Bybel in Kaaps: Matthias 13 (deel 2)

  • 0

24 Jesus het vi hulle nog ʼn gelykenis vetel: “Die koningkryk vannie hiemel is soes ʼn man wat saadjies in sy land gesaai het. 25 Maa terwyl amal geslaap het, het die man se vyand gekô en onkruid tussen die koring gesaai, en daa weg gegan. 26 Toe die koring plantjies mooi opgekommit, het die onkruid oek opgekô. Die mense wat vi hom wêk het oek die onkruid sien opkô. 27 Die mense wat vi hom gewêk het het na hom toe gegan en vi hom gesê: “Menee, het Meneer die goeie saadjie in Menee se land gesaai nie? Nou waa het die onkruid dan vandaan gekô?”

28 “Dis ʼn vyand wat dit gedoen het.” het die man geantwoort.
Sy werkers het hom gevra, “Wil Menee he ôs moet dit loep uitpluk?”

29 “Niee, lossit,” het die man geantwoort, “wan julle trek netou die koring uit terwyl julle die onkruid uit trek. 30 Lat hulle al twie groei tot die koring ryp is en wanner dit oes tyd is dan sal ek vi die werkers sê, “Maak ees die onkruid bymekaa en maak hulle in bollings vas om uitgebrand te wôt, en dan maak julle die koring bymekaa en pak dit in die skuur.”

Die Gelykenis van die Mostertsaad en die Suurdieg

31 Hy’t hulle nog ʼn gelykenis vetel, “Die koningryk van die hiemel is soes ʼn mostertsaad, wat ʼn man gevat het en in sy land geplant het. 32 Al is die mostertsaad die kleinste van al die soot saad, maa wanne dit groei is dit die grootste van al die plante in die tuin, en dit raak ʼn boem, dit raak soe groot lat die voëls kô nes maak in die boem se takke.”

33 Hy’t hulle nog ʼn gelykenis vetel, “Die koninkryk van die hiemel is soes die bietjie suurdieg wat ʼn vrou vat en in soewat 30 kilogram meel meng totdat deu al die meel gewêk is.”

34 Jesus het al die dinge in gelykenisse an die mense voo hom vetel, daa wassie ʼn ding wat Hy gesê het wa Hy nie in ʼn gelykenis vetel hettie.

35 Soe het die woorde waa gewôt wat die proefeet gesê het.
“Ek sal in gelykenisse praat,
Ek sal oo dinge praat wat van die begin van die wêreld af nie oo gepraat was nie.”

Die Veduideliking van die Gelykenis van die Onkruid

36 Hy’t weg van die mense af gegan en trug in die huis gegan. Sy dissipels het na Hom toe gekô en vi Hom gesê: “Veduidelik die gelykenis van die onkruid in die veld vi ôs.”

37 Hy’t geantwoort: “Die een wat die goeie saad gesaai het, is Ek, die Seun van Mens. 38 Die grond is die wêreld, en die goeie saad is die mense van die koninkryk. Die onkruid is die mense van bose een, 39 en die vyand wat die onkruid saai is die duiwel. Die oestyd is die einde van die wêreld en die werkers is die engele.

40 Soes die onkruid uitgetrek wôt en in die vuur uitgebrand wôt, soe sal dit oek wies in die einde van die wêreld. 41 Die Seun van Mens sal sy engele uitstuu, en hulle sal die sondaars bymekaa maak en weg vat daa wat Got regeer. 42 Hulle sal hulle in die vuu gooi, waa hulle sal klip hard huil en hard op hulle tanne kners. 43 Dan sal die mense wat gegloe het in die wette van die Jirre skyn soes die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie oekal ore het, lat hulle hoo.

Die Gelykenis van die Geldkis en die Pêrel

44 “Die koninkryk van die hiemel is soes ʼn geldkis wat weg gestiek is in ʼn veld. As iemand dit moet kry, dan sal hulle dit wee wegstiek, en met daai geluk in sy hart sal hy gan en alles wat hy het vekoep om daai stuk land te koep.

45 Die koninkryk van die hiemel is oek soes ʼn vekoepsman wat opsoek is na baie duur pêrels. 46 Wanner hy een gekry het wat baie duur is sal hy weg gan en alles wat hy het gan vekoep om die duur pêrel te koep.

Die Gelykenis van die Net

47 Die koninkryk van die hiemel is oek soes ʼn visnet wat afgegooi is in die see en wat veskillende soote visse gevang het. 48 Toe dit vol was het die vissermanne dit uitgetrek op die sand. Dan het hulle gesit en die goeie visse bymekaa gemaak en in mandjies gegooi, maa die die slegte visse het hulle weg gegooi. 49 Dis hoe dit sal wies in die einde van die wêreld. Die engele sal die mense wat gehoorsaam was onner die wette van die Jirre van die bose mense af skei, 50 en hulle weg gooi in die vuur, waa daa klip hard gehuil sal wôt en ʼn gekners van tanne sal wies.”

51 “Het julle alles die goed vestaan?” het Jesus gevra.
“Ja.” het hulle geantwoort.

52 Hy’t vi hulle gesê, “Dis hoekô elke skrifgeleerde wat ʼn dissipel vannie koninkryk van die hiemel geraak het is soes ʼn eienaar met ʼn groot huis wat uit sy stoorkamer niewe skatte as oek ou skatte uit bring.”

ʼn Proefeet Sonner Eer

53 Toe Jesus die gelykenisse kla vetel het, het hy anbeweeg van daa af. 54 Hy’t by Nasaret angekô, daa waa Hy groot geraak het, en Hy het die mense in hulle sinagoge beginte lee, en hulle vebaas oo die goed wat Hy vi hulle geleerit.
“Waa het die man die wysheid gekry? En hoe kan hy die wonnerwêkke doen?” het hulle gevra.

55 “Is die nie die seun van die man wat houtwêk nie? Is sy ma se naam nie Maria nie? En is sy broes nie Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En is amal sy sustes oekie met ôssie? Hoe kan Jesus dit alles doen?” 57 En hulle het nie gehou van wat Jesus gedoen of gesê het nie.

Maa Jesus het vi hulle gesê: “ ʼn Proefeet wôt geluiste en gerespekteer in anner plekke, maa in sy eie plek waa hy groot geraak het, en in die huis waa hy groot geraak het luiste niemand vi hom of respekteer hom nie.”

58 En Hy’t nie baie wonnerwêkke daa gedoen nie, wan die mense het min geloof gehad in Hom.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top