Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my laaste brief en skryf maar weer my kommentaar per paragraaf.
Par1
Jy’t oorspronklik gepraat van beteuderde taaltjies en ek het gesê daar is nie so iets nie, net beteuterde mense. Dit het jou tot die gevolgtrekking gebring dat ek sê Afrikaners is beteuterde mense wat natuurlik nie waar is nie. Dit was ‘n gesukkel om aan jou te verduidelik dat ‘n mens goed kan wees op baie gebiede en terselfdertyd pateties kan wees wat taalhandhawing betref. Nou kom jy uit met ‘taal is vir almal’. Hoe bring jy die kloutjie by die oor? Niemand hier het nog ooit gesê dat taal nie vir almal is nie.
Par2
Ek wil geensins Afrikaners se taal beheer nie; ek maak net beswaar teen die verdringing deur Engels.
Par3
Ek het vir jou voorbeelde gegee waar taal, of woorde, wel voorgeskryf word soos byvoorbeeld leerder, onderwyser vir onderwyseres ens. Die skoolvak taal, Afrikaans, Engels, Duits, noem maar op, is waar ‘n onnie voor in die klas staan en kinders korrekte taal leer.
Jy beweer ek wil nie hê mense moet ‘usually’ gebruik nie. Verkeerd, wat ek sê is dat, indien mense byvoorbeeld ‘n sin gebruik soos “usually as ek my goals geset het achieve ek hulle” is dit nie Afrikaans nie. Mense wat nie ‘n kennis van Engels het nie sal nie daardie sin verstaan nie. Jou argument dat alle tale leenwoorde het, het niks met die prys van eiers te doen nie want nie een van bogenoemde Engelse woorde is leenwoorde nie, dit is gewoonweg Engelse woorde.
Terloops, daar is geen verskil tussen die betekenis van “usually” en “gewoonlik” nie; as daar was sou die Engelse dan partykeer die Afrikaanse woord in plaas van die Engelse een gebruik het vir daardie ‘ander’ betekenis.
Par4
Jy’s miskien reg, die woorde is dalk ingegooi omdat die spreker Afrikaans nie goed kan praat nie. Jy’s verkeerd as jy sê leenwoorde het op dieselfde manier die taal binnegedring. Koppie, veld, vlei, trek, krans, spoor, angst, juggernaut, yacht, sloop, skipper ens is in Engels ingeburger nie omdat iemand dit gehoor het nie maar omdat hulle nie Engelse ekwivalente gehad het nie.
Par5
Nou goed, as jy dan nou puntenerig wil wees laat ek dit net bietjie uitbrei aan die hand van jou stelling: Jy’s verkeerd, wat met Afrikaans gebeur, gebeur nie met al die tale in die wêreld wat in aanraking met ander tale is nie, dit gebeur net met die tale wat besig is om te verdwyn.
Jy, wat gereeld die bewering maak dat taal ‘n lewende organisme is, kan blykbaar nie onderskei wanneer hierdie organisme gevoed word, of wanneer hy afgeknou word nie. Die feit dat jy die met-Afrikaans-besmette Engelse sin as belaglik beskou, wys insgelyks hoe belaglik die met-Engels-besmette Afrikaanse sin is. Die feit dat jy so ’n sin verdra, nog erger, goedpraat, kan slegs om PK-redes wees want taalkundig is dit ‘n gruwel.
Par6
Jy’s nou weer by die wegspringplek; hierdie ding is al deurtrap. Jou taal orden nie jou denke nie. Jy kan jou denke oordra deur ‘n gesigsuitdrukking, ‘n tekening, lyftaal of natuurlik, die mees algemene vervoermiddel vir denke naamlik taal. Jy kan die woorde beskou as hakies waaraan sekere begrippe gekoppel word en die ontvanger dekodeer dan, as ’t ware, die boodskap; hy ‘ontkoppel’ die begrip en sit dit in sy kop.
‘n Rekenaardrukstuk byvoorbeeld ‘orden’ nie die blitssnelle elektroniese aksie in die rekenaar se brein nie, die drukstuk is bloot (letterlik) die uitdruk van die reeds geordende verwerking van data, die resultaat van een formidabele berekening. Netso met jou boodskap wat jy in taal omgeskakel het; die begrippe, redenasie ens was reeds georden, jy verpak dit net in woorde om die boodskap uit te stuur.
Hoe dink jy beredeneer ‘n wetenskaplike soos Einstein, byvoorbeeld, begrippe waarvoor daar nog nie woorde of name voor is nie? Hoe kan hy aan dinge dink waarvoor daar nog nie eers name is nie as hy in taal moet dink soos jy beweer?
En hakkel en soek na woorde deur te um en te a, is glad nie dieselfde ding nie. ‘n Ou wat hakkel hét die woord, hy sukkel net om hom uit te spreek maar ‘n ou wat um en a soek die woord waaraan hy die begrip, wat in sy denke bestaan, kan koppel.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Par. 1
Jy sê daar is net beteuterde mense, en hulle is nie Afrikaners nie. Wie is dan die sg beteuterde mense? En waarom beskou jy hulle as beteuterd? So, jy stem saam, taal behoort aan almal. Mag Pietie maar sê: Haai, ouens, ek het my goal bereik?"
Par. 2
Dis jou reg om beswaar te maak teen die indringing van Engels. Destyds, toe Afrikaans vorm aangeneem het, het taalpuriste ook woes geprotesteer teen die verminking van Nederlands en die gebruik van vreemde woorde.
Par. 3
Dis goed as 'n skool 'n taal vir kinders leer. Dit maak hulle taalbewus, en verskerp hulle taalvaardigheid. Sou jy sê dat as daar nie skole was nie, of as tale nie deur skole aangebied is nie, dat mense nie met mekaar sou kon kommunikeer deur middel van taal nie? Afrikaans het oa ontstaan as gevolg van gebrek aan skoling.
As iemand in 'n gesprek sou sê: "Usually, as ek my goals geset het, achieve ek hulle," dan praat hy met iemand wat dieselfde taal as hy praat, en wat dit verstaan. Hy sal nie met iemand so praat wat nie verstaan wat hy praat nie. Jou storie dat iemand wat nie Engels ken nie, sal dit nie verstaan nie, is sommer 'n strooipop. As 'n woord van 'n ander taal, hetsy Engels, of Frans, Duits of Italiaans, in 'n Afrikaanse sinskonstruksie gebruik word, en dit word dikwels deur baie sprekers gebruik dan is dit 'n leenwoord. Dit is so met usually, goals en achieve. Al drie die woorde het sinonieme in Afrikaans, maar dis nie algehele sinonimie nie.
Par4
Jou definisie van ʼn leenwoord, nl dat daar in die taal wat die woord leen nie ʼn ekwivalent is nie, is ʼn taalpuristiese siening. ʼn Leenwoord is enige woord wat aan ʼn ander taal ontleen is. Al het jy sakke vol suiker, as jy by jou buurman ʼn koppie suiker leen, dan leen jy dit. Jy kan dit permanent hou en nie teruggee nie, of jy kan dit tydelik hou en weer terug gee. ʼn Engelssprekende sal nie “in plaas van” in Engels gebruik nie, want dit pas nie in die Engelse grammatikale konstruksie nie.
Par. 5
Ek is nie puntenerig nie. As ek verkeerd is, en jy oortuig my dat ek verkeerd is, sal ek dit ruiterlik erken. (Ek wonder soms of jy nie maar net halsstarrig redeneer oor iets, net omdat jy dink dit sal jou eer krenk as jy erken jy is verkeerd nie.) Wat gebeur met Afrikaans en Engels langs mekaar in Suid-Afrika, gebeur met ander tale wat ook langs mekaar is. Afrikaans is beperk tot Suid-Afrika en kan όf verryk word deur Engels en groei en gedy, όf Afrikaans kan daardeur verdwyn. Engels word ook verryk, maar sal nie verdwyn nie, omdat dit ʼn wêreldtaal is.
Ek dink ek het al na die Nederlands/Duitse grens verwys, waar Nederlands aan die Hollandse kant erg na Duits klink, terwyl die Duits aan die Duitse kant weer erg na Nederlands klink.
Par.6
Jan, ek wil nie verder met jou hieroor stry nie. Dink jy maar soos ʼn padda; ons ander mense voer maar ʼn gesprek met onsself as ons dink. Einstein moes deur middel van taal redeneer om sy eie teorie te verstaan. Hy het dit selfs ʼn naam gegee.
Iemand wat hakkel probeer die woord sê waaraan hy gedink het.
Groete,
Angus