Dankie vir jou briefie gister waarin jy jou kommer uitspreek oor wat die polisie destyds verkeerd sou gedoen het.
Jy moet nou nie laat die ouens jou 'n gat in die kop praat en laat skuldig voel oor iets waarin jy geen deel gehad het nie. Jy moet ook onthou enige saak het twee kante; 'n oud-polisieman het my byvoorbeeld al vertel waar hulle diens moes doen deur op sleutelpunte te staan en blink gespoeg was, hulle uniforms was papnat en dit van spoeg. Dink ook daaraan dat daar terreur in die land was; die polisie het nie vir ontspanning rondgery nie.
Dit werk amper soos padwoede; hierdie irritasie bou op en 'n relatiewe klein insident verder aan laat die polisieman heeltemal rede verloor. Kyk byvoorbeeld ook na Marikana; daar gaan nog lank beskuldigings na polisiekant toe gegooi word en dis 'n insident wat sommer in hierdie bedeling gebeur het.
Jy moet ook onthou stories word aangedik; daardie oom Koot was dalk 'n baie sensitiewe mens en soos tyd aangaan word sy stories erger, hy wil wys hy's nie uit sissierigheid uit die polisie nie so hy maak dinge erger. Oom Koot kan ook van dié wees wat destyds 'n gat in die kop gepraat is en soos die ontgogeling al hoe meer manifesteer soek hy rede vir sy latere deelname aan die struggle.
Verder moet jy besef die manne in enige mag, hetsy Suid-Afrikaanse Polisie, Engelse SAS, Amerikaanse Marines (sogenaamde seesoldate), jy noem dit, is manne met 'n doel naamlik om ten alle koste te bly lewe en in die proses 'n geïdentifiseerde vyand uit te skakel. Hulle is onder geweldige druk en jy moet bietjie dinge van hulle kant af ook sien.
Dan is daar nog altyd, en oral, boelies en vrot appels; selfs die ANC se opleidingskampe destyds het sy deel van gruwelstories. Vertel dit ook vir oom Koot.
So Jannie, wakkerslaap; moenie alles vir soetkoek opeet nie.
Jou oom
Jan Rap
NS Groot verskoning aan Naomi; die halwe brief wat sy geplaas het is al wat ek gestuur het (hoe dit gebeur het weet g'n mens nie)

