Vir Thomas oor die oerknal

  • 5

Dagsê Thomas
Ek sien jy sê in jou brief van 26 Junie 2014 “Die oerknalteorie konstateer kortliks dat die uitspansel (ons universum) soos ons dit waarneem ongeveer 15 miljard jaar gelede vanuit ’n oneindige digte deeltjie (of ’n singulariteit) ontstaan het.”

Dit is ‘n klomp twak. In die eerste plek, daar is nie iets soos oneindig digte deeltjie nie, dis ‘n teenstrydigheid. Oneindigheid het nie ‘n grens nie, dit hou net aan, gedurig. Byvoorbeeld, 1+2+3+4+5+ ... ad infinitum is oneindig, so ook 1x2x3x4x ... ad infinitum en altwee se antwoord is ∞ maar, om dit gelyk aan mekaar te stel, aangesien altwee dieselfde antwoord het, maak nie sin nie. Op ‘n gegewe ‘tydstip’, sê by getal n, is n! wel groter as n(n+1)/2 maar dis immaterieel, n! groei net vinniger maar albei reekse groei tot in die oneindige, nie een van die twee is begrens nie.

‘n Oneindig digte deeltjie is begrens; as hy ‘n deeltjie is, is hy begrens. Om te voldoen aan ‘oneindig dig’ moet hy nog verder krimp om nóg digter te word (want dis mos oneindig). Hy kan dus nie knal of ontplof nie want op watter stadium doen hy dit; hy is mos nog besig om nóg digter te word. Oneidigheid is ‘n tyd-, of liewer tempo-, gebonde ding. Dus, reductio ad absurdum.

Also, daar is, of was, nooit so iets soos ‘n oerknal nie, dit was ‘n oerspuit. ‘n Spul massa (en natuurlik energie) is uit ‘n vierdimensionele opset in ons driedimensionele opset ingespuit. Moeilik, vir my onmoontlik, om te visualiseer maar, ‘n manier om dit te probeer verstaan, is van ‘n 3D- na ‘n 2D-wêreld. Byvoorbeeld, ‘n straaltjie ink uit ‘n bottel (3D-wêreld) wat op ‘n stuk papier (2D-wêreld) val. Vir die waarnemer op (of liewer in) die papier lyk dit of die ink vanuit ‘n singulariteit in sy 2D-wêreld invloei; daar is vir hom geen manier om enigiets in ‘n 3D-wêreld waar te neem nie en hy kom tot die gevolgtrekking al die ink wat nou versprei vloei vanuit ‘n oneindig digte punt, ‘n singulariteit.

Op dié manier is daar dan gedurig oerspuite, was daar al baie gewees en gaan daar nog baie wees. Dit gaan nie noodwendig in ons heelal (seker eintlik ‘al’ in plaas van heelal) weer gebeur nie maar, soos daar oneindige twee-dimensies in ‘n drie-dimensionele assestel is, daar is oneindig driedimensionele ‘al’-e in ‘n vierde dimensie, en oneindig 4-dimensionele Al’e in ‘n 5-dimensionele opset ens ens, met ander woorde n-dimensionele Al’e in (n+1)-dimensionele opsette. Mens kan dus eintlik nooit van ‘n ‘heelal’ praat nie want daar is altyd nog ‘n dimensie.

Jy’t ‘n groot wysheid in een van jou briewe of kommentare kwytgeraak, naamlik dat jy “... welkom [is] om te glo waarin jy wil, solank jy aanvaar dat dit nie noodwendig waar is nie.” Wat ek egter hierbo vir jou vertel het kan jy maar aanvaar; ek het dit met Matesis uitgewerk en jy moenie laat ‘n ou in ‘n wit jas wat in ‘n laboratorium werk vir jou anders kom staan en vertel nie.

Groetnis

Jan Rap

NS Ek moes eintlik seker gesê het ‘met Matesis’ uitgewerk onder die druiweprieel; Matesis is my Jack Russell se naam, hy heet Willem Matesis.

  • 5

Kommentaar

  • Hallo Jan Rap,

    My indruk is dat jy doelbewus te veel klem lê op die term ‘oneindig digte deeltjie’ in Thomas se verwysing na die oerknal. Soos ek hom verstaan bedoel hy daarmee dat dit waaruit die heelal op daardie tydstip bestaan het baie klein en dig was. Oneindig het nie altyd net ’n wiskundige betekenis nie. (Ek is seker jou Matesis sal saamstem.) Ons praat soms van  ‘oneindig dankbaar’ waar dit dan die betekenis van ‘baie’ kry en oneindig soos Thomas dit gebruik het  sou ook kan beteken baie dig en klein. Ek kan talle voorbeelde opnoem waar dit niks met die wiskundige betekenis te doen het nie en ek weet  jy kan ook.

    Dan sê jy: “daar is, of was, nooit so iets soos ‘n oerknal nie, dit was ‘n oerspuit.” Hier op SêNet het ek nou al wonderlike goed gelees: Onder aandere dat 2 x 0 = 1 en dat  Newton en Einstein dit mis het met gravitasie en dat die aarde eintlik sy eie gravitasie opwek wat dan genoeg sou wees om ’n geosentriese model van die heelal in stand te hou en dat die derduisende wat aanspraak maak daarop dat hulle Jupiter se galileaanse mane met optiese hulp gesien het, hulle vergis of lieg.

    Maar wragtig ou Jan — hierdie vierdimensionele inspuiting in ’n driedimensionele opset om die huidige stand van die heelal te verklaar, vat loshande die koek en val myns insiens in dieselfde kategorie as IF (Intelligent Falling) wat ’n parodie van ID (Intelligent Design) is. IF het ook aanvanklik grappenderwys as ’n  alternatief vir Newton se Wet op Universele Gravitasie en Einstein se Algemene Relatiwiteitsteorie op die internet verskyn. Dit kom kortliks daarop neer dat swaartekrag eintlik glad nie bestaan nie en dat dit doelbewus deur bonatuurlike ingryping beheer word. Ongelukkig was daar ’n groep naïewes wat dit ernstig opgeneem het en nou is daar al glad ’n beweging in die VSA wat daarop aandring dat dit saam met Newton en Einstein se teorieë in skole se leerplanne opgeneem moet word.

    Kom ons gee die ding ’n naam: Ek stel voor II (Intelligent Injection) Dan propageer jy dit ’n bietjie. Ek is taamlik seker dat die fundamentaliste in die VSA dit verder sal vat.

    Groete

    Panda

  • My mond het oopgehang. Jan wat altyd oral in die moeilikheid is het skielik slim geword. Ek kon dit nie verstaan nie. Gelukkig kom hy toe ook met die oplossing: bid jou aan dis alles waarhede wat hy geleer het deur diep in sy hondjie se oë te kyk. Daar moes darem seker ook versterkwater by Jan se drinke gewees het!

  • Jan Rap

     
    Dankie vir jou skrywe. Ek merk 'n tong in jou kies op of is dit straks 'n olyf wat jy kou so saam met jou Martini daar onder die prieel?
     
    Panda is heeltemal reg met sy verduideliking van my gebruik van die woord oneindig. Persoonlik koop ek natuurlik in in Roger Penrose se hipotese dat die laaste oerknal  van so 13.8 miljard jaar gelede eintlik maar die begin van 'n uitdying was wat soomloos voortgevloei het uit 'n vorige inkrimping. Daar was al heelwat sulke inkrimpings wat aanleiding gegee het tot 'n volgende oerknal of die begin van 'n uitdying. Drie-dimensioneel lyk die inkrimping en daaropvolgende uitdying soos 'n uurglas waarvan die dun gedeelte natuurlik nooit niks kan wees nie. Dis 'n aanhoudende inkrimpimg en uitdying. Wanneer dit begin het en of dit ooit gaan eindig sal meer as 'n skamele PhD'tjie verg. 
     
    Hoe dit ook al sy, die wetenskap sal maar altyd soekend wees na antwoorde en nooit so selfvondaan raak en reken die finale antwoord is nou gevind nie - daardie luuksheid is net vir die godsdienstiges beskore.
     
    Groetnis
    Thomas
  • Panda,
    Nou goed, kom ons maak so.  Ek stel voor ons noem dit IEfn (onderskrif n) en dit staan vir Interdimensionele Ensafontein. Die 'Ensa' staan vir Energie/Massa en die onderskrif 'n' beteken tussen die nde en (n-1)de dimensies.  Hoekom 'Intelligent'?  As 'n berg vuur (massa en hitte) spu dan is hy 'n vuurspuwende berg, of vulkaan as jy dan nou wil, wat bloot uitbars, daar is nie sprake van 'n 'intelligente' uitbarsting nie.  Tensy, natuurlik, jy met 'intelligent' dit deel van die a-evolusiegroep se battery van argumente wil maak, so half tong-in-die-kies-storie waaroor dan lekker in die mou gelag kan word.  In daardie geval - soos jy weet is ek nie 'n oortuigde evolusionis nie; organismes is myns insiens net te ingewikkeld om die resultaat van alleenlik gevoglike gebeurtenisse (lukrake mutasies en aanpassing vir oorlewing) te wees.  Op dié manier dan is ek nie allergies vir 'n ontwerp-idee of een of ander soort program of algoritme nie.

    George B

    Jy's reg George; jy wéét mos daar loop riool in die Vaaldam in so mens kan nie waag om water sonder 'n steriliseringsagent te drink nie.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Panda en Thomas
    Ek aanvaar julle verduideliking dat 'oneindig' in Thomas se opstel bloot 'baie baie klein' bedoel en nie, soos ek aangeneem het, dat die storie gedurig aan't krimp is nie.

    Penrose se storie klink ook vir my meer sinvol as dié van die singlariteit wat hand-uit geruk het.

    Thomas,  jou laaste sin maak nie sin nie, naamlik dat dit net godsdienstiges is wie die voorreg beskore is om die finale antwoord te gevind het.  Finale antwoord ten opsigte waarvan?  Daar is godsdienstiges, Christene, Jode, Mohammedane, Hindoe's en so meer, waarvan die nering in die wetenskap-omgewing is en almal van hulle besef maar alte goed dat daar nog lank nie 'n finale antwoord in enige veld is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top