Die aankondiging van die ontdekking dat mutasies van die FOXP2-geen verantwoordelik is vir spraakgebreke by die familie, wat in die mediese literatuur bekend gestaan het as die KE-familie, het ʼn hewige debat ontketen. As dit ʼn geen is wat verantwoordelik is vir die taalvermoë by die mens, dan los dit sommer baie probleme op. Genetici kan dan op die spoor daarvan teruggaan, en teoreties presies bepaal waar taal sy ontstaan het in die evolusie van die mens. Hoe taal daarvandaan ontwikkel het, kan dan ook nagespoor word. Sommige linguiste wat gemeen het dat taal eensklaps met ʼn “big bang” begin het, het dit sommer aanvaar as ʼn bewys. Dit sou ook bewys het hoe uniek die mens is, veral as hierdie geen net by mense voorgekom het. (Die sjimpansee het ook ʼn FOXP2-geen, maar die aminosure verskil van die mens.) In 1990 het die linguis Derek Bickerton voorgestel dat taal begin het met ʼn enkele genetiese mutasie.
Hy is egter hewig teengestaan deur evolusionêre bioloë, en sedertdien het die idee van ʼn sogenaamde grammatika-geen vervaag. Die rede hiervoor is omdat hierdie hipotese gebaseer was op die siening dat gene atomistiese boublokke is en dat die genoom die bloudruk is vir ʼn organisme. Die FOXP-geen het nie alleenlik te make met die vorming van spraakorgane nie, maar het verskeie ander funksies ook. Dit kom voor by die vorming van verskeie liggaamlike organe, insluitende die brein, waar dit betrokke is by die ontwikkeling van motoriese kontrole. Verdere studies het bewys dat spraakgebrek veroorsaak word deur mutasies van ander gene ook.
Tog was die ontdekking van die FOXP2-geen belangrik vir taal in dié opsig dat dit nie net voorgekom het as net ʼn geen wat normale taalontwikkeling beheer nie, en dat ʼn mutasie daarvan dit strem in dié sin dat as ʼn mens se mond bv nie reg gevorm is nie, jy nie sal kan praat nie. Linguiste het begin navorsing doen hieroor, met die hulp van genetici, en opnuut is daar gekyk hoe diere met mekaar kommunikeer. By diere is ʼn soortgelyke geen gevind, en om onderskeid te tref, is dit die FoxP2-geen genoem. Die FoxP2-geen by voëls stem 98% ooreen met dié van die mens. Deur navorsing is gevind dat die FoxP2-geen sekere dele van die voëlbrein vergroot gedurende die ontwikkelingstadium wanneer die voël leer om te sing. Tussen mens en muis vertoon die geen nog groter ooreenkomste. Muise met net een so ʼn geen in plek van twee se vokalisering is gebrekkig, die kleintjies kan bv nie ultrasoniese geluide maak wat hulle in verbinding hou met ma-muis nie.
Alhoewel taalvermoë dus nie bevat is in die gene nie, en daardeur gegenereer word nie, is die FOXP2-geen ʼn duidelike bewys dat ons sekere gene nodig het vir gestruktureerde kommunikasie, en taal is ʼn groot deel daarvan.
Angus


Kommentaar
Ag kom nou Angus
Jy weet net so goed soos ek dat Adam met god en Eva met die slang gepraat het. Hulle is met die vermoë om te kan praat geskape - soos jy altyd sê met tieties de lot!
Thomas
Heel interessant
Beste Thomas,
Interessanter nog, die slang het met Eva gepraat, heel waarskynlik, soos AG Visser beweer, "in Hoog-Galdees en Aramees, want almal moes tweetalig wees."
En dan was daar nog bome ook met spraakorgane. Die boom van kennis het seker "օգնություն, օգնություն!" geskree toe sy vrugte gepluk is.
Groete,
Angus