Die einde

  • 0

Man, maar ek was altyd ’n vreeslike busybody. Kerk, bak, naaldwerk. Al daai kak.

Nou sit ek soos ’n uil op ’n kluit en laat my herinneringe aan my kinderdae uitsypel.

Maar as ek ’n uil is, is ek een van daai waslappiegoed waarmee kleintjies bad – ’n uitgeknipte pienk of pers uiltjie met sponserige oë. Ek hoe-hoe nie, ek spoeg en suig. Ek onthou totdat ek in ‘n plas herinnering sit. Dan slurp ek die plas op. En môre onthou ek weer. 

Hier volg ’n lysie van herkoude oomblikke en voos-onthoude artefakte:

Die bus stad toe, toe dit so vreeslik gereën het daai een Maandag.

Gewyde sang op die skoolsaal se koue vloer.

Die plaas.

Die laaste keer toe ek saam met Samuel gebad het.

My ma se blou top met die rooi randjies.

My skoolskoene toe ek tien was.

Die sjokolade wat ek oorgehou het van my partytjie die jaar toe Marie Viviers van langsaan gekom het.

Een van die kleinkinders bring nou die dag ’n potlood hier aan wat rooi, blou, geel, pimpel en pers als in een is. Dan skryf ’n mens nou in ’n reënboog, jy weet. Foefierig.

Ek dag ek behoort teen dié tyd al te beskik oor ’n harder sin vir sentimentaliteit. Iets wat minder van ’n pap gemors en meer afgemete is; iets soos ’n harde skerpsinnigheid. Maar, daai potlood: dis hoe ek voel. Alles kom so aaneen uit: blou word groen, groen word geel, geel oranje. Ek kry nie blaaskans nie.

Weet jy, ek kan dit vergelyk met bed-deel, as die potlood-ding nie sin maak nie. Jy droom van jou oupa se plaas en die wilgerboom en dan is die hand op jou bobeen – wel, niks se gemetafoor nie, dis maar net ’n hand op jou bobeen. Die hand is ’n gas in jou drome en die hand se teenwoordigheid begin op jou bobeen en diffundeer totdat jou hele lyf wéét van die hand. En dan, skielik, waai die wilgerboom met growwe palms en naels wat geknip moet word. En jy loop agteruit op jou oupa se plaas in die hond vas en sy tong is nat in jou lieste. En daar’s ’n arm oor jou lyf en ’n maag agter teen jou rug. En dít is oogsklaps die sagte, warm gekliek van die Zulu wat jou oupa jou nooit geleer nie. Jy is toegespin in ’n kombers van gehekelde klieke, maar dan hoor jy iemand anders se pols in jou ore en die kombers kry lewe. Die kombers is warm en klewerig teen jou vel – presies nes jou eie. Jy weet nie waar jou eie vel begin of eindig nie. Jy weet nie of jy kom of gaan nie.

Hier volg ’n lysie van woorde waarmee ek my herinneringe aan my kinderdae sou beskryf het, as ek met iemand daaroor sou praat:

Opiaties.

Poespas.

Alles-oorweldigend.

Lees ’n onderhoud met Henali Kuit hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top