Om te sê dat die Bybel nooit voorgegee het om letterkunde te wees nie, is seker die onsinnigste ding waarmee Kobus hierdie jaar nog mee uitgekom het. Dit is so goed as om te sê ’n boom het nog nooit voorgegee om ’n boom te wees nie; wat dit ook al beteken.
Die Bybel as letterkunde begin by die skrywers van die Bybel. Hulle bepaal dikwels self in watter vorm hulle skryf: spreekwoord/spreuk, lied, brief/sendbrief, klaaglied, psalm, parabel/gelykenis, en menige ander.
Die literêre vorm bestaan tog voor die inhoud, want sonder die vorm waarin dit aangebied word kan inhoud nie bestaan nie; daarom is dit uiters noodsaaklik vir die leser om die vorm te verstaan.
Byna alle literêre vorme is verteenwoordig in die Bybel: die mite (bv. God se geveg met die draak, Jes. 27:1, en die seemonster Jes. 51:9), legendes (bv. Die betekenis van Abraham se naam), fabels (pratende slange, esels en bome), kortverhale (verhaal van die verlore seun), volksverhale, evangelies, biografieë, ens., ens.
Die Bybel is ’n mengsel van literêre genres waarin beeldspraak die sterk bindende faktor is. Die hooftema van die Bybel is God en sy verhouding tot die wêreld wat hy geskep het en die mens. God is heilig en bonatuurlik, daarom moet die taal figuurlik wees omdat ’n vergelyking getref word met iets wat anders is as hierdie wêreld. God en sy verhouding met die mens word veral deur vyf metafore bekend gemaak: koning en onderdaan, regter en aangeklaagde, vader en seun, man en vrou, meester en slaaf. Alhoewel hierdie vyf metafore die bekende gedeelte van die vergelyking is, (want ’n metafoor is tog maar ’n vergelyking of simile) moet dit nie vanuit ’n menslike oogpunt gesien word nie. God as vader of man is nie letterlik manlik nie, maar in hierdie metaforiese sisteem word God ook nooit die moeder genoem nie. ’n Belangrike kenmerk van hierdie metafore is dat hulle kommissief of dreigend van aard is. In die verhouding meester/slaaf, is dit die slaaf wat moet voldoen aan die meester se vereistes. Die metafore van God definieer die doel van die lewe en dit is om te voldoen aan wat God van die mens vereis.
Sonder ’n studie van hierdie metafore en die ontwikkeling daarvan deur die Bybel, bly dit ’n taamlik geslote boek. Ongelukkig sal spirituele vermoë jou net laat drome droom en gesigte sien. As ‘n mens dan moet peuter met die bonatuurlike, sou ek eerder ‘n kursus in Sterrewiggelary aanbeveel, omdat daar heelwat Astrologiese beelde in die Bybel is. Miskien bied teologiese skole so iets aan.
Om die Bybel te verstaan is ’n kursus in letterkundige waardering aan ’n universiteit noodsaaklik. Dit stel jou in staat om ondersoek in te stel na wat taal op ’n gegewe oomblik doen. So sal die Bybel dan vir jou oopgaan. Net soos enige ander goeie letterkundige werk, verdien die Bybel ook ons noukeurige aandag.
Groete
Angus


Kommentaar
Goeie webwerf.
Angus, die bybel as letterkundige werk, is ook net die interpretasie van die bybelvertalers. Die vertalers het ook harde tyd gehad om beledigings en vloektaal van oorspronklike tale in ordentlike gepaste Afrikaans te vertaal. Wie sou nou kon dink dat die "heilige boek" beledigings en vloektaal sou bevat, in die oorspronklike tale wat nie heeltemal letterkundig van aard was nie?
Angus, my predikant tans is prof. (emeritus) Andries Breytenbach, wat een van die nuwe vertaling-vertalers uit die oorspronklike teks was.
Wat ek hou van sy preke is dat hy die teks toelig met geskiedenis en die teks verduidelik binne ’n historiese konteks. Geen "fire and brimstone" eie interpretasie volgens eie "gewaande visioene" nie.
Hy het op my aandrang oor ’n tydperk, darem uit Hooglied gepreek. Die digterlike vryheid van die oorspronklike teks, wat by tye amper ’n James Hadley-Chase-formaat aangeneem het, is verskuil in die digterlike skeppende vryheid van die Afrikaanse vertalers van die bronteks.