Wat maak van ? mens ? mens?

  • 9

Ek hou van gedagte-eksperimente. ? Mens het geen duur apparaat of laboratorium nodig nie, en jy kan dit sommer by die huis probeer. Sulke gedagte-eksperimente is baie belangrik vir oa ook die wetenskap. Daarsonder sou daar bv geen relatiwiteitsteorie gewees het nie. As Einstein hom nie verbeel het hoe dit moet wees om op ? ligstraaltjie te ry nie, of wat werklik plaasvind as twee rowers mekaar skiet, die een in ? hysbak en die ander een buite nie, sou die wetenskap nog gesit het met Bybelse sesdagskepppingteorieë.

Hier is ? eenvoudige gedagte-eksperiment. Stuur jou vrou om te gaan inkopies doen, gee jou kinders geld om te gaan fliek, gaan doodstil sit in jou studeerkamer, en verbeel jou dat daar nie so iets soos taal is nie. Geen spesie op aarde het nou die taalvermoë om ? taal aan te leer en daardeur te kommunikeer nie. Geen gesprekke kan plaasvind nie en boeke, koerante, tydskrifte, verdwyn.

Menslike denke, soos ons dit ken, sal onmoontlik wees, want per slot van rekening is dit tog maar taal wat daardie denke orden. Ons sal nie mekaar so lekker in die hare kan vlieg hier op SêNet nie, om die waarheid te sê, daar sal nie eens rekenaars wees nie. Sou daar miskien winkels wees, wat ek betwyfel, sou jy niks kon koop nie, want jy sou op geen blikkie kon lees wat die inhoud daarvan is nie, en buitendien sou jy geen geld gehad het daarvoor nie. Miskien sal jy kan Rugby speel, maar seker met ? kalbas of karkoer, en beslis nie volgens die ingewikkelde reëls van vandag nie. Daar sal geen tennis wees nie om die eenvoudige rede: daar is geen rakette, balle of bane nie. Jy sal geen liefdeswoordjies in jou meisie se nek kan fluister nie. Dalk sou jy kon grom as gevaar dreig, maar grom is nie taal nie. Dit waarsku slegs teen die hier en nou; dit kan nie vertel van “Die ander dag/ toe die blou visvanger stil was na sy jag” nie. (aanhaling uit RAKA, N.P. van Wyk Louw). Blaf kan ook nie toekoms voorspel nie.

Die uiteinde van die saak is dat ons in bome bly, en so van tak tot tak rondswaai. Miskien sou ons dalk ? grot ontdek waarin ons teen die koue suidewind sou kon skuil. Hierdie grotbewoners sou nie eens ? Bybel op bokvelle kon skrywe nie.

Taal maak van ons mense.

Miskien is dit ál wat van ons mense maak.
Angus

  • 9

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Angus,

    Skryf nou vir ons 'n verbeeldingsopstel oor die evolusionêre ontwikkeling van taal, sedert die tyd toe die eerste homo sapiens sy verskyning gemaak het op die aardbol tot op die hede. Ontwikkel taal pari passu met die evolusie van die larynx of spraakorgaan, en hoe uniek is hierdie orgaan by homo sapiens, of het bv voëls soos pappegaaie en bobbejane derglike spraakorgane?

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Mens dink nie in 'n taal nie Angus.  Selfs om denke te orden is taal nie noodwendig nodig nie; jy kan 'n tekening ook maak.  'n Goedgedetailleerde huisplan het byvoorbeeld nie een enkele byskrif nodig nie.
    Wat die mens van 'n dier onderskei, daar's jy heelwaarskynlik reg, dat dit taal is.  Jy kan egter nie van 'n dier 'n mens maak deur hom 'n taal te leer nie; taal is eerder een van die manifestasies van menswees.

  • Beste Jan,

    'n Mens dink nie noodwendig in taal nie, maar daardie abstrakte denke moet deur taal georden word. Ek dink nie die mens sou ver gekom het deur net met tekeninge te kommunikeer nie. Ek teken maar sleg; dan sou jy my nog minder verstaan het. 
     
    n Dier kan nie 'n taal aanleer nie, nie soos die mens dit gebruik nie. Die sleutel lê in die RAKA-aanhaling. 'n Dier se "taal" het slegs betrekking op die teenwoordige, dit kan nie praat oor die verlede of die toekoms nie. Die mannetjiesaap kan sy wyfie en kinders slegs waarsku dat daar op hierdie oomblik 'n mamba in die boom is. Hy kan hulle nie vertel van mambas wat in die verlede ape gepik het nie, hy kan ook nie vertel wat gebeur as 'n mamba 'n aap pik nie. 
     
    As ek sê "taal maak van ons mense" dan sê jy "nee, wag so 'n bietjie; taal is eerder een van die manifestasies van menswees." Nou wil ek by jou weet, watter ander "manifestasies" is daar?
     
    Groete,
    Angus
  • Ek het 'n fout gemaak deur te sê 'selfs om denke te orden is taal nie noodwendig nodig nie.'  Taal orden nie denke nie; dis slegs wanneer jy denke wil oordra dat taal nodig is.
    Jan Rap

  • Denke alleen maak nie van 'n mens 'n mens nie. As hy nie hierdie denke kan vorm gee gee dmv taal sodat hy dit kan oordra aan sy medemens nie, dan is hy nie 'n mens nie. 

  • Vragies aan Angus,Jan Rap en Pieter

    Wanneer - op watter ouderdom - het julle agtergekom dat julle 'mens' is en waaruit bestaan die denke (gedagtes) van 'n kind wat doofstom en blind gebore word?

  • Hallo FC
    Mens kom agter jy's 'n mens sodra jy sien die hond en die kat eet nie saam met julle aan tafel nie maar uit bakke wat op die grond staan in die kombuis. 
    'n Kind wat doofstom en blind gebore word bestaan uit presies dieselfde as enige ander kinda s'n.  Die insette is net anders (minder) maar na 'n tyd, wanneer met gevoel in plaas van gesig en gehoor, met die kind kommunikeer word, word verlore insette ingehaal en hierdie kind kan dan, wat uitsette betref, selfs mense verbysteek wat normaal gebore is, soos Helen Keller byvoorbeeld.
    Jan Rap

  • Miskien moes ek duideliker onderskeid gemaak het tussen taal (language) en spraak (speech). Spraak (speech) bestaan uit spraakklanke waarmee 'n mens kommunikeer, en dit is maar een van die draers van taal. Skryftaal, gebaretaal, vingertaal, lyftaal, mimiek, is almal draers van taal. Met draer bedoel ek "vehicle". Die tassintuig kan ook as draer ingespan word. 

     
    Wanneer iemand agtergekom het hy is mens, is nie ter sprake nie. My gedagte-eksperiment vereis slegs dat besin moet word oor hoe dinge sou wees, indien niemand taal (language) magtig was nie. 

     
     
  • Beste Angus, Jan Rap en Pieter

    Waarom ek die vragies aan julle gevra het is omdat ek kan onthou van 'n baie jong ouderdom .As  baba  het ek tussen grootmense rondgekruip en dan myself opgetrek aan die mans se broekspype en my verstom aan hoe groot hul was en hoe klein ek was.

    Later toe my Ma my stories begin vertel van Reuse en dwergies en sulke  goed en ek gedink ek woon tussen reuse. Later toe ek groter word het ek besef dat die reuse maar net gewone mense soos ek was.

    Ek was 'n baie nuuuskierige kind en het op 4jarige ouderdom al uit die huis uitgeglip om die omgewing te verken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top