Bybel in Kaaps: Job 5

  • 0

Élifas

 “Job, djy kan maa skrie, maa wie gat jou antwoort?

Watter een van engele gat vi jou luiste?

2 ʼn Mens wat dom is kla en hy wôt kwaad,

maa dit maak hom dood.

Jaloesie venietig mense wat soes kinnes angan.

3 Ek het self gesien hoe lekke dit gan met dwase mense,
maa skielik het donkerte oo hulle huise nee gesak.

4 Hulle kinnes wassie mee veiligie.

Hulle veloo hulle sake innie hof.

Niemand staan op en praat vi hulle nie.

5 Mense wat honge en dôs is iet die koring
wat die dwaas afsny.
Hulle iet glad die koring wat tussenie dorings groei.

Hulle proebee alles vat wat die dwaas het.

6 Swaa tye groei nie net uit die gront uittie.

Moeilikheid springie uitie gront uittie.

7 Niee, mense wôt gebore om swaa te kry.

hulle liewe is gou veby,

dis net soes vuuvlamme wat gou vedwyn.

8 Maa as ek djy was, dan sal ek voo God gan staan,

en my saak voo Hom neelê lat Hy dit kan oordeel.

9 Wan Hy doen wonnerlike en groot dinge wat ôssie kan vestaanie.

Hy doen wonnerwêkke meer as wat ôs kan tel.

10 Hy stuu rient na die aarde toe.

Hy lat die veld nat wôt daa buite. 

11 Hy lig mense op wat se gies gesakkit.

Hy tel mense op wat hatseer is.

Hy hou hulle veilig.

12 Hy maak die slegte planne van mense wat skelm is deumekaa.

Die wêk wat hulle doen slaagie.

13 Sommige mense dink hulle is soe slim,

maa God vang hulle met hulle eie skelm planne.

Hy vieë weg die slegte planne van mense wat wil bedrieg.

14 Die donkerte maak hulle toe wanner dit dag is.
In die middag voel hulle innie ronte soes dit al nag is.

15 God red mense wat niks hettie.

Hy red hulle van die mense wat hulle beskuldig.

Hy red hulle van die mense wat stêkker is as hulle.

16 Dis hoekô die arm mense wee kan beginte hoep het,

en niemand kan vekere dinge an hulle doenie.

17 Geseënd is die mens wat God wil leer.
Soe moenie die kragtige leiding van die Almagtige haatie.

18 God maak see, maa Hy maak daai seeplekke wee toe.

Hy slat stukkend, maa Hy maak wee daai stukkene plekke gesond.

19 Hy sal jou elke kee wee red,

Hy sal kee dat niks slegs met jou gebeurie.

20 Wanner daa nie genoeg kos issie, sal God kee lat djy nie doodgannie.

Wanner djy in ʼn oorlog is dan sal God kee dat ʼn swaard jou nie sal plat slattie.

21 Hy sal jou veilig hou van woore wat jou kan see maak.

Djy hoefie bang te wies wanner alles om jou venietig wôttie.

22 Wanner dit gevaalik is, en daa is hongesnoot dan sal djy lag.

Djy sallie bang wies vi wille diere nie.

23 Djy sal ʼn vebond mettie klippe innie veld maak.
Hulle sallie jou koring see maakie.

Selfs die wille diere sal in vriede met jou liewe.

24 Djy sal wiet dat die tent wat djy in liewe veilig is.

Djy sal sien dat niks weg is wanner djy na jou weivelde kykie.

25 Djy kan vesiekerheid hê dat djy sal klompie kinnes het.

Jou afstammelinge sal soe baie wies soes die gras in die veld.

26 Djy sal sterf en innie graf kô na ʼn gelukkige liewe.

Djy sal soes koring wies wat bymekaa gemaak wôt op die regte tyd.

27 Dis wat ôs uitgevind het, en dissie waarheid.

 Djy moet na dit luiste,

en en dit op jou self toepas.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top