Nou die Saterdagoggend op RSG se reisprogram kon ‘n vrou nie uitgepraat raak oor hoe wonderlik Ethiopië was nie. En ek glo haar, soos sy die plek beskryf sal ek dit vreeslik graag wil ervaar. Sy sluit af met die versoek dat almal wat Ethiopië wil besoek dit so gou moontlik moet doen “ ... voordat die toeriste die plek ontdek ...” en dan, by implikasie, die plek bederf vir mense wat die vreemde wil sien en waardeer.
‘n Week of twee later word dieselfde gesê, ek weet nie of dit ‘n herhaling van dieselfde program of ‘n ander program was nie maar dié wat ernstig is oor die ervaar van nuwe dinge word toe weer gemaan om so gou as moontlik Ethiopië te besoek voor toeriste dit kom opfoeter.
Daar het julle dit nou vanaf ‘n eerlike kundige reisende vrou, presies wat ek ‘n paar weke vantevore gesê het maar julle neem my mos nie ernstig op nie oor ek uit ‘n arm familie kom. Toerisme bederf ‘n plek, verander sy karakter. So, hierdie storie van al die Engels wat “ ... maar vir die toeriste ...” is, is onsin. Al die Engels by Sanparke, al die Engelse spyskaarte, brosjures, aanwysings, alles maak van ons plek wat hy nie is nie, gee die toeris die indruk dat hy iewers in ‘n Britse kolonie is (wat eintlik wel die geval is deesdae).
Buitendien, geld uit toerisme behoort nie eers by die binnelandse produk getel te word nie want daar is geen produksie nie; arbeid bestee aan pamperlang lewer niks. As mens nou mooi dink geld dieselfde vir goud, vir enige mineraal of ding waarmee ‘n land geseën is, want wat gebeur as die goud, of steenkool of platina opraak?
Dit is ‘n ander storie as ‘n land sy seëninge, noem dit maar talente, gebruik. Die goud uithaal en juwele maak, die soort van ding, of uitlaatsisteme met die platina, of potjies of enjins met die ystererts. Om dit egter net uit te haal en spotgoedkoop te gaan staan en verkoop aan ander lande is waansin en uiteindelik ekonomiese selfmoord.
Maar ek dwaal af; wat ek wil sê is, om toerisme te onderhou, is waansin.
Jan Rap


Kommentaar
Jan
Jy skryf: "om toerisme te onderhou, is waansin".
Toerisme word nie onderhou nie, inteendeel toerisme vorm 'n belangrike onderverdeling van die ekonomie om die land te onderhou. Afrikaners en Afrikanerbelange het groot aandeel in toerisme. Toerisme is ook nie net mense van die buiteland nie. 'n Baie groot gedeelte daarvan is inheems.
En laaik dit of nie, Engels is die aangewese taal vir die toeristebedryf.
Jan, jy praat alweer baie nonsens. Só baie dat dit 'n lys regverdig:
1. Sonder om in die dame se karakter in te klim ('n “eerlike kundige” volgens jou) moet jy onthou sy probeer om 'n duur reisgeleentheid aan jou te verkoop – moet haar nie so ernstig opneem nie. “
2. "… geld uit toerisme behoort nie eers by die binnelandse produk getel te word nie ...”. Jy het lanklaas groter strooi gepraat. Dis 'n groot bron van inkomste vir die land en skep 'n verdienste vir 'n klomp mense. Die groot ding van toerisme is juis dat dit nie opraak nie en arbeidsintensief is. Jy sal ook moet erken dat Kortbroek hier goeie werk gedoen het?
3. Nadat jy vir ons bewys het dat mynbou die land verarm terwyl van toerisme juis die teenoorgestelde gesê kan word, sluit jy sowaar af met: “ … om toerisme te onderhou, is waansin.”
Ag nee Jan! Jy kan mos beter. Probeer weer, terwyl jy nie radio luister nie!
Jan, kom ons maak jou vir die oomblik Minister van toerisme, en jy het alleenreg om te besluit in watter taal Sanparke se brosjures beskikbaar sou wees. Wat sou jy hieroor besluit het? Alles net in Afrikaans, alles net in een van die ander inheemse tale, alles in Afrikaans én al die ander inheemse tale? Nêrens enige Engels nie?
Gee vir ons jou praktiese oplossing vir die saak asb, op so 'n manier dat 'n toeris, hetsy binnelands of buitelands wat nie een van die inheemse tale magtig is nie, 'n aangename ervaring by Sanparke se oorde sal hê. Ons hoor graag van jou.
Jaco
Laat ek dit dan anders stel: Om toerisme te pleeg is waansin. Dis lyf wegsteek, dis die grond vee terwyl die ander ouens pikslaan. Om 'n ekonomie, of selfs 'n deel daarvan, op toerisme te baseer is nie volhoubaar nie. 'n Toerismebedryf is vergelykbaar met 'n dieretuin; diere word op onmenslike wyse, oukei, ondierlike wyse, ingehok vir menslike vermaak. Luigatte staan aan roomyse en lek en kyk half verveeld na diere buite hulle natuurlike habitat.
Jy sê 'Afrikaners en Afrikanerbelange het 'n groot aandeel in toersime' en in dieselfde asem dat Engels die aangewese taal vir die toerismebedryf is. Hoe rym dit? Dit is net mooi andersom; toerisme, spesifiek die manier wat dit in Suid-Afrika bedryf word, is 'n dolk in die hart van Afrikaans en op die manier dan glad nie bevorderlik vir Afrikanerbelang nie.
Jy sê ook dat toerisme nie net vir buitelanders is nie. Natuurlik nie; daarom is dit 'n afjak vir Afrikaners dat alle inligting by vakansieplekke net in Engels is. Buitendien, geld wat op vakansies en kuier spandeer word deur Suid-Afrikaners kom van die land en bly in die land. Op die manier is 'n toeristebedryf vir inheemses meet regverdigbaar as die gepamperlang van buitelanders.
So, laaik dit of nie, Engels is NIE die aangewese taal vir toerisme nie. Engels, ook in die toerismebedryf, is die taal wat die nuwe base wil hê jy moet praat.
George
1. Soos ek kan onthou was die betrokke dame wel 'n toeris, nie iemand in die toerismebedryf nie. Buitendien, sou sy in die bedryf wees, sal dit mos simpel van haar wees om toeriste af te maak as mense wat 'n plek gaan bederf; dan praat sy mos téén haar klandisie wat nie goeie besigheidsin is nie of hoe?
2. Dis juis my punt; dit BEHOORT nie 'n groot bron van inkomste te wees nie, want dis nie volhoubaar nie. Wat word van Kanada se toerismebedryf as die laaste rooihuid dood is, of van Ysland s'n as 'n vulkaan die lugruim onbegaanbaar vir vliegtuie maak? Die groot klomp mense wat in die toerismebedryf werksaam is kan elders 'n positiewe bydrae tot die ekonomie maak - diamantslypers, goudsmede,loodgieters, ingenieurs, onderwysers, aktuarisse, passer-en-draaiers, skrynwerkers, die soort van ding.
En Kortbroek hét wel goeie werk gedoen maar dit bewys dat Kortbroek bekwaam is, nie dat toerisme so wonderlik is nie.
3. Ek het nêrens 'bewys' dat mynbou die land verarm nie; ek het gesê ons moet self die grondstowwe verwerk eerder as om dit vir 'n appel en 'n ei aan die buiteland te verkwansel. Mynbou sal nog steeds daar wees want hoe de joos anders moet jy die grondstowwe in die hande kry om dit te verwerk? En laat ek dit weer sê - om grondstowwe ('n geskenk) uit te haal en bloot te verkoop is soos om geld uit die land se natuurskoon (landskap, wild ens), ook 'n geskenk, te maak. Dit is nie volhoubaar nie en, as mens nou so daaraan dink, nog half oneties ook.
Dirk Rigter
Ek reageer op jou uitdaging hierbo.
Die taal op die brosjures sal Afrikaans wees, soos dit nog altyd was. Dit is ter wille van die Afrikaners (meeste besoekers in elk geval), die helfte van die bruin Afrikaanssprekendes (die ander het al 'opgradeer Engels toe' soos Breyten Breytenbach dit stel), die Engelssprekende Suid-Afrikaners wat Afrikaans kan praat en dan 'n gedeelte van die Hollanders en Belge wat met 'n bietjie moeite dit sal verstaan.
Op die agterblad is Duits, Engels, Frans, Italiaans, Portugees, Spaans en Russies (alfabetiese volgorde en natuurlik in 'n kleiner lettertipe sodat alles kan inpas). Die Engels is vir die swartes (wat al lankal hulle eie tale versaak het vir die omhelsing van Engels), die ander helfte van die bruines en Engelssprekendes wat nie Afrikaans magtig is nie en dan natuurlik party van daardie Europeërs wat so graag Engels se gat lek (ek verstaan dit sluit veral 'n klomp Hollanders is.
Nou ja Dirk daar het jy dit, die toeris sal dan werklik voel hy's in Suid-Afrika en dit sal vir hom dus 'n wonderlike ervaring wees.
Jan Rap