Ek het mev Yolande Korkie op TV gesien net nadat sy vrygelaat is. Ek het probeer om op hoogte van sake oor haar man se welstand te bly. Ek het vir die ergste gevrees toe ek hoor dat die terroriste 'n groot losprys eis.
Ek het naderhand "vergeet" om op hoogte van sy lot te bly totdat ek die nuus kyk en die berig lui dat Pierre Korkie vermoor is. Ek het gehoor dat die Amerikaners 'n bevrydingsoperasie van stapel gestuur het. Soos in alle vorige operasies van die aard is ek weereens nie teleur gestel nie, dit was om die minste te sê 'n groot f..op. Volgens gerugte het 'n hond begin blaf wat die wag wakker gemaak het en hy seker die gevaar gesien het. Wat my tot erge stomheid slaan is die Amerikaners met al hul wapentuig, tegnologie en wie weet wat alles, geen sukses op die tipe operasie kan behaal nie. Ek kan nie dink aan een operasie van die aard wat al deur die Amerikaners uitgevoer is, suksesvol was nie. Ek wonder wat hulle met die Entebbe-operasie sou gedoen het. Dit daar gelaat.
Ek kry Yolande Korkie en haar kinders ontsettend jammer. Dood van enige geliefde is beslis nie aangenaam nie. Dit is nog erger as die persoon vermoor word. Ek kan nie verstaan wat in 'n persoon se kop aangaan om iemand koelbloedig te vermoor nie.
Om by die punt te kom. Ek haal my hoed vir die merkwaardige vrou af. Dit verg baie van enige persoon om die persoon wat vir die dood van 'n geliefde verantwoordelik is te vergewe. Vergifnis bevry jou. Om 'n wrok te dra en te wroeg daaroor maak jou siek. Jy word geestelik en later liggaamlik siek. Jy is op 'n vernietigingspad en as jy jouself nie baie vinnig daaruit kry nie, is dit self lang bome toe met jou. Vir die ongelowiges, dit is 'n voorbeeld van iemand wat diep gelowig is. Sy dra nie wrokke nie, sy vergewe, sy blameer nie God of vra hoekom Hy dit toegelaat het nie.
Ek kan haar en haar gesin slegs die beste toewens. Soos alles genees smart en gebroke hart ook met tyd.
Reusedwerg

