Danie Marais se Al is die maan 'n misverstand: Verset teen die kanon of ʼn oefening in prosa-poësie?

  • 0

Titel: Al is die maan 'n misverstand
Outeur: Danie Marais
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047612
Formaat: Sagteband
Aantal bladsye: 92

Klik hier om Al is die maan 'n misverstand nou van kalahari.net te bestel!

 

Danie Marais se nuwe digbundel het as titel Al is die maan 'n misverstand - gedigte. Die skuinsdruk is só op die buiteblad, dus m ... misverstand. Daar hang 'n grootoog gesig oor die kant van die boek, onderstebo. Miskien soos 'n maan?

Die opdrag:

Vir my familie en die meisie met die sewe letters in haar naam.

Die titel van die bundel is uiters poëties, met die soort meerduidigheid van woorde waarmee die poësie werk. Die woord "misverstand" kan beteken dat ons die maan verkeerd verstaan, dat dit miskien 'n illusie kan wees, dat die eeue oue simbole vir die maan eintlik nie so is nie. Die betekenisse is dus konstrukte.

Maar al is dit so, het die maan in die bundel wél betekenisse: dat dit "altyd net 'n asem lank" is (bl 13); dat "jy kan voel hoe roekeloos die maan ... aan jou vat" (17); "God het my snags met die maan gepla"; "ek moet op die maan gaan speel" (27); "en die maan gee ook nie antwoord nie" (70); van "die maan se misdrywe" (114); dat daar "'n man aan die donker kant/ van dieselfde maan" is (117).

En daar kan nog ander verskynings van die maan wees wat ek dalk nie raakgesien het nie.

Die vermoë wat Marais het met woorde, en met poësie maak, en miskien met die baie ou gebruik van die "invokasie" waarin die Muse opgeroep word, en waar ook die "program" van die bundel gegee word, is in een van die eerste gedigte in die bundel, "Met een asem":

Dit is nie 'n liefdesverklaring of 'n love poem dié nie maar verlange
wat gejaagde asem is wat banger is om verkeerd te lewe as vir die dood wat jóú bokkie ook wil hê hê hê soos 'n dobbelsteen in 'n dronk hand hunker na sy nommer in roulette so honger soos 'n pyl uit 'n boog
gereed soos 'n vuurhoutjie brand soos longe vol petrol psalms vir jou
al is die maan 'n misverstand en altyd net 'n asem lank. (13)

Die "asem lank" kan ook natuurlik verwys na Breyten se "die lewe is 'n asem lank" - wat dan die dood by die maan betrek.

Hier soek die digter deur metafore en vergelykings na die betekenis van verlange. Dit sou ook betekenis aan homself kon gee. Die digter, subjek, spreker - die ek, "Danie Marais" - ervaar regdeur die bundel verlange, 'n altyd-durende herinnering aan die verlede - veral van 'n geliefde (met sewe letters in haar naam), en familie en kinder- en jeugvriende. In die tweede laaste gedig van die bundel, wat hy " ... 'n epiese fragment" noem, is daar 'n slim skadeloosstelling vir sy teenwoordigheid. Hy haal Coleridge aan wat gevra is deur lord Byron om 'n fragment van "Kubla Kahn" te publiseer - en dan sê hy oor sy besluit daaroor: " ... as far as the Author's own opinions are concerned, rather as psychological curiosity, than on the grond of any supposed poetic merits". Dït word opgevolg naby die einde van die gedig met:

Coleridge was here
en Danie Marais deeglik ook -
'n man aan die donker kant
van dieselfde maan. (116)

(waar "maan" nou kan beteken: "gedig").

Danie Marais onthou wat hy in die verlede ervaar en beleef het. Dit word alles - byna epies - vertel. Die eerste soen; 'n ontmoeting in Londen; die sewe letters van haar naam; gelukkig saam; die gedagte aan afskeid; vrees vir alleenwees; 'n ineenstorting; 'n aanranding. Miskien 'n vlugtige ander verhouding wat eindig met:

Dit was nie meer nodig om my aan te raak nie.
Ons was skielik skrikwekkend lig en vry -
sigaretas op die somerbries. (75).

Dis nie chronologies vertel nie, en daar's nog veel meer. Ook oor die verhouding met sy ouers, sy pa se sterfte, herinnering aan sy ma, sy ervarings as onderwyser, sy laerskoolvriende, sy volwasse vriende, sy ouderdom, op besoek aan die KKNK, sy suster wat na Australië verhuis. Selfs huislike poësie, soos oor die kat Levinia.

Maar uiteindelik is dit 'n bundel liefdespoësie; iets anders as die meer "bekende" liefdesgedig, omdat dit gekoppel is aan spesifieke ruimtes, en dikwels tyd ('n woonstel, Stormsriviermond, Sun Court 8, Londen, Bremen ens). Dis ook - volgens die gedig aan die begin aangehaal - nie liefdesverklarings nie. Die geliefde is dus nie geromantiseer nie. Maar natuurlik kan herinnerings nie sonder romantiek wees nie. En wat is verkeerd met die romantiese as dit gaan oor dit wat mooi was in die verlede?

'n Leser sal seker verveeld raak met hierdie vertelling van die verlede en van die self: Waarom sovéél? Waarom nét die herinnering aan die verlede en die pyn daarin? Miskien moet mens hierdie herinnerde verlede sien as die enigste vastigheid, die enigste betekenis, sodat daar dan die strewe is om hierdie betekenis te verwoord; om 'n realiteit wat bestaan het, tot teks te bring - dat teks die fragmente tot betekenis saam kan bring. Soos, byvoorbeeld, dat die gedig 'n beswering sou kon wees:

En ek skryf dit neer
soos iemand wat bygelowig bloed
aan sy deurposte smeer. (69)

Of, hy skryf 'n gedig wat nie oor die natuur wil wees nie, omdat iets ontstellends kan gebeur. Dié gedig lees hy dan aan sy geliefde voor, en sy antwoord:

"Wat gaan jy doen as daar rêrig
iets ergs met jou gebeur?
Wat gaan jy byvoorbeeld doen
as iemand na aan jou dood sou gaan?
Oefen jy nou al vir die pyn?" (71).

Die poëtiese segswyse, die vergestalting van werklikhede in die soeke na betekenis, maak van die meeste tekste tóg gedigte.

Die gedigte maak sinvol gebruik van die middele waardeur die poëtiese woord verder kan reik as gewone taal. Enkele voorbeelde daarvan: Die opvallende gebruik van die wending aan die einde. Soms sinies, soos in die gedig "Jy vra hoe ons eerste soen was":

Met jou lang vingers oor my rug het jy
sewe maer magtelose jare
uit my lewe gestreel
soos 'n mens 'n kreukel
uit 'n hemp stryk. (20)

Of interpretatief, soos die ontmoeting met Maike toe hulle op laerskool was:

Terwyl Maike van my wegloop
voel ek 'n sentimentele trek oor my gesig kom.
Ek is bly ek hoef dit nie te sien nie,
die veraf, wasige uitdrukking.
Kinders word nie groot nie -
hulle raak net swaar.
Uiteindelik,
bly net die oë oor.
Die oë sink laaste. (38)

Metafore en vergelykings. Talle, te veel om op te noem. Beskrywings. Een gedig kan illustreer - nie 'n direkte liefdesgedig nie. Miskien meer "universeel":

Groot-Karoo en voëltjie klein

I placed a jar in Tennessee,
and round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
surround that hill.

The wilderness rose up to it,
and sprawled around, no longer wild.
Wallace Stevens
- "Anecdote of the Jar"

Maar verf jy 'n koppie in die Groot-Karoo
en droom daarop 'n voëltjie
teen die swart gat van die nag daarbo

word die wildernis net wilder
die swart nag raak gitter
die stilte bloot wyer

en die wilder word leër
en die nikser groei breër
en die dieper raak banger

al sit die voëltjie dapper daar -
'n veertjie asem in silwer skyn
op 'n koppie in die klipwoestyn.

Want wat is vlerke in dié dooie niet
anders as vinne in die lug
en liefde sonder hande?

En tog was die voëltjie daar
en die wildernis sonder haar
'n kleiner, treuriger klank. (76)

Hier is strofe, ritme, rym, én - indirek metafories - ontnugtering met die poësie (soos "vinne in die lug/ en liefde sonder hande").

Dan is daar nog die praatpoësie, en die doodgewone alledaagse:

Die telefoon lui skril
Dis my vrou en sy sê sy is bang.
Sy weet nie of ons die huis moes gekoop het nie.
Sy wonder of Woodstock sal veilig wees.
Sy kommer oor die hoë paaiement. (78)

Maar Marais kan dié praatpoësie soms nét te ver voer. Is "Geskiedenisles" poësie, of net keurige prosa in strofes? Ek haal 'n gedeelte aan - drie "strofes" - in prosa geskryf :

In die kafeteria bedien kelnerinne, met stadige, breë glimlagge, geroosterde ham-kaas-en-tamatietoebroodjies langs groot glasvensters uit die 70's, teen pryse uit die 80's. Daar's 'n waardige swart vrou, met 'n groot kliniekbril op, en 'n mop, wat in streng Afrikaans verduidelik wanneer jy in Engels vra waar die toilette is.

Ek en drie ander onderwysers is daar, saam met 'n woelige, verveelde groep graadsesse. (39)

Dit kan natuurlik 'n verset teen die kanon wees, die aanvaarde middele van die poësie: om prosa in strofes te skryf. Maar wat dan? 'n Oefening in die skryf van prosa-poësie?

Nietemin. Dis 'n bundel vol goeie poësie. Ook omdat die wete daar is dat die beperkinge van die woord nie betekenis kan bereik nie. In metafore word dít gesê in die laaste strofes van die laaste gedig, in die epiloog ("Vir die rekord"):

Wat 'n mens hier sien,
is die benoude rylopers in die kopligte
van kilometers gelede.

Wat die leser in die hand hou,
is die swartmamba van verlede jaar
se papierdun vel.

Die digter is net 'n vetgesmeerde sonde.
Nie 'n siener nie.
En die ek is 'n dwaalkoeël
wat wegloei in die niet. (118)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top