… in evolusie, onwrikbaar. Hulle raak ernstig ontstig as hulle iemand teëkom wat nie hierdie geloof deel nie en kasty en teister dan hierdie ongelowige hewig IN PLAAS DAARVAN om die aan persoon die bewyse vir evolusie te verskaf. Mens kan dan nie anders as om te dink dat die aanhangers nie weet wat die bewyse vir hierdie leer is nie; anders sou daar mos nie meer 'n stryery daaroor gewees het nie of hoe?
Kennelik is die bestaan van oerfossiele nie 'n bewys nie want daar is nog steeds mense wat nie glo nie. Die aanpassing van spesies by verskillende omgewingstoestande is ook nie bewys genoeg nie want, weer eens, daar is mense wat nie glo nie. Die sterkste betoog, lyk dit my, kom daarop neer dat die wat nie glo nie bloot dom is want 'evolusie is 'n wetenskaplike feit.'
Die meganismes van lukrake genetiese veranderings wat toevallig beter aanpas by omstandighede, natuurlike seleksie en die verloop van BAIE tyd is logiese verduidelikings vir evolusie en ek is seker dit geld in 'n groot mate maar dit is hoofsaaklik tru-ingenieurswese. Sou dit slegs hierdie meganismes wees wat geld dan sal ek graag die verklaring wil hoor vir die duidelike spesielyne, die gebrek aan lewende oorgangspesies en parasiete. Die teorie is vir my soos 'n video van 'n druppel ink in water wat agteruit vertoon word: Waar elke veranderde patroon vandaan kom is duidelik. Gooi egter 'n nuwe druppel in en daar is geen formule of algoritme om uit te werk hoe die patroon op 'n sekere stadium GAAN lyk nie.
Terloops, poue was blykbaar 'n onevolusionêre ding met die nou dat die wyfies vir prag en praal val eerder as krag maar ek reken ek het dit intussen uitgepluis: My broer se vrou se suster is met 'n ou getroud wat 'n plaas het en daar loop 'n klomp poue op die werf rond. Nou die dag, vertel hy, is daar 'n slang op die grasperk en soos blits is al die poumannetjies om die slang. Ek vermoed die sterte met die oë op kan dalk 'n slang erg verwar en op die manier kan die poue die slang maklik doodmaak. Oë, of 'n beeltenis van daarvan, is 'n baie beduidende ding in die natuur lyk dit my; skoenlappers het dit op hulle vlerke, baie ruspers het sulke vlekke en mens moet nooit jou rug op 'n roofdier draai nie. Ek dink jagters en wildbewaarders moet 'n groot paar oë agter op hul baadjies verf.
Maar voor ek nou heeltemal afdwaal, daar is van ons wat leemtes in die evolusieteorie sien en dit beteken nie ons dink die aarde is plat of net 6 000 jaar oud nie. Dit beteken ook nie dat ons die teorie verwerp nie, dis net dat alles nie mooi sin maak nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap: Die bewyse vir evolusie is vrylik op die web beskikbaar vir enigeeen wat belangstel. Ek neem aan jy het deeglik daaroor opgelees. Jy moet maar sê watter aspekte daarvan jou pla.
Beste Jan,
Jan, mens “glo” in die evolusieteorie net so min soos jy glo aan die Stille Oseaan of Tafelberg. Ek dink ook dis heeltemal verkeerd om te beweer dat die aanhangers van die evolusieteorie nie weet wat die bewyse daarvoor is nie – wetenskaplike joernale en tegniese boeke is propvol bewyse en feite daarvoor.
Ek probeer nou nie snaaks wees nie, maar het jy al enige tegniese boeke(e) oor hierdie onderwerp gelees, of enige van die letterlik duisende joernale wat oor hierdie onderwerp handel onder oë gehad? En met tegnies bedoel ek werklik tegnies, nie iets wat vir die populêre mark geskryf is nie. Die bewyse is daar en is vrylik beskikbaar, mens kan maar net gaan lees. Ek sien nie die sin in van jou vraag oor die verklaring van “spesielyne” nie – dis “part and parcel” van die teorie en ons weet wat die molekulêr-genetiese grondslag daarvoor is.
Voorts, daar bestaan lewende oorgangsvorme. En die evolusie van parasiete is al baie goed ondersoek – is daar enige rede waarom parasiete nie ook kan evolueer nie? As jy met tru-ingenieurswese bedoel die aanpassing van ‘n produk (in hierdie geval organismes) – ja, mens kan evolusie tot ‘n mate so beskryf en wat is daarmee fout? Wat die poue betref: dit is ou nuus, deel van evolusie behels seksuele seleksie, iets wat al baie lank bekend is en reeds deur Darwin beskryf is.
Hello,
Brianvds
Ek het nog nie sover gekom om op die net oor evolusie te lees nie. Ek het wel jare terug The Selfish Gene en The Blind Watcmaker gelees, geleen by 'n kollega wat intussen Kaap toe getrek het. Miskien was dit bo my vuurmaakplek, sal maar weer die goed uit die bib probeer kry. Ek het so'n jaar of wat Life Ascendancy (ek sien dis een van die boeke wat George Claassen aanbeveel) op 'n uitverkoping raakgeloop en die het ek so'n derde deurgelees maar kon myself net nie so ver kry om verder te lees nie. Wat 'n klomp tjol, bullshit baffles brains soos 'n baas van my altyd gesê het. Miskien moet ek maar op my tande byt en die storie weer takel.
Angus
Met die pou is ek aan jou kant man; die pou was altyd deur anti-evo's gebruik om evolusie af te kraak maar met die nou dat hy myns insiens 'n slang so kan verwar maak seleksie weer sin. Dis dan nou nog net parasiete - veral die wat verskillende dele van hulle lewenssiklusse in organismes voltooi wat millenia van mekaar (evolusiegewys) van mekaar verwyder is) - en die oogpister wat verduidelik moet word. En miskien ook daardie miere wat gom spuit in plaas van sy kake as 'n wapen gebruik. En miskien ook die 'bullet'-mier, ook bekend as die 24-uur-mier.
Leon Retief
Wat die leesstof betref, sien hierbo wat ek vir Brianvds gesê het.
Geen rede hoekom parasiete nie ook kan evoleer nie maar dit lyk so half strydig met die termodinamika, so al of die weg van minste weerstand nie gevolg word nie. Daar is seker niks in die evolusieteorie wat sê dat die weg van die minste weerstand NIE gevolg moet word nie maar, met die dat energie so skaars is, lyk dit snaaks as behoud van energie nie optimiseer word nie.
Wat ek met tru-ingenieurswese hier bedoel is dat, met die wysheid van terugblik, evolusie maklik verklaar, of sal ek liewer sê WAARGENEEM word. Dit gee egter nie aanleiding tot 'n wet of formule of algoritme waarmee ekstapoleer kan word nie.
Jan Rap: The Blind Watchmaker is inderdaad nogal 'n goeie inleiding, so ook twee ander boeke van Dawkins: Climbing Mount Improbable en The Greatest Show on Earth.
Jan, as jy dink dat die evolusie van parasiete teenstrydig is met termodinamika dan verstaan jy sowel evolusie as termodinamika verkeerd. Wat die leestof betref: Selfish Gene en so aan is OK, maar ek het gepraat van werklike tegniese, professionele literatuur in die verband. Voorspoed en tot siens