die drie vissies van saeed

  • 0

in die see onthou ons ou dinge
en swem met oop oë tussen die
koppe wier
brandvelle onder die son gespan
met vroue en vriende en kinders
uit die rugsak kom kos
’n digte vrugtekoek ontmoet ’n lem
waatlemoen, neute, soet rooibostee
ek probeer onthou of ek gelukkig is
wanneer ek glimlag en lag
en dobber in die deining
“die harders loop!” roep die vissermanne daarnaby
hulle hardloop, stoot die bootjie die golwe in, gooi net
later gesels ek waar hulle inryg, afwas en skoonmaak
die vissies is presies ewe groot
en hulle stink satyn kos
ons is al heeldag hier by smitswinkelbaai
ek verbeel my ek’s jan rabie
’n bobbejaan blaf waar die blou die berg looi
ons gooi bal en vang bal en slaan bal
en onthou en huil binne-in
en die kinders se oë baljaar van die lewe
kleingeknip en blou gepik
saeed kom aangestap
met ’n rooster waarop drie vissies gaar is
klaar gesout, dis verniet, sê hy
ons almal staan om die vissies
en eet met ons vingers tot daar net
grate en koppe en sterte oor is
wanneer ons oppak is saeed en die ander weg
waar hulle sit en ryg het
stap ’n bobbejaanwyfie
met ’n trofee op haar rug

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top