Ek kom, via die Praagblad, op ‘n artikel af van prof Wilhelm Jordaan waar hy soos Max, Piet-hulle en ander ontkenners, weer eens ‘n beroep op die mense doen om die negatiewe goed in die land te ignoreer; hy reken dit maak jongmense mismoedig as mens daarvan praat. Hy wil ook nie hê mens moet die jonges vertel van goeie goed wat in die verlede gebeur het nie (seker soos dat prestasie die maatstaf vir universiteitstoelating was, of dat studente sonder sekuriteitsbegeleiding kampus toe kon stap); dit ontstig net die vir wie daardie voorregte nie beskore is nie.
Wilhelm maak die volgende stelling: Nostalgie, as ’n verheerliking van die verlede, is besig om ’n breedlopende negativisme oor Suid-Afrika te voed.
Dit is ‘n ongeldige stelling. Nostalgie, ‘n soort van heimwee (want jy kan, benewens jou heim, ook na ander goed verlang), is ‘n emosie en jy kan nie ‘n emosie na willekeur oproep en aanwend om iets te verrig nie, soos byvoorbeeld om “ ... negativisme oor Suid-Afrika [te] voed ...” nie.
‘n Emosie onstaan spontaan. Nostalgie, spesifiek, word voortgebring deur ’n onaangename hede en ‘n behaaglike verlede. Dit mag wees dat die verlede nie só behaaglik was nie maar hoe meer onaangenaam die hede is, hoe meer behaaglik skyn die verlede te gewees het, self idillies (soos wat die geval alhier is).
Wilhelm skiet homself dus in die voet: Die blote feit dat nostalgie so algemeen is dui op verval. Buitendien, wat maak daardie stelling meer geldig as byvoorbeeld ‘nostalgie is ‘n sielepleister in ‘n chaotiese wêreld’ of ‘nostalgie, as ‘n kruk, bring verligting’? Die antwoord is ‘niks’, laasgenoemde twee stellings, net soos die prof s’n, is ongegronde persoonlike menings.
Voorts maan die prof dat deernis tog gehê moet word met die arme bloedjies wat in huise bly waar nostalgie heers. Wat ‘n belediging vir die jonges se oordeelsvermoë. Dink hy hulle kan nie onderskei tussen swartgalligheid en feite nie? Hulle voel tog immers regstellende aksie meer aan hulle bas as die ouers. En wat ‘n belediging vir die ouers; dink hy hulle sal nou willens en wetens hulle kinders gaan staan en swartgallig maak? Die prof verwar die blote konstatering van feite en nostalgie.
Hierdie oor-die-vingers-tikkery van Wilhelm Jordaan is ‘n variasie van ‘n Freud-tipe blaps. In sy kop sê hy “o f#k ons het ‘n gedrog geskep” maar wat uitkom is ‘n sinnelose preek.
Jan Rap

