Charl le Roux: Die ganse mensheid op verskillende weë teen die Berg

  • 13

Beste Charl,

Na aanleiding van jou diepgaande en verstaanbare kommentaar elders:  Jy voer heel grondig daarin aan dat die altruïsme, lank voor Jesus Christus se leringe bestaan. Onbaatsugtige liefde kom selfs by diere voor.

Charl, ek het geheel ooreenstemming voorts met jou daarin asook, dat enige vorm van onverdraagsaamheid en onderdrukking (of te wel fundamentalisme), hierdie natuurlike aard van die mens kan belemmer. Perfidie, ongeag die saak, is soos 'n rooivlag wat wraaklus selfs by die mees goedhartige mens kan wek. Daarom verseker ons gebed; lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose.

Jy tik ook: "Daar is twee redes waarom ek Cornelius se alle menschen werden bruder -veldtog onder almal wat in `n skepper glo nie kan ondersteun nie. Die eerste is dat, soos ek reeds uitgewys het, almal wat in `n skepper glo hoegenaamd nie dieselfde waardes deel nie... Tweedens is die geloof in `n skepper geen waarborg van goedheid nie, soos wat in Wouter se derde brief uitgelig word.  Om goed van kwaad te probeer onderskei op grond van geloof of ongeloof in `n skepper is `n dwaling".

Charl, dit maak gewis sin.

"Glo", mislei menige naïeweling tot hul eie pyn.

So spreek die HERE: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder van angs (Jakobus 2:19).

Nes altruïsme geneties is, is daar 'n spontane en natuurlike soeke by die mens na 'n Opperwese.

Ons kan met sekerheid aanvaar; dis hoe ons geskape is.

'n Ieder kan getuig oor hoe sterk hul veral as kind geloof in God, ervaar het. Namate ons grootword en die intellek die hart oorskadu, raak baie onherroeplik skepties. Die eerlikes word agnoste en ateïste, wyl ander nes die Fariseërs en die skrifgeleerdes van ouds, in intellektualisme verval ten koste van die Bonatuurlike en onbegryplike ervaring, so waar in ons hart. Dis ook opmerklik hoe sulke ware gelowiges, hulself verder met komplimente soos; " begaafd in spirituele intelligensie", onderskei.

Charl, dit behoort duidelik gestel te word dat fundamentaliste - altruïsme, in intellektualisme omskep - om so ander in hul omgewing tot hul eie voordeel te misbruik.

Die Christelike Nasionale-ideologie waarmee die Nasionale Party destyds die Volk so aan die neus gelei het, is nie die enigste voorbeeld van intellektualisme waar ons natuurlike geneigdheid tot godsdiens gebuit is nie; oneervolle prokureurs soos Kobus de Klerk op die werf, asook vele ander korrupte sakemanne, maak baie geld met Bybels onder hul arm.

Nes die Fariseërs en skrifgeleerdes van ouds, buit menige regering en sluwe sakeman die intellek, om daarmee kamstig die ENIGSTE antwoord tot saligheid te ken.

Soos daar geskrywe staan (uit Mattheüs 23):  Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetings op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! ... wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle 'n swaarder oordeel ontvang. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self. ...Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid... Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Beskou 'n mens dit eerlik, dan lyk die godsdienslandskap soos die Vallei van 'n duisend Heuwels. Elke bultjie het hul eie god, en aan die voet daarvan; 'n laer met oorlogshonde wat die kloof nie wyd genoeg tussen hulself, en die heuweltjie langsaan kan grawe nie.

In antwoord hierop is daar genadiglik Bonatuurlike inspirasie.

Kennis daarin is hoegenaamd nie aan die intellek, of gesteelde begrippe deur Kobus de Klerk soos "spirituele intelligensie", verklaarbaar nie.

Die Bonatuurlike is onbeskryflik in alle taal en kultuur. Empirie in die Bonatuurlike, laat die begrip; alle menschen werden bruder, as iets werklik - juis omdat grense, dan bloot 'n natuurlike neiging by alle lewe op aarde is.

Die Bonatuurlike maak dit moontlik om te begryp dat harte, in alle taal en kultuur, op weg met verskillende weë teen die Berg op in diens aan ons almal se een Almagtige Lewende Skepper is.

Dis onmoontlik om die Bonatuurlike ervaring in ons hart aan grense van 'n "ware dit of dat" te bind, of om 'n ander se ervaring daarin (geloof of ongeloof), te minag.

Charl, ek is ook eens met jou dat die waardes waarop ons wel kan staatmaak as “goed”, uit elementêre komponente soos eerlikheid en `n sorgsame ingesteldheid teenoor ons medemens en natuur bestaan.

Dit voer my egter terug na die daglumier van die beskawing; na die volksverhale en legendes wat aan die jeug van die mensdom behoort en van geslag tot geslag oor millennia heen, met die diepste toewyding oorgelewer is. In eenvoudige taal is daar aan moedersknie vertel van heldedade; van elementêre emosies wat aan die mens eie is - moed en vrees, liefde en haat. Hul karakters was so sonnig soos die dag, of so somber soos die nag - die helde dapper en verstandig, die skurke wreed en geslepe.

In die legendes en mites, het die mensdom sy helde verlede in 'n vermenging van die waarheid en die verbeelding bewaar en dit, eers mondeling en later deur die geskrewe woord, van geslag tot geslag oorhandig. Dwarsdeur die eeue is die kuns van die vertelling deur die mensdom vertroetel, en dit geld vir alle taal, kultuur en volke. Of dit nou legendes van antieke Griekeland, of die Keltiese mites van ou Brittanje, die legendes van die woeste Nore, die Cherokee, San van die Kalahari-woestyn is, elke volk het hierdie gemeenskaplike tradisie gehandhaaf om so aan ons die skat te bring wat ons vandag onbeperk met mekaar kan deel.

Nes legendes en mites, behoort die Heilige Skrifte deur die ganse geskiedenis van die mensdom versamel, inderdaad ook aan die hele mensheid - in hul geheel. So hoort dit, want hierdie kleinode deur eeue se evolusie van die mens se bewussyn geskep, behoort nie aan die taal of volk wat dit geskep, of aan diegene wat dit in hul hart ontvang het nie - dit is ons ALMAL se besit , en vir menige opregte hart bied dit immer, 'n ryke en onuitputlike bron van genot en wysheid - ja, tot vandag toe!

Geeneen kan onderskeid tussen goed en kwaad, as hul domein eien nie. Die Bonatuurlike in ons hart, is ook nie gebonde aan die orde wat die intellek skep nie - daarvan getuig selfs die Heilige Sondaar se saligheid langs Jesus Christus onse HERE.

Ons hoef nie arm deur die lewe te reis nie...

Mag Jesus Christus onse HERE, self die Bonatuurlike, en die Rykdom in 'n ieder se hart wees wat hier lees.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,

Cornelius Henn

  • 13

Kommentaar

  • Hello, 

     
    Daar is sekerlik baie pogings wat die verskille tussen die gelowe ondersoek en is die een wat ek op hierdie stadium lees, 'Jewish-Christian Debates' deur Jacob Neusner & Bruce Chilton.
     
    Dit begin deur drie vrae te vra en te ondersoek hoe dit dit onderskeidelik deur Judaisme en Christenskap beantwoord word: 
     
    Kennis van God. 
     
    Om te lewe volgens die wil van God. 
     
    Om te hoop in God. 
     
    Dit wat Cornelius dus moet antwoord is die antwoorde wat die gelowe bied dieselfde op bogenoemde vrae? 
     
    Dit is duidelik dat dit nie dieselfde is nie aangesien die verskillende gelowe, verskillende antwoorde sal bied op hierdie vrae en soos Charl al aangedui het die optredes in daad verskillend sal wees weens die antwoorde op die 'probleme' hier bo aangedui. 
     
    Judaisme kan dalk 'n oorkoepelende ooreenstemming bied met die Christelike praktyk, maar in diepte ondersoek sal die werklike drastiese verskille na vore kom. 
     
    Die skrywers voer egter ook aan dat dialoog behoort moontlik te wees omrede Judaisme, Christen en Islam, berus op 'n enkele gedeelde oortuiging, God is een, uniek en bekend aan die mens deur die profete van antieke Israel. 
     
    Die twee duisend jaar van Chrsitenskap en die 1400 jaar van Islam staan in kontras van die ongelooflike 5700 jaar va Judaisme en al drie bely hul geloof in God. 
     
    Ten spyte van hierdie gedeelde profete en openbaringe is hierdie drie groeperinge nie vriende met mekaar nie en praat elke groepering net met sy eie volgelinge en die buitestaanders om hulle op die foute van hulle geloof te wys. 
     
    Bogenoemde wys dalk op die ooreenstemming wat met moeite en ondersoek gevind kan word. Maar dan die verskille. 
     
    Judaisme het geen begrip van Jesus en sal nie Jesus kan volg nie, van kardinale belang vir die Christen. 
     
    Die Christen het geen begrip vir antieke Israel nie net soos Islam nie afstand kan doen van die argument dat Islam die laaste woord in geloof is nie en dat Islam die woord van God volbring. 
     
    Op hierdie stadium kan dit aangevoer word dat dialoog net 'n geleentheid is om jou eie standpunt weereens te bevestig en nie werklik sin te probeer maak van die verskille en dit waar daar ooreenstemming is nie. 
     
    Dialoog vereis dus die volgende: 
     
    Dink aan die ander (buitestaander) in jou eie terme maar bied dit so aan dat dit deur die buitestaander verstaan kan word alhoewel dit verskriklik moeilik is om buite jou eie beperkinge te dink, selfs in vriendelike gesprek. In geloof, politiek, is dit soveel erger. 
     
    In geloof weens die feit dat die 'waarheid' aan elke aparte groep openbaar is en dit as die volkome en enigste waarheid deur die groep aanvoer word. 
     
    God belet varkvleis vir Jood en Moslem maar Paulus is heel tevrede met varkvleis en is gammon goed dankie. 
     
    Die geloof verskil dus, die teologiese waarhede staan apart van mekaar en die kan nie versoen word nie. 
     
    Vir Judaisme is die Torah en die kennis wat dit van God bied en die regulering van die mens in sy heilige lewe en die koms van die Messias. 
     
    Vir Christenskap is die fondasie, Christus, die Messias wat gekom het, die ervaring van God as die skepper en die teenwoordigheid van God in Christus. 
     
    Hierdie verskille bied ooreenstemming ook. 
     
    God is uniek. 
     
    God word openbaar. 
     
    God skep orde
     
    God is in 'verbond' met die mens. 
     
    Hierdie vir die rekord is dus die fondasie van my reaksie teen Kobus se afmaking van Judaisme. 
     
    Dit word maar weer herhaal. Kobus en Cornelius is met 'n vraagstuk konfronteer en die antwoord is amper soos verwag kan word. 
     
    Kobus, dring aan daar is net een waarheid, die res is verkeerd en dit is wat hy verdedig vir jare nou al. 
     
    Cornelius dring aan, alles is een waarheid, en bied 'n enkele groot waarheid in wat alle strominge opneem en verdedig dit met gevoel ook nou al vir baie jare. 
     
    Daar is verskille en dit moet respekteer word. 
     
    Wat nie aanvaarbaar is dat 'n Kobus De Klerk byvoorbeeld die bestaansreg van Judaisme ontken. 
     
    Ook is dit nie aanvaarbaar om te argumenteer dat Christenskap, net Judaisme met Christus is nie en gewoon net 'n vertakking van Judaisme. 
     
    Bogenoemde denke bring die onafhanklikheid van die gelowe in gedrang en bewys weereens die komplikasie om doodgewoon van 'n enkele tradisie te praat. 
     
    Daarom, daar is ooreenstemming, maar kan dit nie net eenvoudig saamgevoeg word nie. 
     
    Hoe sal dit dan die hoof gebied word en moet dit die hoof gebied word. 
     
    Daarom dan pluralisme, tesame met dialoog. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Wouter,  

    Jy het duidelik die spit iewers gebyt, en nou voer jy jou vete so totaal onthuts, net om te kwets.  

    Jy tik: "Kennis van God. Om te lewe volgens die wil van God. Om te hoop in God. Dit wat Cornelius dus moet antwoord is die antwoorde wat die gelowe bied dieselfde op bogenoemde vrae?"

    En dan antwoord jy sommer self en ewe verwaand daarop: "Dit is duidelik dat dit nie dieselfde is nie aangesien die verskillende gelowe, verskillende antwoorde sal bied op hierdie vrae en soos Charl al aangedui het die optredes in daad verskillend sal wees weens die antwoorde op die 'probleme' hier bo aangedui".  

    Wouter, menige ware Christengelowige sal jou daarop wys dat hul denominasie alleen, die enigste is wat oor kennis van God beskik - lewe volgens die wil van God - en kan hoop in God!
     
    Dit meld nie eens die kloof wat oorlogshonde tussen die Roomses en die Calviniste kan buit nie...  

    Wat nog die verskillende samestelling van Bybels by die Messiaanse, Kopte, Ortodokses, Katolieke en die Protestante?  

    Dan is daar nog die Adventiste, Mormone, Jehovasgetuies, en die KdK-huiskerkstelsel!  

    As die kloof so diep tussen Christene is, hoe diep moet dit dan tussen al die verskillende Godsdienste op aarde wees?

    Die verskille tussen Godsdienste, is gewis goeie teelaarde vir enige oorlogshond!  

    Jy spu ook: "Die twee duisend jaar van Christenskap en die 1400 jaar van Islam staan in kontras van die ongelooflike 5700 jaar van Judaïsme en al drie bely hul geloof in God".  

    Jy sien Wouter, as jou inligting en kennis die moeite werd was, sou jy minstens algemene kennis had, en weet dat al drie die Godsdienste wat jy hierbo betrek, die God van Abraham aanbid.  

    Kon jy dalk 'n bietjie empirie daarby voeg, dan sou jy die eerbied ervaar waarmee die verskillende gelowiges; die Jode, die Moslems, en die katolieke mekaar se heiligdomme besoek, en SAAM aanbid!  

    Dit verg nie veel om die Jode se band vandag met die Hindoes te ken nie. Behalwe Abraham se lering by die Koning van Salem, Melgisedek, het baie van Israel se profete hul lering tydens ballingskap in die Ooste ontvang. Dan is daar nog die midrash in die Nuwe Testament - die Wyse Manne uit die Ooste...  

    Wouter, jy is net nydig om so klokslag aan te voer dat ek verskillende Godsdienste probeer saamvoeg.  

    Dis 'n leuen.  

    Ten spyte van my uitdaging, het jy nog nooit aangetoon waar ek verskillende Godsdienste saamvoeg nie.  

    In my opskrif hierbo, dui ek op die pluralisme; spesifiek in VERSKILLENDE weë teen die Berg.

    Almal opreg daarin, bereik dieselfde Piek.  

    Wouter, as jy so maklik oortuig is dat die natuurlike demokrasie, grense tussen ras, taal en kultuur in 'n Reënboognasie sinkreties bewerk; hoeveel te meer die Bonatuurlike Liefde, die Evangelie, wat "apartheid" tussen Godsdienste gelyk maak?  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Gaan lees daardie brief van my weer, dit is veel meer ondersteunend as wat jy nou weer met, 'spu, nydigheid, kwets', alles volgens jou tekenend van ’n vete, en dan is daar weer die uitweg waarna jy gryp, die van 'algemene kennis'. 

    Met jou is dit, as dit nie gevoel is nie, dan is 'harte', en nou finaal, 'algemene kennis', maar ook gereeld dat die persoon wat jou aanspreek gebreinspoel is en jou minag.

    Dit is die pyle in jou koker  en word soos klokslag gebruik. 

    Indien die stelling van my kommentaar mag herhaal word, dan gaan dit soos volg. 

    Daar is verstommende ooreenstemming in die verskillende groeperinge, Judaïsme, Christelik en Islam, dat dit maklik is vir ’n persoon soos jy om dit gewoon alles in ’n mengbak te sit en te klits na jou wense en dan daarmee uitgaan en verkondig dat jou ervaring bewys dat alles een is. 

    Daarom nou weer die bergstorie, in teenstelling met die bergrede. 

    Die uitdaging wat jy nie kan oorkom nie, is om ten spyte van dit wat ooreenstemming toon die drastiese verskille die hoof te bied en die konflik wat daar volgens jou voorbeeld tussen Katoliek en Reformasie bestaan en dan daaruit al die versplintering. 

    Indien jy aanvaar dat Christus is gelyktydig nie die Messias, die Messias en slegs ’n profeet nie, dan is daar geen salf aan jou te smeer nie en moet jy maar aangaan om die wat val vir 'algemene kennis' te probeer oortuig. 

    Vir iemand wat net ’n bietjie meer as net 'algemene kennis' het is die uitdaging so duidelik soos daglig, tesame met die ooreenstemming wat daar is hoe sal die verskille aangespreek word. 

    Aangesien hierdie hutspot ’n maaksel van jou is, berus die verantwoordelikheid op jou om te bespreek hoe die verskille moet opgelos word. 

    Probeer en kyk of jy kan slaag. 

    Baie dankie

    Wouter

  • Hello Cornelius, 

    Weereens moet jy intergeloof-dialoog verwar met die bestaan van 'n enkele waarheid. 

    Die waarde van intergeloof-dialoog word nie betwyfel nie en die ondersteun ek, die uitnodiging na die Moskee aan die Jood, of na die Katedraal vir die Moslem. 

    Intergeloof-dialoog erken dialoog en pluralisme en aanvaar die verskeidenheid wat die bestaan van vandag erken in kontras tot jou poging om verskeidenheid te ontken en almal te reduseer tot 'n enkele maaksel van jouself. 

    Hierdie is nou maar jou missie en daarvan sal jy nie afsien nie en sal jy dit beveg tot en met jou laaste asem, weet maar net dat jy verkeerd is en dit nooit sal besef nie.

    Baie dankie

    Wouter

  • Cornelius,

    Dit is duidelik dat Wouter ’n teer puntjie by jou aangeraak het – nie omdat hy verkeerd is en jy reg nie  - nee-nee, omdat hy soos vele ander voor hom jou weereens uitgewys het (wel, op sy manier) as ’n ketter, daarvandaan jou eie gespoegery. Maar hoe dit ookal sy, ek (en vele ander – gelowiges én ongelowiges) het lankal reeds jou  “people-pleaser” godsdiens wan-oortuigings raakgelees, uitgewys en jou oor jou valse profisieë probeer berispe.

    Alhoewel jy weereens met ’n ongematigde gebabbel vorendag kom en steeds in ontkenning lewe, gaan jy voort (uit onkunde of wanbegrip?) en sluit jy jou skrywe af met die volgende: “Ten spyte van my uitdaging, het jy (Wouter) nog nooit aangetoon waar ek verskillende Godsdienste saamvoeg nie.”

    Wel Cornelius, volgens jou eie oortuigings (Nie volgens die Bybel, God se Woord, Nie) is alle godsdienste op pad na dieselfde god (dit is nou op jou “Berg” - let wel een berg - samevoeging?), of die boeddhiste dit nou deur boeddha doen, of die hindoes dit deur brahma doen, of die harricrishna dit deur re-inkirnasie doen, of sommige inheemse swart volke dit deur hul voorvadergeeste doen, en dies meer, maak glad nie saak nie (skynbaar volgens jou klim hulle dieselfde "berg"). So terloops, die Hindoes glo dit ook!

    Dit is díe dat jy ook kwytraak: “In my opskrif hierbo, dui ek op die pluralisme; spesifiek in VERSKILLENDE weë teen die Berg.” En ook “Almal opreg daarin, bereik dieselfde Piek.” – en daarmee onderstreep jy sommer self my skrywe hierbo. Dus, as ek opreg is (weereens volgens jou) in my aanbidding van Boedha gaan ek ook by God uitkom (ek hoef nie Jesus as die Christus te erken nie). Of as ek vir myself ’n goue kalf maak en in opregtheid dit aanbid en daarmee tesame in vrede en liefde met almal lewe gaan ek ook by die Berg se “Piek” uitkom?

    Jy sien, Cornelius, daar is net Een Evangelie – die Evangelie van Jesus Christus en Geen Ander Nie!

    Jy, daarenteen, verkondig nie die ware evangelie van Jesus as die Christus nie, nee-nee, jy verkondig ’n valse gekettery en daarmee tesame het God se genadeversoening in en deur Sy Enigste Seun, Jesus Christus, se Kruisdood en Opstanding,  vir jou geen betekenis nie. 

    Sterkte

    Dolf

  • CorneliusHenn

    Wouter,  

    Na al jou neerhalende kommentaar hierbo, wys jy nog steeds nie hoe ek kamstig verskillende Godsdiens in 'n mengbak sit en te klits na my wense, en dan daarmee uitgaan en verkondig dat my ervaring sou bewys dat alles een is nie.

    Dit blyk dat jy deur jou herhaling van sulke onsin, my as 'n strooipop probeer opstel en dan tot groot vermaak probeer afskiet.  

    Nee Wouter, soos jy dit selfs in my gereelde groete onderaan sal merk, ag ek baie duidelik al die verskillende Godsdienste, in hul onderskeid, en by name.  

    Dus, om jou aanmatigende stelling te kon grond, moes ek sekerlik al een die of ander naam vir my nuutgevonde selfgemaakte hutspot voorgehou het (soos Kobus de Klerk byvoorbeeld met sy "huiskerkstelsel" doen).  

    Dit blyk tog dat ek my gedagte, dat jy bloot net moedswillig is, dalk maar moet laat vaar en aanvaar dat jy dalk nie so intelligent is as wat 'n mens sou dink nie (met respek).  

    Dit mag ook natuurlik gewoon jou taalvaardigheid wees wat lol.  

    Daarom Wouter, sonder om verder enige van die modder waarmee jy my so graag wil besmeer te ag, klaar asseblief net eers die volgende op; hoekom dink jy so verkeerdelik, dat ek alle Godsdiens in een probeer saamsnoer?  

    Namaste!

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,

    Cornelius

  • CorneliusHenn

    Dolf,

    Jou onkunde is skreiend; geen mens op aarde aanbid 'n Boeddha nie!

    Derhalwe, in al die kritiek wat ek al van oorlogshonde soos jyself moes verduur, blyk dit dat jy minstens nie meer my sogenaamde hutspot, as my eie maaksel beskou nie.

    Hel, na al die twak wat jy gedurig in jou anderhaat hier vloek, meen jy minstens en uiteindelik darem: So terloops, die Hindoes glo dit ook!

    Mooi Dolf!

    Al gaan dit stadig, kom jy ook eendag dalk soos Wouter, selfs by die pluralisme uit ... wie weet?

    Nietemin, Wouter staan met sy intellektualisme onder die invloed van die korpokrasie, soos jy en jul hoëpriester Kobus de Klerk, met jul spirituele intelligensie in diens van Satan staan.

    As die demokrasie in ons land kamstig grense tussen ras, taal en kultuur in 'n reënboog kan bewerk; hoeveel te meer die Bonatuurlike Liefde, die Evangelie, wat "apartheid" tussen harte in God gelyk maak?

    Ja, ek is veel eerder 'n kleur wat in ons Almagtige Lewende Skepper se Reënboog straal!

    Namaste!

    Cornelius

  • Hello, 

     
    Dolf het klaar verduidelik hoe handig jy met die klitser is, met die voorbeelde deur hom uitgelig, ek kan ook weer een uitlig, soos hierdie een van jou: 

     
    Kon jy dalk 'n bietjie empirie daarby voeg, dan sou jy die eerbied ervaar waarmee die verskillende gelowiges; die Jode, die Moslems, en die katolieke mekaar se heiligdomme besoek, en SAAM aanbid!   Dit verg nie veel om die Jode se band vandag met die Hindoes te ken nie. Behalwe Abraham se lering by die Koning van Salem, Melgisedek, het baie van Israel se profete hul lering tydens ballingskap in die Ooste ontvang. Dan is daar nog die midrash in die Nuwe Testament - die Wyse Manne uit die Ooste...   
     
    Ja, daar is die 'empirie' weer, dit is nou tesame met 'ervaring', 'harte', 'gevoel', die pyle in die koker. 
     
    Nou so van die empirie gepraat, maak oop jou venster en kyk uit, wat sien jy, die Moslem gaan moskee, die Anglikaan gaan na 'n katedraal, ek sien nie hoe dit die werklikheid is wat jy hier opklits nie, die volgelinge gaan die instelling wat deur hulle gevolg word. Die Anglikaan gaan aanbid nie lukraak in die moskee nie. 
     
    Indien dit so 'algemene kennis' is wat jy beweer dit is, hoekom kom die werklikheid nie so oor nie, die verskille word deur die verskillende groepering in stand gehou en respekteer en hier kom Cornelius met sy gewone voortvarendheid en meng alles. 
     
    Indien die werklikheid werklik uitgesien soos dit deur jou beskryf word, dan sou daar geen haan daaroor gekraai het nie, maar nou is dit nie so nie, en wil jy dood gewoon jou wil afdruk dat dit so is, dat dit een 'merry go round' is waarop almal ry. 
     
    Nee wat, jy kan hierdie gedagtes maar laat staan en ook leer om nie almal wat van jou verskil as gebreinspoel en as onder die invloed van die geldmag te beskou nie. 
     
    Die uitdaging bly staan, versoen die verskille, dit is die antwoord waarvoor gewag word. 
     
    Jesus, is al aan jou as 'n vraag gebied en nou God self. 
     
    Joods: Die een enkele God. 
     
    Christen: God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. 
     
    Islam: Allah wat deur die Koran geken word en geen Christus benodig nie. 
     
    Versoen bogenoemde indien dit moontlik is vir jou? 
     
    Dan gaan jy en koppel Hindoe, wat duisende gode het aan Christen, Joods, hoe doen jy dit?
     
    Hierdie pogings van jou raak nou baie oud en afgesaag. 

    Pluralisme ondersteun ek nog altyd, en het so gedoen van lank terug af, weens die werke van Isaiah Berlin. 

    Pluralisme is die enigste oplossing vir hierdie verskeidenheid om in redelike vrede te kan leef. 

    Indien jy maar net by pluralisme kan kom. 

    Baie dankie

    Wouter
  • CorneliusHenn

    Wouter,  

    Ek is teleurgesteld in jou onkunde. Jy besoek ook duidelik geen plek van aanbidding nie.  

    In erge onthutstheid, tik jy: "Die uitdaging bly staan, versoen die verskille, dit is die antwoord waarvoor gewag word. Jesus, is al aan jou as 'n vraag gebied en nou God self. Joods: Die een enkele God. Christen: God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Islam: Allah wat deur die Koran geken word en geen Christus benodig nie. Versoen bogenoemde indien dit moontlik is vir jou? Dan gaan jy en koppel Hindoe, wat duisende gode het aan Christen, Joods, hoe doen jy dit? Hierdie pogings van jou raak nou baie oud en afgesaag".  

    Wouter, ek is eens met jou dat jou botheid, nou baie afgesaag raak.

    Die eenvoudige antwoord aan enigeen wat sou belangstel omtrent Jood, Moslem en katoliek, is dat al drie die God van Abraham aanbid.  

    "Dolf" en Kobus de Klerk, sal jou egter gou daarop wys, dat net hulle - as "ware Christengelowiges", die God van Abraham aanbid, aangesien al die res op aarde glo afgedwaal het - die Jode ingesluit.  

    Allah, wat in die Koran geken word, is 'n algemene Arabiese woord. In daardie gegewe taal, beteken Allah, God.

    Die woord God, klink voor die handliggend anders in verskillende tale. Dis net in Germaanse tale soos
    Engels en Afrikaans, wat ons Almagtige Skepper, as God verwoord word.  

    Hindoe, word deur kundiges geken as 'n monoteïsties Godsdiens. Selfs in my "Complete IDIOT'S Guide to World Religions (Third Edition)", word Hindoe, baie duidelik as 'n monoteïsties Godsdiens uitgelê.  

    Ek het reeds Abraham se lering en eerbied vir die Koning van Salem genoem. Ek het ook die midrash van die wyse manne uit die OOSTE (Hindoe), aan jou uitgewys. Jy blyk nie in jou wraak daarin geïnteresseerd te wees nie.

    Jy het jouself met die pluralisme opgesaal; ook met jou eie agenda van sogenaamde dialoog tussen godsdiens daarin.

    Dis egter duidelik dat jy die pluralisme, met jou gewaande intellektualisme probeer verydel.  

    Die punt is dat "dialoog" in Godsdiens, as 'n GEESTELIKE gesprek gevoer word.  

    Buitestanders soos jy (met respek), sal eerder intellektualisme - of selfs "spirituele intelligensie" - daaromtrent voer. 

    As lidmaat van die Heilige George Katedraal in Kaapstad, is dit sekerlik ook my voorreg om ons geestelike leiers, soos byvoorbeeld ons geliefde Aartsbiskop Desmond Tutu, se voorbeeld in verhouding met ander Godsdienste hier voor te hou. Ons afgetrede Biskop Desmond Tutu se nederigheid en erkenning van ander se oortuiginge, word oral in die wêreld gerespekteer. Ek vind ook my hart daarin.  

    Maar Wouter, wyl ek jou bronne met respek lees en luister, jy nie my verwysing  na "Around the World in 80 Faiths, eens naastenby opgevolg nie.

    Daarin sou jy in die agt episodes daarvan, so algemeen beskikbaar op Youtube, kon sien hoe katolieke met ander se Godsdiens (sonder jou soort intellektuele dialoog), daarmee omgang.  

    Wouter, wat moet 'n mens na dese van jou sogenaamde intelligensie en intellektualisme dink, veral as jy "Dolf" so klakkeloos napraat -of dien "Dolf" se anderhaat gewoon jou nydige en gebreinspoelde agenda?

    Cornelius

  • Hello, 

     
    Hierdie gesprek het geen nut nie en stap ek nou hiervan af, veral omrede jou enigste verweer nou is dat ek 'gebreinspoel' is en jy soos altyd jou wend to beskuldigings van nydigheid en die strooihalms van die beskuldiging dat ek geen plek van aanbidding kom nie en dat ek Dolf klakkeloos napraat. 
     
    Die een van bogenoemde stellings dra by tot 'n debat nie. Nie dat 'n debat met jou sou moontlik wees nie, maar bevestig dit wel die sinneloosheid van hierdie gesprek.
     
    Ek sluit met die volgende af en het nog nie voorheen in my tyd hier daarna verwys met vorige geleenthede. 
     
    Vir die rekord in die vorige rondte waar jy ook hierdie maaksel van jou verkondig het en ook na die Heilige George Katedraal in Kaapstad verwys het, het ek die kantore gekontak aangesien dit vir my net te vreemd was dat die Anglikaanse volgens jou uitgebrei het om nou Jood en Moslem en sommer Hindoe ook in te sluit en nou een groot familie is.
     
    Dit was met moeite bepaal aangsien jy hier aangegaan het oor hoe 'katoliek' jy is, sekerlik 'n doelbewuste vaagheid van jou kant af, totdat jy eendag die Katedraal se naam laat val het. 

     
    Daar het ek met 'n uitsonderlike dame gepraat wat die dryfveer agter die uitreikprogram is en het die vir my die projek verduidelik en is dit duidelik dat dit doodgewoon intergeloof dialoog is en dat daar geen poging is om ander te oortuig of 'n vermenging van gelowe te bewerkstellig nie. 
     
    Daar was onderneem dat ons in kontak sou bly, aangesien hierdie onderwerp my verbasend na aan die hart is, maar het ons gou kontak verloor, na 'n enkele epos was daar nie weer verdere kontak nie. 
     
    Die oogmerk volgens haar was en is om die mure tussen gelowe af te breek in die sin van aanvaarding en die viering van diversiteit, presies die doelwit van die reeks waarna jy my verwys en 'n reeks wat geen ondersteuning bied dat al die tradisies doodeenvoudig saamgevoeg kan word nie. 
     
    Dit is juis 'n viering van die diversiteit en die einste diversiteit wat ek met my pluralisme ook ondersteun. 
     
    Daar is geen persoon wat my kan oortuig dat net die Moslems, as 'n voorbeeld, die enigste waarheid is. 
     
    Hierdie diversiteit is 'n direkte uitvloeisel van die verskeidenheid van kulture, volke en historiese omstandighede en bevestig vir my die mensgemaakte aard van geloof, maar respekteer ek die diversiteit daarvan en ondersteun dit volkome. 
     
    Daarom is Dolf nie ondersteunend tot my argumente en het hy bevestig dat ek nie reg is nie, maar jou wel bevraagteken in die proses waarin jy veelvuldige waarhede wil reduseer tot 'n enkele waarheid. 
     
    Hoe arrogant is dit nie van jou nie, jy kan nie aanvaar dat die groepering onafhanklik staan van mekaar en dit respekteer moet word. 
     
    My inslag toon veel meer respek aan die verskillende gelowe as wat jou inslag kan droom om te doen. 
     
    Die laaste woord kan joune wees. 
     
    Daar is niks van waarde wat ek uit hierdie gesprek by jou sal vind nie en sluit hiermee af, indien jou beweringe 'n mate van ooreenstemming met die werklikheid getoon het kon daar dalk iets van waarde kom, maar na hoeveel versoeke dat jy aandui hoe jy die verskille gaan versoen is dit duidelik dat jy nie 'n idee het hoe om dit te doen nie. 
     
    Dit wat ooreenstem is 'maklik' en bolangs maar dan begin die uitdagings. 
     
    Weereens die aard van God en die betekenis van Jesus, versoen die verskille net in daardie twee komponente tussen, Judaisme, Christelik en Hindoe. 
     
    Dan kan jy na die tekste gaan en tog aantoon hoe sal die 'midrash' in die Katolieke en Reformasie gevind word. 
     
    Dan die gebruike.... 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
  • CorneliusHenn

    Wouter     

    Na alles, is dit tog 'n heel aangename verassing dat jy wel die moed had om self 'n dienaar by die Heilige George Katedraal te kontak, en jou navraag te doen.  

    Ek het oor die jare heen en verskeie maal al my lidmaatskap - vanaf die Gereformeerde Kerk Alberton-Noord, tot by die Heilige George Katedraal in Kaapstad - asook my pad elders deur die Godsdiens, OPENLIK op die werf gedeel.

    Jou verdagmakery dat ek dit "laat val" het, dui net weereens op jou algemene nydigheid. Wouter, ek het myself reeds verskeie maal van jou onthutste aandrang dat ek kwansuis Godsdiens "tot een" wil vermeng, gedistansieer.

    Behalwe vir al die voorbeelde in my kommentare hierbo genoem, het ek ook menigmaal in my beskouing omtrent die diversiteit in Godsdiens, my onder andere met die bekende Bono se Coexist veldtog, en harte soos Karin Armstrong, geassosieer.

    Wouter, met jou klakkelose napratery van vyande van die Evangelie soos "Dolf" en Kobus de Klerk, probeer jy ook doelbewus my 'n bordjie om die nek te hang en daarmee as strooipop op te stel, so met al jou gebreinspoelde propaganda saam dat ek kwansuis Godsdiens - "tot een vermeng". Jul gunsteling beledigings "mengelslaai in 'n hutspot te klits", is werklik afgesaag en irrelevant.

    Jy sien, ek gaan REGTIG sinagoges, moskees, Hindoe tempels en katolieke katedrale met heilige respek binne, en deel daar Geestelike ervaring, empirie, in diens en tot eer van ons ALMAL se Almagtige Lewende Skepper. Ek nooi jou die klop aan jou hart te ag, en eerder self plekke van aanbidding besoek as om slim te probeer wees op die werf.

    Derhalwe, neem asseblief kennis uit my bydrae hierbo en elders, ek ook menigmaal uit my vele katolieke katkisasie, Bybelstudies, en hart kon getuig het - oral sing en dans harte in al hul diversiteit (VERSKILLENDE weë) tot eer van ons Almagtige Lewende Skepper - ek die EEN en enigste Evangelie daartoe TOEVOEG, in die liefde en genade van onse HERE Jesus Christus.

    Wouter, jy druk jou gewaande veronderstelling "tot een vermeng", nou te lank in my keel om nog verdere empatie met jou duister te verwag.  

    Synde jy tot op hede versuim het om jou veronderstelling dat ek "godsdiens tot een vermeng" te motiveer, ek saam en met liefde wegstap van jou vervelige verdagmakery, en jou erge onthutste, dog "intellektuele" boewery.  

    Dus, van diep uit my pankreas - Wouter - gaan asseblief in vrede heen! 

    Cornelius      

  • En so laat ek jou in vrede, (jou selftevredenheid dit is) en is jy nog steeds so verward soos ek jou gevind het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top