet onder?
II
Geen mens het jou weer gesien nadat ek jou in die gedig
begrawe het nie. Ek hoor jou aan die kis van woorde krap.
Jy proe aan wurms in jou mond soos die wurms hap na hap
die vrekte vier. Vraatsugtig byt jy nog aan grond asof
jy nooit genoeg daarvan sal kry nie. Eendag op ’n reëndag
sal ek met geen vermoede van ontmoeting op jou graf trap en ril.
III
Wanneer al die slaap van “vir ewig” verbygaan, sal
ek en jy – daar onder – die sjampanjebottels uit die kaste
van die ewigheid haal en drink op dit wat ons nooit geken
het nie. Ons sal mekaar vier en dink: As ons net vroeër
in hierdie vreemde vorm van beyond body was, sou
ons -aan- geloop het soos verliefdes hand-aan-hand.
IV
Ek hou my skuil in jou geraamte-arm se kuil; die
benerigheid van vergaan is aanvanklik hard, maar raak
al sagter soos die jare kom en gaan. Die warm water filtreer
deur muwwe grond. Wat sal die mense sê as hulle ons
saam daar onder in die kis langs mekaar sien lê? “Is ’n kis nie
’n baie private ding nie?” Ag, om ewighede aan jou te ruik!
V
Ek onthou die eerste keer toe ek binne ’n donker kelder gestaan
het. Daarna wou ek nooit weer teruggaan na die kelder nie.
Die eerste keer het ek kennis gemaak met die donker. Ek het nooit
weer teruggegaan nie. Ek droom meestal dat ek nie wil doodgaan nie.
Die kis klap toe en ek haal nog asem. Ek krap met pen teen die kis
se klap. Jare later vind julle die gedig: Jul’t van my vergeet.
VI
Ag, hoe goed om eindelik te ontmoet. Jy het ook asemgehaal
soos duisende ander. Jy het ook gestink en eindelik opgehou met stink.
Jy het lank in die grond baljaar. Gespeel in ’n sandput – kastele gebou.
Nou klim jy agter my in soos wanneer ons saam sou bad. Onthou jy?
Maar jy kan nie onthou nie. Ek het jou nooit ontmoet nie. Ek het jou
verbeel; ek het elkeen van julle verbeel en die woorde het reeds ontbind.

