Vir Kobus: Superieure intelligensie?

  • 7

In antwoord op Kobus se skrywe aan my onderaan sy brief: God, goed en kwaad.

Beste Kobus

Soos ek aan jou verduidelik het, die Evolusieteorie is ? model, en dit bly staande solank as dit ooreenstem met eksperimentering en navorsing. Natuurlik is daar al baie oor geskrywe, maar ? artikel van vier bladsye deur Roger Lewis dat feite omtrent die makro-evolusie nie die teorie ondersteun nie, sal geen snars indruk maak nie. Hope kreasioniste het al duisende artikels en boeke geskryf om die evolusieteorie af te kraak, maar dit sê absoluut net mooi niks, want so bewys jy niks.

Jy maak die stelling dat alles waarvan ons weet tot stand gekom het deur die aanwending van ? superieure intelligensie. Hoe weet jy dit? Wie het dit vir jou gesê? Kan jy dit bewys? Nee, jy kan nie, want dit berus op hoorsê en op mitologiese verhale wat woestynbewoners tweeduisend jaar gelede geskryf het.

Nou goed, kom ons veronderstel vir een oomblik dat so ? intelligente wese bestaan. Hy word ook ingesluit by “alles waarvan ons weet.” Dit beteken dat hy ook tot stand gekom het deur die aanwending van ? superieure intelligensie. Selfde met laasgenoemde superieure intelligensie etc, etc. Kom, ek maak dit vir jou nie te ingewikkeld nie: wie het jou superieure intelligensie geskep?
Ek weet sommer wat jou antwoord is: dis ? dom vraag. 'n Slim vraag sou gewees het een uit die Heidelbergse Kategismus, want dit het sommer ook die antwoord.

Dan wil jy by my weet waarom ek die evolusionis se van ultra-komplekse lewe uit ? enkel eenvoudige onsigbare selletjie vir soetkoek opvreet? Ek vreet dit op, want dit bevat nie gif nie, ek bak self aan hierdie soetkoek, en daarom weet ek dis waar. Elke lewende organisme (plant, insek, dier, mens) op aarde bevat genetiese merke wat teruggevoer kan word na daardie een enkele ou selletjie, waarvoor jy jou neus so optrek.

Ek wil jou net daarop wys, die Bybelse gebeure is nie my dilemma nie, dis die Christen se dilemma. Noag en sy ark, wat jy self noem, is maar een van hulle. Ek wou die Christene darem so bietjie help deur die ark ? houtbootjie te noem. Dit klink nie so erg om te bou nie, maar jy sê dis so groot soos ? reusevragskip! Al het Noag duisend jaar gekry om dit te bou, sou hy dit nie reggekry het nie. Dis maklik om so iets in jou verbeelding te bou in ? storie op papier. (Noag het ? reusevragskip uit Goferhout gebou binne 100 jaar, en siedaar, dis reg om te dobber op die water.)

In die praktyk is dit ? ander storie. Om so ? reuseskip te bou moes hy seker duisende bome afsaag. Jy bou nie sommer ? skip met boomstompe, takke en blare nie; dit moet opgesaag word in balke en planke. Daarvoor het jy sae, bandsae, tafelsae, planeerders, beitels, hamers en wie weet wat nog nodig. Dan het jy ? skeepswerf nodig, want die ding het ? kiel wat amper nog meer werk verg as die bou van die boot self. Daarsonder sal hy omdop sodra hy in die water kom. Hoe het hy dit alles inmekaargesit? Met spykers? Niemand kan so ? reusevragskip alleen bou nie. Jy het duisende werkers daarvoor nodig.
Gevolgtrekking? Dis ?f ? liegstorie ?f dis ? mite. Jy kan maar kies.

Jy beweer die Bybel sê Adam is uit aardse elemente en grondstowwe geskape en Eva uit sy been en vlees. Jy moet my asseblief sê in watter Bybel dit so staan. My Bybel sê God het hom gevorm uit stof van die aarde. Die ribbebeen wat hy uit die mens geneem het, het hy glo omgebou tot ? vrou. (Belaglik, is dit nie?)

Hoe is dit moontlik dat jy en jou mede-kreasioniste sulke snertstories vir soetkoek opvreet? Anders as die evolusie-soetkoek, is hierdie Bybelse soetkoek erg giftig en gevaarlik. Kyk net hoe hallusineer die eters daarvan. Hulle sien gesigte, hoor stemme van gode wat hulle aanhits om almal uit te roei wat nie soos hulle in bonatuurlike goeters glo nie.

Gebeure uit my kinderjare het van my ? ateïs gemaak, en jy noem dit onkunde? Hoe so? Ek sou eerder sê ek moet daarvoor gekomplimenteer word dat ek op so ? vroeë ouderdom alreeds besef het om te bid is nodeloos.

Angus

  • 7

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Jy sê eintlik maar niks bruikbaar hierbo nie.

    Julle makro-evolusie stem nie saam met eksperimentering en navorsing nie. In die vooropstelling is alle eksperimentering uit-en-uit ordelik, intelligensie en doelgerig gedrewe en kan die resultaat in der dag nie voorgehou word as analoog of ekwivalent van 'n onordelike sisteem soos julle makro-evolusie wat kwansuis lukraak sou plaasvind sonder enige beplande gerigtheid of ontwerp. Al waarvoor dit wel as ondersteuning kan dien, is die feit dat die natuurwetenskappe volgens intelligente Goddelike ontwerp ingerig is en funksioneer. Alles wat julle by wyse van eksperiment vermag, indien enigiets, onderskrywe opnuut die nosie van Intelligente ontwerp.

    Ek hoef dit nie te bewys nie, julle bewys dit alles vir ons, naamlik dat niks tot stand kan kom sonder doelbewuste gerigtheid en die aanwending van aansienlike hoeveelhede kennis, ervaring en intelligensie nie.

    Maar jy sal dit nie verstaan nie. Ek is jammer vir jou onvermoë. Dit is nie 'n belediging nie, ek wys die logiese vir jou uit, want as jy nie die verband kan insien nie, is daar ernstig fout met jou begrip.

    Jy bak aan die evolusie-koek, maar nes jou maters, gebruik julle sommer kamma-kamma bestanddele. Die resultaat is nie werklik 'n koek nie, maar 'n modelletjie van hoe julle wil hê 'n koek moet lyk. Maar so bly julle soos kindertjies speel, want te veel van julle bestanddele is somer net kamma-kamma (die onbewese en onbewysbare teorieë). Daarom steur julle jul nie aan die mense wat kom en jul speelgoed-resep se onwerklike leemtes uitwys nie. Kinders speel, hulle stel nie in kritiek belang nie. Julle maak ook so.

    Wat die ark aanbetref, kan ek vir jou sê dat 'n span sterk, fiks werkers oor die verloop van ongeveer 'n 100 jaar 'n knewel van 'n vaartuig kan bou, veral as hulle 'n bouplan had, soos dit was. Jou bespiegeling daaroor sal nie die feit daarvan verander nie - jy weet ook nie genoeg van hul omstandighede of vermoëns om dit te weerspreek nie. Onthou, hulle stam nie van ape af nie - hulle is intelligente mense deur God geskape. Ek kan dink dat jou verwysingsraamwerk jou sal ontsenu waar jy gaan probeer om Noag en sy span neffens 'n troppie ape te visualiseer wat probeer om iets aanmekaar gesit te kry en dan moed verloor vir die projek. Maar dit is jou kamma evolusiewêreld wat jou so kortsigtig sal maak.

    Ongelukkig is jou kennis van skeepsbou nes jou kennis van die ontstaan van die lewe - dit skiet tekort. As jy die Woord mooi sorgvuldig lees, sal jy lees dat die vaartuig nêrens heen gestuur hoef te word nie - dit moes 'n massiewe inhoudsmaat hê en kon drywe, dis al. Dit was dus lank, eerder as rond of vierkantig (wat verhoed dat dit sal tol), relatief plat en wyd, eerder as smal en hoog, sodat 'n spits kiel glad nie benodig sou word nie. Dit was eerder 'n reuse barg. As jou wetenskapkennis dus 'n bietjie beter was, sou jy weet dat so 'n vaartuig se swaartepunt onder die vlak kiel is en boonop was die barg ook nog redelik diep versink weens die vrag sodat dit hoegenaamd nie sou omval nie.

    Goddank die ontwerp van die vaartuig was nie aan iemand soos jy oorgelaat nie ...

    Wat die skepping van Adam en Eva aanbetref, is dit maar net 'n geval dat jy nie weet hoe om die Woord uit te lê nie. Jy babbel gedurig oor taal en wat nog meer, maar jy is nie in staat om woorde in hul ryke betekenis te sien en verstaan binne die konteks waarin dit geskrywe is nie. Die Woord is opgeteken in die idioom en taalkonstrukte van die tyd waarin dit geskrywe is om die bedoelde boodskap oor te dra.

    Ek sê maar weer, as jy enigsins in staat was tot begrip van wat in die geskrewe Woord staan, sou jy nie 'n ateïs wees nie. Nou is jy steeds een omdat jy nie verstaan nie. Daarom dat jy dit as belaglik beskou, maar jou evolusie-fabels beskou jy as werklikheid.

    Ek wil nie graag oor jou persoonlike sake in jou kinderlewe met jou redeneer nie. Dit is net te persoonlik. Ek voel werklik jammer vir jou, nie oor dit wat jy vertel het oor wat jou oorgekom het nie, want dit is nie erg of so abnormaal nie en 99% kinders kom sterker anderkant uit en skud dit af en gaan normaal voort met hul lewens, maar omdat jy sedertdien nie in staat was om die kinderlike onkunde en onvermoë om perspektief te sien, kon oorkom nie en jy steeds daaronder ly, al is jy nou al grys. Iemand sou tog vir jou kon sê logies dit is dat Liewe Jesus nie alle diertjies vir altyd kan laat lewe nie? Jy moes dit darem later self ook kon insien toe jy groter geword het? Verstommend dat jy dit nou nog nie vir jouself kon uitpluis nie... Miskien moes iemand vir jou later vertel het, siende dat jy self dit nie kon bymekaarbring nie, dat dit wel hartseer is dat diertjies doodgaan, maar baie normaal, net om plek te maak vir 'n nuwe, skattige diertjie, ens. Ek wonder of daar 'n kind is wat ’n troeteldiertjie had wat nie een of meer al aan die dood afgestaan het nie, maar hulle kom nie teen die Skepper in opstand nie. Hulle is normaal, verwerk dit, verstaan dit en gaan voort. En wat jou son-sit lessie aanbetref nadat jou Sondagskooljuffrou waarskynlik onnodig affront geneem het in jou voorbarigheid, sou ander gou-gou perspektief sien en laat begaan. Ook was daar straks daardie selfde dag talle en talle ander kindertjies wat heeldag in die son baljaar en speel en hulle kom daar niks daarvan oor nie, en jy ook nie, maar miskien was jy maar meer sensitief en onseker as ander kindertjies.

    Baie mense bid met oorleg en geloof, met baie goeie gevolg. Jy is in geen posisie om daarteen te stry nie.

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus, 

     Jy sê daar het ? honderd mans Noag help bou aan die ark? Dis nuus vir my. Ek hoop hulle het toe ook darem ? plekkie op die boot gekry, of het Noag hulle laat verdrink na al hulle harde werk?

     
     Jy het beweer die ark is so groot soos ? moderne vragskip, en nou wil jy weer voorgee dis ? platboomskuit. Jy wil ook nie vir my sê of hierdie moderne vragskip/ark van boomstompe, takke en blare gebou is, en of Noag eers balke en planke gesaag het om dit te bou nie. Hierdie balke en planke sou ook eers behandel moes word, en waterdig gemaak moes word. Kan jy asseblief meer inligting hieroor verskaf? Nee, wat! Kobus. Jou kennis van skeepsbou het jy gegoogle; ek wed jou, jy was nog nie naby ? skeepswerf nie.
     
     Jy beweer: “Julle makro-evolusie stem nie saam met eksperimentering en navorsing nie.” 
     
     So omgedraai is dit betekenisloos soos alles wat jy skryf. Kom ek help jou reg: eksperimentering en navorsing stem ooreen met die evolusieteorie. Eksperimentering en navorsing bewys dat die evolusie van lewe plaasgevind het. Dit wat deur die evolusieteorie voorspel word, word nuttig gebruik tot voordeel van die mens. Landbou en veeteelt, die mediese wetenskap, is afhanklik daarvan.
     
     Ek sal jou nou nie daarvan beskuldig dat jy nie verstaan nie. Jy verstaan baie goed. Jy verstaan dat die Bybelse verhale mitologiese verhale is, maar jy sal dit nie in soveel woorde sê nie. Nee, jy verdoesel dit met: “Die Woord is opgeteken in die idioom en taalkonstrukte van die tyd waarin dit geskrywe is om die bedoelde boodskap oor te dra.” Dis presies wat ek nog altyd aan jou gesê het: dis grot- en woestynbewoners van tweeduisend jaar gelede se poging om dit wat hulle nie verstaan nie, te verduidelik.
     
     Dis nog by ? paar Bybelverhale waar jy viervoetig bly vassteek. Een is die storie van Noag, en ? ander een is die maagdelike geboorte. 
     
     Natuurlik steur ek my nie aan grondelose kritiek nie. Bring jou bewyse, dan is dit ? ander storie. Jy beweer dat  die Goddelike intelligensie, waarvan jy praat, nie bewys hoef  te word nie, maar so maklik kom jy nie daarmee weg nie. As jy beweer dat daar so ? goddelike intelligensie is, moet jy dit bewys. As jy beweer “dat niks tot stand kan kom sonder doelbewuste gerigtheid en die aanwending van aansienlike hoeveelhede kennis, ervaring en intelligensie nie”, dan moet jy vir my sê hoe hierdie wese met sy “aansienlike hoeveelhede kennis, ervaring en intelligensie” tot stand gekom het. Dis mos net logies. 
     
     Soos ek jou ken, kom jy hierby verby deur dit ?f ? dom vraag te noem, ?f dit te ignoreer, ?f dit met ? hoop onsinnige gebrabbel te beantwoord. Dan word ek van onbegrip beskuldig om jou onsin te verdoesel. 
     
     Dan kom jy vorendag met jou groot geheime wapen: jy verdraai alles sommer so maklik. Ek het aan jou al bewys dat die Bybel mites en fabels bevat. Nou is jy gou om te praat van “evolusie-fabels”. Gee asseblief bewyse daarvoor. As jy pratende slange, bome en esels kry in die evolusieteorie, sal ek jou glo. As enige evolusionis bewys dat diere, mense en plante in een dag geskep is, dan sal ek jou glo. As ? evolusionis bewys dat ? mens na drie dae lewendig uit ? vis se maag kom, sal ek jou glo. As jy ? evolusionis kry wat bewys dat die Noag-storie waar is, dan sal ek jou glo.
     
     Kobus, bid help niks. As jy bid, gebeur een van drie dinge: 1. Jou gebed word verhoor. 2. Jou gebed word nie verhoor nie. 3. Jou gebed word verhoor, maar na ? lang tyd, miskien drie, of vier of twintig jaar.
     
    Groete,
    Angus 
  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Jy kan nie eens eenvoudige Afrikaans lees en verstaan soos dit geskrywe staan wanneer dit by sake Gods kom nie? Waar het ek gesê 'n honderd mans het Noag help bou?

    Die plek op die ark is verseker deur die persoon se getrouheid en gehoorsaamheid aan en verhouding met God. Arbeid teen loon vir skrynwerk gedoen het nie per se daarvoor gekwalifiseer nie - wys jou hoe min jy verstaan van wat daar gebeur het en die redes daarvoor ...

    Noag se ark had 'n inhoudsmaat van meer as 44,114 kubieke meter in drie vlakke van ongeveer 3,151 vierkante meter oppervlak op elk. Daar was ongeveer 14,000 groot boomstompe nodig vir die bou daarvan. Waar kom jy daaraan dat daar takke en blare gebruik is? Dan noem jy daardie massiewe barg 'n platboomskuit? Weereens jou eie versinsel, want daarsonder, begin die verhaal vir jou al te na die waarheid lyk, sodat jy dit liewer probeer diskrediteer, al is dit nou in jou eie gemoed alleenlik. Selfdesepsie - waarop jou agnostisisme floreer. Om nie eens van jou onkunde oor die konstruksie en doel van barge te praat nie, die vaartuie spesiaal ontwerp vir die vervoer van massiewe hoeveelhede vrag oor kort afstand en vlakker water.

    Die 'evolusie' waarna jy verwys by plantkunde en veeteelt het met jou darwinistiese evolusie niks te make nie en is geen bewys daarvoor nie, maar eerder vir intelligente skepping deur God en veral ook bied dit geen bewese ondersteuning van die darwinistiese nosie van makro-evolusie nie.

    Jy het klaarblyklik nie die vermoë om die effek van eksperimentering deur aanwending van beplanning en gerigte uitvoering met 'n spesifieke doel voor oë op jou lukrake evolusie-teorie het, in te sien nie en dan vra jy nog boonop bewys dat dit net deur aanwending van intelligensie tot stand kan kom? Dit is uiteraard 'n belaglike aandrang. Niks waarvan jy en ek en enigiemand anders werklik weet, kom tot stand sonder aanwending van beplanning en intelligente uitvoering nie. Maar teenstrydig daarmee, beweer jy dat 'n hele biosfeer so rigtingloos en intelligensieloos en planloos tot stand gekom het - ek verg dus van jou bewyse daarvoor. Jou teorieë is aannames daaromtrent, dit is nie bewyse nie en dit is snert.

    Jy kan nie bewys die Bybel is mites en fabels nie. Jy kan nie. Maar jy misbruik die woord 'bewys' baie maklik. Daarom kan mens nie pyl trek op enigiets wat jy kwytraak nie - veral nie as jy sê dit is geen 'bewys' nie. Geen evolusionis sal kan bewys dat Noag se verhaal korrek is nie - hy sal eenvoudig nie die insig hê om dit te kan doen nie.

    Ooreenkomstig jou eie uiteensetting van die effek van gebed, is daar ten minste twee redes waarom gebede help want twee van die drie moontlikhede wat jy noem, word die gebede wel verhoor - jou eie woorde. Voorts, Wie verhoor jou gebede - of weier dit - as die nie God is nie?!

    Kobus de Klerk

  • Beste Angus,
     
    Kobus de Klerk rig die volgende aan jou hierbo: " Jy sê eintlik maar niks bruikbaar hierbo nie."

    En dan vervolg hy met hierdie twee sinne: "Julle makro-evolusie stem nie saam met eksperimentering en navorsing nie. In die vooropstelling is alle eksperimentering uit-en-uit ordelik, intelligensie en doelgerig gedrewe en kan die resultaat in der dag nie voorgehou word as analoog of ekwivalent van 'n onordelike sisteem soos julle makro-evolusie wat kwansuis lukraak sou plaasvind sonder enige beplande gerigtheid of ontwerp."

    Hoekom lyk hierdie soos 'n tipiese spoeg-en-plak-aanhaling sonder erkenning aan die outeur hiervan? Dit is mos 'n direkte vertaling van een of ander kreasionitiese "wetenskaplike" se skrywe. Geen gewone Afrikaanse woordorde of sinskonstruksie nie. 

    Laastens: Die arme honderde skeepsbouers wat die ark moes help bou, en toe ook die verdoemenis ingestuur is. "Nee, man, julle bou die ding, maar as die reën kom, versuip julle almal. Die diere is waaroor dit mos gaan, sê Noag." Amper iets soos TB Joshua se tabernakel: Kom bid hier en dan verongeluk julle almal, dis god's wil.
     
    Nou ja, die platboomskuit. Sê nou maar die donderweer kom saam met al die reën en al die leeus en tiere en luiperds en wolwe en honde skrik en hol almal een kant toe? As daai ark nie omgeneuk het nie, het die leeus en tiere en luiperds en honde en wolwe die skape en bokke in elk geval opgevreet.
     
    Groetnis
     
    Dirk
     
     




  • Kobus de Klerk

    Kyk nou net hoe hulle mekaar probeer bemoedig hierbo. Rigter kom by en sy beste is nog meer inhoudloos as die ander wat hy probeer bemoedig op tipiese ateïstiese snedige manier. Hy kan blykbaar nie eens die Woord verstaan wanneer hy dit in gewone Afrikaans lees nie. Hy het so min leesbegrip dat hy nie kon opmerk dat daar afskortings (vertrekke) ingebou is in die ark nie. En dit gaan verder as net die Woord wat hulle nie behoorlik kan lees nie, hulle kan nie eens die nuus van die dag behoorlik interpreteer nie - so het ons gesien met Rigter wat op my en George B se Charlie Hebdo kommentaar probeer deel het en so sien ons met die profeet Joshua se gastehuis wat ineengestort het - hy weet nie eens wat die verskil tussen 'n gastehuis en 'n tabernakel is nie.

    G'n wonder hulle hang die sinnelose evolusieteorie aan nie - dit is kleinsielige fabeltjies. Hoe anders, hulle sal nie die skepping kan verstaan nie.

    Die beste waartoe hy in staat is, is om my taalgebruik te probeer kritiseer, maar hy kan nie die essensie van wat gesê word, op enige manier sinvol aanspreek of probeer weerlê nie.

    En dan gaan die spulletjie heen en giggel onder mekaar en vertel hoe hulle die gelowiges op hulle plek gesit het ... hoe tragies breek die ateïsme die mens wat daaraan ly, nie af nie. Hulle verloor alles van waarde en jaag dan geld na om duur geskenke te koop en te ontvang, soos Angus vir ons vertel. Dit is dan die hoogtepunt van hulle sinnelose lewensuitkyk.

    Arme mense...

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,

     Ek het jou net van jou eie medisyne teruggegee: jy maak mos asof jy nie Afrikaans verstaan as jy lees wat ek skryf nie. 
     
     Jy skryf dat ek nie kan bewys die Bybel is mites en fabels nie, terwyl ek dit keer op keer in die verlede aan jou bewys het. Ek sal dit maar weer moet doen.
     
     Die mite is deel van didaktiese kuns (moenie dit nou weer, soos in die verlede, verwar met didaktiek nie) Dit bevat oorgelewerde verhale uit gebeurtenisse in die godewêreld, maw verhale wat ten grondslag lê aan die godsdiens en die wêreldbeskouing van ? volk. Die mite dank sy ontstaan veral toe aan die neiging van primitiewe volke om natuurverskynsels te personifieer. Bonatuurlike gebeure word beskryf asof dit alledaags is. Die mite is ? volkome produk van die verbeelding, en plant en dier tree op soos mense. Die fabel is ook ? vertelling waarin diere, bome en plante as handelende wesens optree. Beide die mite en die fabel bied op aanskoulike wyse ? sedeles aan. As jy dit durf waag om in Medusa se gesig vas te kyk, verander jy in klip. As jy nie luister vir God nie en omkyk, terwyl hy dit verbied het, verander jy in ? soutpilaar.
     
     Lyk dit nie vir jou bekend nie? Die Bybel besit al hierdie eienskappe van die mite en die fabel.
     
     Die storie van Noag is ? mite. Die menslike verbeelding het dit geskep, en daarom is dit moontlik vir die karakter, Noag, om binne honderd jaar ? driedekker skip te bou met 1400 boomstompe, sonder behoorlike gereedskap en sonder ? skeepswerf. Binne die raamwerk van die mite kon hy vyf duisend arke met vyf bome binne een dag gebou het. (soos duisende mense voed met vyf brode en twee vissies.) 
     
     Dan beweer jy dat landbou en veeteelt niks met Darwinistiese evolusie te make het nie. Wys jou net hoe min jy van Darwinistiese evolusie weet. Die evolusionêre beginsels van kunsmatige seleksie word duidelik in die heel eerste hoofstuk van Origin of Species beskryf, trouens dit dien as grondslag vir die hele evolusieteorie se natuurlike seleksie. Die titel daarvan is: Variation under Domestication. Die Genetika bevestig wat Darwin geskryf het, alhoewel hy onbekend was daarmee. Tot vandag toe beoefen landbouers en veetelers hierdie evolusionêre beginsels. (Ek moes eintlik geweet het jy sou hierdie bewering maak, aangesien jy nog net so vaagweg miskien gehoor het van Origin of Species.)
     
      Jy weet ook nie mooi wat jy skryf as jy sê die evolusieteorie is lukraak nie. Dit beteken daar is geen superbewuste brein wat dit uitdink en beplan nie, en so kan dit wat gebeur, lukraak wees, maar wanneer dit kom by seleksie, dan is dit nie meer lukraak nie. Dan kom allerhande faktore in werking soos keuse, fiksheid, oorlewing, om maar 'n paar te noem.
     
    Kreasioniste beweer dat niks tot stand kom sonder ? super-intelligensie nie. In daardie geval is dit mos niks minder as reg as ek vra hoe hierdie super-intelligensie dan tot stand gekom het nie. Ek vra ook bewyse vir hierdie super-intelligensie. (Waarom het die kreasioniste skaam geword om van God te praat?) 
     
     Wat gebed betref, as ek as ateïs praat van verhoor van gebed, is dit maar so tong in die kies. Die ateïs verkry dieselfde resultaat deur nie vir reën te vra nie. Dan reën dit ook dadelik, of dit reën nie, of dit reën die volgende dag, of miskien 'n week daarna, of dit reën dalk drie jaar daarna. 
     
     Ten slotte: ek sit nie gelowiges op hulle plek nie; ek giggel nie oor hulle onkunde nie; ek sê hulle nie sleg nie. Ek vra net bewyse vir hulle bewerings. As jy sê die evolusieteorie is sinneloos, wil ek weet waarom jy so sê. As jy beweer dit is kleinsielige fabels , dan wil ek weet waarom jy so ? bewering maak. Jy sal Darwin se Origin of Species moet deurlees en aantoon waar  Darwin gebruik maak van bonatuurlike gebeure, slange en bome wat praat, die personifiëring van natuurmagte, gode, dat dit ? religieuse strekking het, om jou bewering dat die evolusieteorie 'n fabel is te staaf.  
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Dirk,

    Feit van die saak is die terme makro- en mikro-evolusie is 'n skepping van die kreasionis omdat hulle in 'n hoek gedryf is deur die mediese wetenskap, landbou en veeteelt se navorsing. 

    Evolusieteorie is evolusisieteorie, finish en klaar.

    Groete,
    Angus 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top