
toe ek dood was, het ek basies
niks gedoen nie.
ek het gewag vir die son
om op te kom in die
stowwerige hoeke van my
kamer. ek
het voyeuristies na my eie
dooie liggaam in die
spieël gestaar, die vleis van die
been af getrek met my
tande, binnetoe gepraat en gewonder
hoekom niemand
my kan hoor nie.
toe ek dood was,
was die lewe een groot stryd om oorlewing.
elke sekonde was ’n
dagreis ver in die verkeerde rigting.
om te glimlag was soveel moeite soos
om ’n blokkiesraaisel in te vul.
ek het elke oggend
wakker geword met die stink onderklere
van gestorwe en vermoorde geliefdes.
daar was kriewelende kewers in my oë.
toe ek dood was, was daar
niks om voor te lewe nie
behalwe die vae hoop
op ’n beter gister.
toe ek dood was
was al my mynskagte onproduktief
en toegestop met ou bourommel.
elke dag was ’n leë koevertjie
wat ek moes oopmaak op soek na geld.
orals waar ek gaan, moes ek
die gebroke lyk van my eie gefolterde
jeug saamkarwei soos ’n
stilgebore kind op ’n driewiel, ’n
swaar stuk lyf wat groei en groei
en groei tot ’n reusagtige
gewas wat niks kan
voel nie.
ek was so dood. ek was
só in my moer.
my vingers was koud,
en my keel was seer en
gerasper van al die spreeus
wat wou nesmaak binne-in
hierdie lyf.
ek was ’n spelonk van woorde.
gedigte het uitgebroei
onder my armholtes
om doodgebore op velle getikte papier
te beland
waar hulle nog vir oomblikke
wriemelend lê en stuiptrek het
in die son.
dit was woorde van seerkry.
die pyn agter die papier, die
slymerige hulpkrete van die
gekerkerde digter was die enigste
ding in my lewe wat real was.
ek was buite myself
van doodgeid.
ek was ’n besoeker
in die boonste kamer
van my kop.
ek was toegesluit in die buitenste
ruimte. ek was
’n eier
wat wag
vir ’n hoender
om ’n kuiken te word.
toe ek dood was
het ek basies niks gehad om te doen met my hande nie.


Kommentaar
Alles wat ek geskryf het in my HELE lewe staan op een papier hierbo! Bitter baie lanklaas sulke goeie skrif gelees.
Die onnoemlikheid van doods-leef. Om ander te sien verbygaan in die lewende wêreld en die "stem" wat verplig is om te bly doodgaan en doodgaan, maar bly leef omdat dood 100 maniere het voordat dit toeslaan. Dit is manjifiek in die sin dat dit stereo-tiperend is van vandag waar letterlik duisende mense steun op antidepressante (anders gaan hulle ook onwillekeurig aan hulle eie vleis "kou") Dit is universeel van ons "tyd" en die gedig stem mens byna om saam in die donker put te val en dood en dood en dood te gaan.
Nuut.
Oorspronklik.
Kuns uit die boonste rakke.
Thanks Koos.
Ek dog heeltyd die dood is geyk (die groot nivelleerder) en die geheue is klaarpraat, dus iets om na uit te sien!
Jô! Is mooi, ja, dankie Koos. Daai tye was derduiwelse tye, dankgot dis verby lat ons da'm nou vreedsaam (erig) in die suburbs kan bly. 😉