Winkelruik

  • 1

Ek verbeel my ek het al hieroor gesels eendag lank terug.

Mens het mos maar die reuke wat jou bybly en jou dag maak of breek. Vreemd egter hoe daardie reuke met die dae en jare afgewater word. Ek onthou nog die ou winkelruik van bruinsuiker en halfgebrande koffiepitte en lampolie-yskaste en ou Pret vet toegedraai in ou koerante en aartappels en uie en regte seep en Spies roltabak en BB en Boxer en dalk nog Fox en Springbok ook alles gemeng. As jy die deur oopmaak vang die reuke jou en staan jy letterlik vir 'n paar sekondes stil om elkeen in te neem. En die geheel te waardeer.

En tog, met die tyd verander die reuke. Want die ou lampolie-yskas moet plek maak vir 'n beter, meer effektiewe ene wat met Eishkom se beste werk. Weg is die swart gebrande ceiling en dis beter so want verf is duur en nuwe verf ruik in elk geval nie lekker nie. Die stilte van die lampolie-yskas verander na die stille gehummmm van die 60Hrtz nuwe gedrog wat baie minder plek vat en baie meer kan vat.

Die bruinsuiker se unieke reuk is vervang deur geraffineerde goed wat in mooi verpakkings kom en blykbaar baie ongesond is maar wie gee om? Niemand brand meer koffie nie en selfs die halfgebrande pitte se reuke vervaag met tyd en het ook nou deesdae 'n vervaldatum op, soos alles ewe skielik deesdae het.

Die nuwe plekke ruik mos soos die hospitale destyds geruik het: bleikmiddels en ontsmettingsmiddels en polering dat jy jouself kan mooimaak daarin en hospitale ruik na ou bloed en nugter weet wat nog. En ons gaan vorentoe want niemand rol meer sy rookgoed self nie, want dit word vir ons gedoen.

Wanneer laas het jy by 'n slaghuis ingestap en vars vleis geruik? Ek kan verstaan waarom nie want die reuk van vleis is net goed as jy ver genoeg van die arme skaap af is en goed gemarineerd is en met Jimmy's braaisous glad nie meer na vleis ruik op die kole nie. Want ons wil nie weet van slagpale nie. Want dit is wrede plekke daai. Mammie verkies die vars klank van nailpolish remover bo die wrede reuk van gebrande vleis.

Ek stap in by my plaaslike designer ontwerpte hipermark/blygemaakte spaza shop en ek ruik die klank van drade, elektriese kabels en lotto miljoene wat niemand wen nie. Die reuk van plestiek brand my neus en die klewerige goed wat hulle in die emmer gooi om die vloer te laat blink brand my neus. My rubber skoensole maak lelike geluide op die vloer, en voor ek myself sover kon kry om te bitch en moan oor die verlede toe moet ek erken: selfs nie eens die mechanic se werkswinkel ruik meer na olie nie.

Tyd, dalk om te aanvaar dat niks meer kan bly soos dit was nie. Nie eens al vat die ou reuke jou terug na tye toe dit nie so maklik of dalk makliker was nie.

oester

  • 1

Kommentaar

  •  ... en saagsels op die slaghuisvloer
     ... en 'n melkery daar naby wat ook kaas en jogurt verkoop en hulle het 'n man met 'n strepiesoverall wat met 'n fiets met 'n mandjie voor vleis, toegedraai in bruinpapier en vasgebind met lyn, aflewer by jou huis
     ... en die kafees het langs elke tafeljie 'n kassie teen die muur waarop jy vir 5c musiek kan kies terwyl jy wag vir jou R2,38 mixed grill
     ... en 'n roadhouse waar hulle jou bestelling op 'n skinkbord aan jou karvenster kom haak
     ... en flieks en busse en vliegtuie met asbakkies op die rugkant van die sitplekke gemonteer
     ... en alles

    ja-nee, daar was 'n paar lekker goed in die ou tyd
    ,

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top