Die doodgewone bure deur De Wet Hugo: ’n resensie

  • 2

Boekomslag: https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780798184823

Die doodgewone bure
De Wet Hugo
Human & Rousseau
ISBN: 9780798184823

Wanneer Uys Winterbach vir Kirna-Aubrecia, Drico se ma se hoogmoedige en ydel niggie, in haar eksentrieke uitrusting ontmoet, merk hy op: “Jy moet een van ons wees.” Een van ons? Min het sy geweet, of sal sy ooit weet. Wie … of wat … die Winterbachs is. Kirna-Aubrecia sou waarskynlik nooit in ’n gewone skare kon verdwyn nie, maar daar is beslis niks doodgewoon aan die Winterbachs nie. En húlle sou boonop waarskynlik wel in ’n skare kon verdwyn.

De Wet Hugo het al met sy Grilgrypers en Kies-jou-avontuur-reekse bewys dat hy een van ons beste griller- of grapmakers is. Dit is vir hom maklik om te laat gril of giggel. Dit was dus nie vir my ’n verrassing dat hy met Die doodgewone bure, ’n anderster spookstorie, as die wenner van NB Uitgewers se kinderboekkompetisie van 2023 bekroon is nie.

Drico van Vuuren en sy ouers het pas by ’n nuwe huis ingetrek. Op die oog af, en volgens die eiendomsagent, lyk dit asof die vervalle huis langsaan, of soos Hugo dit mooi allitererend as die “verrinneweerde vesting” beskryf, leeg staan. Dit lyk asof Theodore Key se kenmerkende en treffende illustrasie op die buiteblad die aanname bevestig, maar hoekom loop daar dan al op die eerste bladsy ’n yskoue rilling teen Drico se ruggraat af? Dit voel boonop of hy dopgehou word toe hy die boonste verdieping gaan verken.

Dan ontmoet hy, sommer op hulle eerste aand daar, die titel se “doodgewone bure” se dogter, Blanche, toe sy deur die heining in hulle agterplaas haar verskyning maak en hy, te verstane, van skok op sy sitvlak beland. Soos dit hoort, word die storie vanuit Drico se perspektief vertel. Hy maak vriende met Blanche en verskaf deurgaans, soos en wanneer nodig, inligting aangaande die Winterbachs aan sy ouers. Hy wil nou ook nie hê sy ouers moet “omkap en nooit weer opstaan nie”.

Die onuitstaanbare Kirna-Aubrecia kom onverwags kuier, en wanneer die Van Vuurens vir aandete na die Winterbachs oorgenooi word, wys sy haar ware kleure en moet Drico en Blanche bont staan en word spoke letterlik opgejaag om die saak te beredder. Die stomme Goëlietta, die Winterbachs se huishoudster, moet omtrént regstaan, of reg verskyn, om hulle te bedien. Gelukkig is sy baie bekwaam. Soos sy aan Kirna-Aubrecia verduidelik toe sy wonder hoe sy dit regkry: “Jare en jare se spook en spartel.” Vir die res van die kuier by die bure, kan  lesers hulle regmaak vir ’n paar grillerige gebeure en skreeusnaakse situasies. Daaroor is ek doodeerlik.

Dis duidelik dat Hugo, soos veral in sy Kinkels en Kabels-reeks, weer baie pret gehad het met slim woordkeuses. Dis grafstil of doodstil, en daar is ’n bloedstollende gil. Hy speel ook baie kreatief met name en uitdrukkings om vir humor tussen die grillerige oomblikke te sorg. Wanneer Blanche vermoed dat hulle al dood van die honger is, merk Uys op: “Nou maar dooddollies! Kom ons gaan sit sommer dadelik aan.” Blanche se ouers se name is Uys en Alaska Winterbach. Alaska merk teenoor Uys op: “Los jou grappe vir later, my man. Ons wil nie hê ons nuwe vriende moet hulle vroegaand al vir jou doodlag nie.” Dis duidelik dat Hugo dit geniet het om uit ’n lang lys van intensiewe vorme of uitdrukkings met dood te delf. Die teatrale Kirna-Aubrecia se onwillekeurige uitroepe was my gunsteling en het my ’n paar keer lekker laat lag. “Spoegende spook”, “Makabere monster” en “Dooie donkie” is almal lekker uitdrukkings om as alternatiewe vir daai leliker woorde aan te leer.  

Die tipografie van Die doodgewone bure is kreatief en modern en dra by tot die atmosfeer van die verhaal. ’n Paar swart dubbelblaaie help veral om vir ’n spokerige of grillerige leesavontuur te sorg. Kirna-Aubrecia se uitroepe en ander spook- of onheilspellende woorde is ook deurgaans groter en vetgedruk. Hierdie teks sou dus ook kreatief in klaskamers aangewend kon word. Theodore Key se ekspressiewe krabbelsketse komplementeer en vermaak. Ek is redelik seker dat lesers hulle nie gaan doodskrik, doodgril of doodlag met die lees van Die doodgewone bure nie. Ek is wel doodseker dat hulle hulle nie gaan doodverveel nie, en dat hulle veral die Winterbachs se manewales baie gaan geniet.

........
Ek is redelik seker dat lesers hulle nie gaan doodskrik, doodgril of doodlag met die lees van Die doodgewone bure nie. Ek is wel doodseker dat hulle hulle nie gaan doodverveel nie, en dat hulle veral die Winterbachs se manewales baie gaan geniet.
...........

De Wet Hugo sorg soos gewoonlik vir ’n verrassende slot, maar ek gaan nie te veel daaroor verklap nie. Miskien net dat die Van Vuurens se doodgewone bure teen die einde ook hulle doodgelukkige bure is. Hugo het met Die doodgewone bure sy voet effe van die grilpedaal gehaal, maar dit pas my soos ’n handskoen. Met ’n goeie verbeelding en deur na woordkeuses op te let en verskillende interpretasies te oorweeg, is daar bonusgrille en baie binnepret in die 139 bladsye ingeborduur.

Vir die wis en die onwis het ek egter wel besluit om nie te nuuskierig te wees en laataand te veel by die venster uit te kyk om my bure se dakke te inspekteer nie – veral nie as ek dalk skril geluide hoor nie.

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke

  • 2

Kommentaar

  • Lesley van der Merwe

    Die resensie is doodeenvoudig geskryf met dieselfde slim woordspeling wat die skrywer gebruik het en vir seker 'n lekker aptytwekker om dit self te wil lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top