Die bloed vloei op die Vlakte
uit oop, gapende rooi wonde
in jong bruin en swart liggame
veroorsaak deur loodkoeëls, staallemme en byle -
'n skrikwekkende wreedheid wat diep skok!
Die bloed vloei op die Vlakte
waar die lewe goedkoop en waardeloos geword het,
nie net van slagoffers, maar ook van die geweldenaars
wie se skrikbewinde onheil oor gemeenskappe bring
en kinders beroof van hul vryheid, en 'n toekomsdroom.
Die bloei vloei op die Vlakte
en die reuk van dood hang swaar in die lug,
verstikkend, verswarend, alomteenwoordig,
verdryf dit die aangename geure van die natuur.
Die bloei vloei op die Vlakte
en dit lyk of niemand regtig omgee
of notisie neem van die volksmoord
wat die land beroof van 'n deel van haar toekoms,
en haar armer laat met elke kortgeknipte lewe.
Die bloed vloei op die Vlakte
en daar word in vergadersale
en toe vertrekke redeneer en konfereer
en vingers word in selfregverdiging na mekaar gewys
terwyl almal die terugwysende vingers ignoreer.
Die bloed vloei op die Vlakte,
moeders en vaders se trane so algemeen,
die pyn in harte van geliefdes afgemaak
as deel van die harde werklikheid -
leef tog daarmee saam, dis maar ons lot,
Die merk van Kain, die vloek van Gam, ons kruis!
Die bloed vloei op die Vlakte,
wie kan dit sien, wie kan nog hoor, wie voel iets,
wie gee om, wie gee om,
wie gee werklik om?


Kommentaar
Geldige kommentaar in ernstige gedig. Al wat ek mis is enige verwysing na die wrede moorde op ons plase wat steeds voortgaan. Die bloed vloei mos ook op die plase? En dit lyk ook nie of daar omgegee word nie.
Pragtige gedig. Ware refleksie van alledaagse gebeurtenisse oppie Kyp Flêts ... So onnodig en hartseer. Victims en Perpetrators word al jonger ... An ons leef soos Stad in die mis waar elke jas loop met sy gesêg ...