Club Risiko: De jaren tachtig, toen en nu
Skrywer: Fred de Vries
ISBN: 90 388 7458 8
Formaat: Sagteband met cd
255 bladsye
Normale prys: € 22.50
Uitgewer: Nijgh & Van Ditmar, 2006
Die 1980's moes een van die mees absurde dekades gewees het – wat musiek betref, asook ten opsigte van wat besig was om in Suid-Afrika te gebeur. Dit was die jare van klere met pastelkleure, Japannese slippers, baggy broeke, new wave en bands soos Modern Talking en Alphaville. In Meyerspark, ? voorstad van Pretoria, het hoërskoolkinders danspartytjies in garages gehou op die maat van Hazeldean se “It’s like an earthquake”. Murmelende buisligte is met gekleurde kreukelpapier oorgetrek om ? tipe ambiance te skep. Op die TV het PW Botha ? noodtoestand afgekondig.
Na skool, in 1988, is ek army toe. In daardie twee jaar, van 1988 tot 1990, het baie dinge verander. Die Voëlvry-toer het die hele musieklandskap verander. In 1990, toe ek pas uit die weermag kom, was daar ? rockfees met die naam Houtstok. My hare het al begin groei. Ek het ? T-hemp aangehad met Nelson Mandela se gesig op. Op ? stadium het ? vrou daaraan gepluk en histeries geskree: “Het jy kinders, hê? Het jy kinders?”.
Groot name in die musiekindustrie het opgetree. Daar was egter een vreemde band waaroor ek sedertdien wonder. Hul naam was Koos. Nie Koos Kombuis nie, alhoewel hy ook opgetree het. Net Koos. Ek onthou hul vier dedicated fans met hul banier – ? swart een met die naam Koos in wit daarop geverf. Die twee o’s was vredestekens. Een van die fans was Francois Kruger, wat twee jaar voor my op skool was. Hulle het swart klere gedra.
Koos het een of ander tyd redelik vroeg in die middag opgetree. ? Vreemde man met ? bril het op ? stoel gesit en geluide met sy kitaar gemaak. Ek dink iemand het tromme gespeel. Daar was ook twee mense wat gesing en geskree het. ? Vrou het in die mikrofoon geskree: "Someone was coming on Rambo’s knee, wish it was me, wish it was me!” Van hul lirieke was in Afrikaans, maar ek kan min daarvan onthou. Ek was heeltemal te clueless om te waardeer waarmee hulle besig was.
Koos het aanhou speel en wou nie ophou nie. ? Mens kon die benoude verhoogbestuurder op en af sien trippel. Hy het aan hulle beduie dat hulle nou moet klaarmaak. Hulle het egter net aanhou speel en aanhou speel. Op die ou end het die klankingenieur, vermoedelik uit pure desperaatheid, die klank afgeskakel. Eers toe het hulle die verhoog verlaat – oënskynlik heel verdwaas.
Hierna het Koos in die niet verdwyn. ? Mens het nie juis meer iets van hulle gehoor nie, behalwe dat hulle deel was van die vroeë alternatiewe Afrikaanse beweging. Hulle het blykbaar in die Black Sun in Hillbrow opgetree tydens die eerste “Alternatiewe Afrikaanse Konsert”: ? Onbenullige detail, dalk nie eers ? voetnoot in die geskiedenis van Afrikaanse musiek nie, laat staan nog Suid-Afrikaanse musiek.
Hulle sê mos profete word nie in hul eie land geken nie. Dit verg ? Nederlandse joernalis met ? belangstelling in ondergrondse kontrakultuur om ? projek uit Johannesburg van die vroeë 1980's op te diep om ? mens werklik te laat waardeer waarmee die lede van Koos besig was. In Club Risiko (die titel is geneem van die naam van die ondergrondse klub in die eertydse Wes-Berlyn, waar mense soos Blixa Bargeld en Nick Cave rondgehang het) is Fred de Vries spesifiek geïnteresseerd in mense en projekte wat deur die media as onder andere industrial, punkfunk, no wave, noise, indie, punk, alternative, anarchopunk en postpunk beskryf is.
Die laat 1970's en vroeë 1980's – die jare voor globalisering, die tydperk voor die deregulering van ekonomieë deur mense soos Ronald Reagan en Margaret Thatcher ingeskop het – was ? besonder interessante tyd vir populêre en ondergrondse kultuur. De Vries het gaan uitvind wat die ondergrondse bewegings in plekke soos New York, Berlyn, Amsterdam, Ljubljana, Parys en Johannesburg gemeen gehad het. Wat is die ooreenkomste tussen Sonic Youth, Crass, Laibach, Einstürzende Neubauten, The Ex en Koos?
In elkeen van hierdie stede was daar “eilande” – plekke wat in isolasie bestaan het. Ironies genoeg het hierdie eilande mense juis in staat gestel om alternatiewe, ondergrondse gemeenskappe te stig. Hierdie was gemeenskappe wat onbeskaamd teen die hoofstroom was. Musikante wou platemaatskappye vermy en ondermyn. Die hoofstroommedia is ondergrawe deur onafhanklike publikasies. In elkeen van die plekke was daar bymekaarkomplekke vir die kontrakulture wat uit postpunk ontstaan het. Soms was die anargisme polities, soms was dit meer kultureel van aard.
Alhoewel die mense wat deel was van postpunk fisies van mekaar geïsoleerd was, het idees oor grense heen beweeg. Dit was egter die dae voor die internet se ooraanbod van inligting. Dit was die dae toe jy jou plate in ? winkel in Hillbrow moes gaan koop om uit te vind waarmee ander mense besig was. De Vries is spesifiek geïnteresseerd in hoe presies hierdie invloede van plek tot plek kon reis. Natuurlik het sommige interessante projekte nooit ? breër gehoor gekry nie, soos Koos, wat ? kasset met hul opnames in ? bruin papiersak verkoop het.
De Vries pak die storie aan as ? reis in elkeen van die stede. Hy gebruik ? film deur die Franse regisseur Leos Carax, genaamd Pola X, as raamwerk vir sy soektog na wat oorgebly het van die verskillende projekte. Daar is ook ? verwysing na Dostoejefski se The Underground Man as eerste formulering van wat die underground behels. Club Risiko word ? tipe speurverhaal, met flardes bewyse, indrukke en gesprekke wat deur die strate van New York, Berlyn, Amsterdam, Ljubljana, Parys en Johannesburg versamel word.
De Vries wil weet wat die impak van kulturele anargie is op die individue wat die underground bewoon het. Sommige oorleef. Sommige behaal sukses in die hoofstroom en word deur dié wat agterbly, afgeskryf as “sell-outs”. Sommige word in so ? mate meegesleur in die soeke na kuns sonder kompromis en die verskuiwing van grense dat hulle hulself in die proses vernietig, soos Neil Goedhals van Koos. Ander besluit om heeltemal “uit te klim” en ? ander, meer “normale”, lewe te lei. Hul betrokkenheid word dan bloot as ? fase afgemaak.
De Vries is hier en daar nogal genadeloos met van die groter ego’s van die underground. Blixa Bargeld loop byvoorbeeld deur onder die sarkasme. Maar meestal word daar met empatie geskryf, veral in gevalle waar persone met wie onderhoude gevoer word, ? sin vir humor toon, of hulself nie so ernstig opneem nie.
Miskien is dít juis die paradoks van die underground: erkenning deur die hoofstroom word afgeskryf. Maar steeds soek kunstenaars iéwers erkenning – en in die soms benoude wêreld van kontrakulture, waar ego’s tussen die stront en bloed teen die klubs se mure bots, is erkenning skaars en jaloesie volop. Wat beskou ? mens as oorspronklik en nuut? Hoe evalueer ? mens eksperimente wat soms aspris heersende norme van musikaliteit probeer ondermyn? Wanneer is sulke eksperimente grensverskuiwend en wanneer is dit sommer net obskuur? De Vries kritiseer veral kunstenaars wat onbewus is van hul voorgangers. Die kulturele underground is immers nou al ? eeu of twee oud!
Die boek is dus veel meer as bloot ? ondersoek na die underground in die vroeë 1980's. Dit probeer om die impak van daardie bewegings vandag na te speur. Dit plaas dit ook in historiese konteks – veral in die konteks van die intellektuele geskiedenis van die underground. Dit doen dit sonder om pretensieus of hoogdrawend te word.
Om al die detail hier weg te gee sal die genot uit die lees van die boek haal. Die bonus vir Suid-Afrikaners is natuurlik dat dit ? CD met opnames van Koos insluit. Die CD bevat lirieke van onder andere Ryk Hattingh, Johan van Wyk en Chris van Wyk, asook van Marcel van Heerden. Die laaste track op die CD, “Suid-Afrikaanse herfs”, met sy verwysings na die Baader-Meinhof-hofsaak in Duitsland, verdien om as ? klassieke Afrikaanse opname erken te word.
Enige iemand wat in Afrikaanse musiek en letterkunde belangstel – asook waar die twee bymekaarkom – móét hierdie boek lees. Die boek is in Nederlands geskryf. Ek moet hier tot my skaamte bieg dat ek verkies om Nederlandse letterkunde in Engels te lees, soos The Discovery of Heaven, maar ten spyte van my tekortkoming het ek dit heel maklik gevind om Club Risiko te lees. Dit het my in so ? mate ingetrek dat ek meestal vergeet het dat dit in ? ander taal geskryf is.
Ek hoop die boek sal op een of ander manier in Suid-Afrika beskikbaar gestel word. Dit noop ? mens om die Voëlvry-beweging te herevalueer, veral die musikale aanslag wat gevolg is. Hopelik sal die lede van Koos hul regmatige plek in die geskiedenis van Afrikaanse musiek inneem – sowel dié van hulle wat Johannesburg se Club Risiko oorleef het, as dié wat nie het nie.
Fred de Vries is op die oomblik besig om aan ? biografie van Sinclair Beiles te werk. Hy woon in Johannesburg.

