Kobus, dit werk anders. Die woord 'Boer' is afgelei van die werkwoord 'om te boer' omdat die grootste gedeelte van daardie mense wat toe later as 'Boere' bekend gestaan het, geboer het. In 'n oorlog word gewoonlik na die nasie waarteen jy oorlog voer verwys deur hulle naam te gebruik. As die Duitsers jou byvoorbeeld aanval sê jy 'hier kom die Duitsers!'; jy sê nie 'hier kom die Duitse weermag!' nie. Op die manier het van die ander volke na die Boere se weermag as 'Boere' begin verwys wat toe naderhand na die polisie toe ook uitgebrei het.
'Isingisi', aan die ander kant, is afgelei van die term kan nie op die oomblik hom onthou nie maar in Afrikaans, Sjinees, Hindi, Gujerati, Gaelic en nog 'n ander paar tale beteken dit 'hulle wat in die proses van empaaierbou ongelooflik baie mense onderwerp en onderdruk het.'
'Africaander' is seker maar die ou Nederlandse woord vir die Engelse 'African'. Hoe dit ookal sy, toe Bibault die woord gebruik het, het hy maar net, soos jy ook sê, bedoel hy is van Afrika. Of die woord 'Afrikaner' sy inslag toe gekry het betwyfel ek sterk. Later, met uniewording, is die woord half kunsmatig gebruik as 'n groepnaam vir die Boere en die Afrikaanssprekende Engelse burgers van Natal en die Kaapkolonie. In die volksmond het dit egter 'n aanvaarde woord geword.
'Afrikaanses' is nou weer die versamelnaam vir almal wat Afrikaans praat en die 'meerderheid' waarvan jy praat is heel waarskynlik diegene, meestal in die Kaap, wat 'halfpad' Afrikaans praat. Wat ek daarby bedoel is dat jy hulle nie sal kan verstaan as jy nie Engels ook ken nie. Terloops, ek dink dít is waar jy miskien energie moet begin spandeer – die Kaapse mense kry om suiwerder te praat. Dis nou daar bietjie help in plaas van heeltyd die Boere uitkryt.
So, om op te som, die Boere, ook Afrikaners genoem, is afstammelinge van die Boere wat weerstand teen Britse imperialisme gebied het en Afrikaanses is 'n versamelnaam vir almal wat Afrikaans praat lyk dit my.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan, hoekom nie net die Kaapses met hul Kaaps laat nie? ... is Afrikaans vir jou 'n voorwaarde vir Boer wees?... en heel belangrik; hoe skei jy 'n Boer van hul Voortrekkererfenis? ... Boeregroete, Cornelius Henn
Cornelius, is daar ooit iets soos Kaaps? Is dit nie maar Afrikaanse sintaks met Engelse woorde nie ... en kort-kort 'n hele sinnetjie, selfs paragraaf, Engels nie? Indien Kaaps wel 'n aparte taal wees, sal ek graag wil weet op grond waarvan.
Jy vra of Afrikaans 'n voorwaarde vir Boer-wees is. Moeilik om te antwoord - Is Duits 'n voorwaarde vir Duitser, of Engels vir Engelsman? Indien wel dan is die antwoord 'ja', indien nie dan geld seker vir Boer wat ook geld vir Rus, Engelsman, Duitser, Armeniër ens, wat dit ookal mag wees.
Jou laaste vraag, naamlik hoe jy Boer van Voortrekkererfenis kan skei maak nie eintlik sin nie want hoekom sou mens nou so iets wou doen? 'n Voorouer is 'n voorouer.
Beste Jan,
Dankie vir jou antwoord.
In hierdie onderhoud: https://www.litnet.co.za/Article/michael-le-cordeur-gesels-oor-kaapsonderhoud deur Naomi met Michael le Cordeur, vra Naomi die volgende: Hoe verskil Kaaps van Afrikaans?
Michael antwoord heel sinvol daarop: "Dit is byna soos die Queen se Engels van die Amerikaanse Engels wat ons so baie op TV hoor. Dis soos om na Radio Rugby op kykNet te kyk teenoor Binnelanders. In die skoolweergawe van Krismis van Mat Jacobs gee die skrywer ’n paar punte van verskil en iets daarvan is in hierdie artikel. http://www.comp.leeds.ac.uk Maar dit is nie naastenby die omvang nie. Die grootste verskil lê in die sintaksis: Anders as Afrikaans, wat die Germaanse sinskonstruksie volg van: Onderwerp (Subjek) + werkwoord + Voorwerp (Objek) bv Die man skop die bal volg Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie van: Werkwoord + Objek + adjektief bv Was my hemp kanalla. Voorts word Engels en Afrikaans dikwels in dieselfde sin gebruik met die Afrikaanse voorsetsel wat vervang word met die Engelse voorsetsel, bv Province verloor by ag wickets."
Ek het dus geen twyfel oor die reg van Kaaps as 'n besondere en volwaardige taal nie.
Betreffende jou antwoord omtrent Afrikaans as voorwaarde vir Boer-wees in vergelyk met Duits vir Duitser, Frans vir Fransman, Ingels vir Engelsman, ... dan sou ek eerder Germaans as die hoof daaroor stel.
Nes Frans, Engels, Duits, ... (en selfs Afrikaans) deel aan Germaans - net so deel Griekwa, Namakwa, Kaaps, ... en Boers aan Afrikaans as hoof (Boers is die standaard wat misbruik word om Afrikaans te nasionaliseer en op ander te dwing).
My vraag of jy 'n Boer van hul Voortrekkererfenis kan skei gebeur wel, want wit Afrikaanses in die Kaap en elders wat geen voorouer in die Trek had of andersyds agting daarvoor het, word ewe verkeerd as Boere gekomplimenteer.
Hiermee stel ek dus 'n fundamentele werklikheid naamlik dat 'n Boer net diegene is wat openlik en met waardigheid hulself met die Groot Trek kan identifiseer - ongeag hul taal aangesien nes Emily Hobhouse destyds die hart had ongeag haar Ingels, ek persoonlik Duitsers en Ingelse ken wat hulself vir die Boere se stryd sal gee.
Daarenteen, sal jy saam met 'n Afrikaanse Jaco Fourie of 'n Dirk Rigter onder die banier van 'n antie Zille as 'n Boer wil stry?
Boeregroete,
Cornelius Henn