Die aard en wese van ’n pejoratief

  • 0

’n Pejoratief is in die meeste gevalle ’n “ras”-term wat as disrespekvol en vernederend ervaar word deur die persoon of groep waarna verwys word. Dit is ’n wêreldwye gebruik en word veral gebruik deur diegene wat kultureel of ekonomies bedreig voel. Die komponent van vrees en onsekerheid dra dus by tot die rassis se optrede en taalgebruik.

In Suid-Afrika is die bekendste pejoratiewe vir eeue ingespan deur ’n eendersdenkende minderheid wat daagliks in ’n toestand van paranoia verkeer het. Hierdie minderheid het hulself van hul naaste (wat “anders” was) en so ook van hul sélf vervreem deur voortdurend op ’n afstand van diegene te bly wat as “anders” ervaar is. Die struktuurgeweld is dus geïnternaliseer.

Afgesien van die fisiese, geografiese, sosio-ekonomiese en opvoedkundige verwydering, is pejoratiewe ook ingespan om hierdie status quo van segregasie te handhaaf. Die heel algemeenste was “Kaffer”, en die ander was “Hotnot”, “Slams”, “Boesman” en “Boer”.

Elke pejoratief het ’n unieke etimologie waarvan die meeste gebaseer is op praktyke en verwante terminologie-ontwikkeling uit die tydperk van slawerny, kolonialisme en apartheid.

Interessant genoeg, maar tog uiters onrusbarend, het ’n aantal van hierdie pejoratiewe ná die aanvaarding van die nuwe Grondwet (1996, met Handves van Menseregte en al) bly voortbestaan, en wel op amptelike vlak:

  1. “Hottentot” – “Hottentots-Holland”, “Hoërskool Hottentots-Holland” Hierdie pejoratief is vervang met “Khoikhoi/Khoekhoe”, maar die skool en geografiese streek behou nog dieselfde naam.
  2. “Boesman” en “Boesmanland”, “Hoërskool Boesmanland” Volgens die Woordeboek van die Nederlandsche Taal spruit “Boesman” voort uit “Boschjesman” wat oorspronklik deur Nederlanders gebruik is om na “orang utang” te verwys (oran = man, utan = woud).
  3. “Slams” (meesal in isiXhosa as vertaling vir “Moslem”). Ek sou nie dit as volledig deurdag beskou as iemand in isiXhosa na ’n imam as “i-Slams” verwys nie.
  4. “Boer” (nie die edel “Boer” van Vegkop en Bloedrivier nie, maar die apartheidspolisieman, apartheidsoldaat, Afrikaner-Broederbond en almal wat teen ’n demokratiese bestel was).

Die “Boer se taal” (“isiBhulu”) het betrekking op die apartheidsonderdrukker, oorwegend Afrikaanssprekend.

Hier het ons nou ’n gesonde meningsverskil, want baie “Boere” assosieer nie meer hulself met die onreg van die verlede nie en volgens hulle het die term “Boer” dus nie meer die negatiewe konnotasie van “apartheidsonderdrukker” nie. Hierdie skrale minderheid se taal is dus ook revisionisties gesuiwer en is nie meer “die taal van die Boer” nie.  Hulle voel dus nie dat die isiXhosa-pejoratief “isiBhulu” enigsins legitiem met betrekking  tot hul “gesuiwerde” taal aangewend kan word nie.

Daarteenoor, sal die stille meerderheid egter wil kommunikeer in ’n taal wat bevry is van enige bande wat haar vooruitgang en groei belemmer.

Die isiXhosa Nasionale Leksikografiese Eenheid het reeds in 2006 onder leiding van Professor SL Tshabe bevind dat die term “isiBhulu” rassisties is en vervang moet word met “isiAfrikaansi” (The Greater Dictionary of isiXhosa, volume 1, p196).

Kanti, die Afrikaanssprekende ivoortoring-elite ignoreer in 2013 nog die wense en begeertes van die Afrikaanses, want hulle wil nie die regering se doelgerigte pejorativering bevraagteken nie. Dis weer dááí vrees, of is dit suiwer lafhartigheid?

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top