Wouter het in sy skrywe https://www.litnet.co.za/Article/die-werklikheid-letterkunde-vs-die-bybel die crux van die saak beet as hy sê: “Dit sinspeel op ’n voor die handliggende probleem dat die verhale van die Bybel maak grootliks volkome sin slegs wanneer dit met die Goddelike as agtergrond gelees word.” Wel, byna, maar amper is nog nie stamper nie. Dis seker daarom dat hy nog nie Eureka kan skree nie.
“Goddelike agtergrond” is so naby as dêmmit aan ’n vloekwoord. In letterkundige taal praat ons van die vorm van die verhaal, hetsy dit mite, fabel, legende, ens, is. Binne hierdie vorm word ’n ander wêreld as ons s’n geskep deur middel van allegorie, metafoor en simbool, met sy eie wette sodat bonatuurlike gebeure aanvaarbaar is. Binne hierdie wêreld kan God met drake en seemonsters veg, slange en bome kan praat en ’n vrou kan in ’n soutpilaar verander. Dit is slegs binne sy literêre vorm dat hierdie Bybelverhale sin maak en van betekenis is.
Letterkunde kan veral uitgeken word aan die taal daarvan, maar die woord ‘letterkunde’ is misleidend (etimologies van litera) met die konnotasie van gedrukte of geskrewe literatuur. Gelukkig is Afrikaans ’n Germaanse taal en kan ons praat van ‘Woordkuns’, soos in Duits ‘Wortkunst’, want dit sluit ook die gesproke taal in, soos verhale, liedere, psalms. Enige belese persoon weet sommer as hy iets lees, of dit woordkunstaal, wetenskaplike taal of historiese taal is.
Indien die leser van ’n Bybelverhaal die vorm daarvan ontken, en dit bv. lees asof in historiese taal, skep dit probleme. Nou word dit getoets en moet dit voldoen aan ander vereistes en norme. Dieselfde geld ook as dit as wetenskaplike taal gelees word. Gebeure soos maagdelike geboorte, op water loop en water in wyn word nou belaglik, waar dit as mite of fabel of legende ’n sterk boodskap oorgedra het.
Die Christen fundamentalis begaan die fout deur die Bybel letterlik te lees. Daarom spartel die Kreasionis om te bewys dat die Sondvloed wel plaasgevind het, of dat maagdelike geboorte moontlik is. Andersins word gebeure bonatuurlik verklaar, sonder enige bewyse.
As ateïs lees ek die Bybel en put volle waarde daaruit. Dit is die Christen fundamentalis wat dit belaglik maak deur dit te lees asof dit geskiedenis of wetenskap of nie-fiksie is.
Die Christen het dus die keuse: erken dat die Bybel letterkunde is, en maak daarvan ’n sinvolle boek, of ontken dat dit letterkunde is, en maak dit belaglik. Vir my is dit om ‘t ewe.
Groete
Angus

