Beste Jan,
As jy so aanhou, sal die SêNetters naderhand dink my plaat het vasgehak. Kom ons begin van vooraf, en vereenvoudig die saak.
Taal begin by eenvoudige klanke om dan al hoe ingewikkelder te word. Daarna vereenvoudig dit weer, veral as gekyk word na dialekte wat uit ou tale ontstaan.
As ek reg verstaan, wou jy nou al herhaalde kere by my weet waarom dit so is. In die twee briewe van my waarna jy verwys, probeer ek ’n verklaring gee, maar óf jy lees dit nie, óf jy verstaan dit nie, óf jy maak asof jy dit nie gesien het nie. Jy het, wat ek geskryf het, al verwerp as sou dit niksseggend en irrelevant wees. Miskien verwerp jy dit omdat dit ’n evolusionistiese beskouing is. Sou ’n Natural Theology-beskouing jou beter gepas het? (Een soos: Adam en Eva is as volwasse mense geskape, hulle kon met mekaar en met God en die slang kommunikeer in Hoog Galdees, of Aramees. Nie alleenlik kon God praat nie, maar so ook die slang en die bome. Ens.)
Darwin het in Origin of Species gesê natuurlike seleksie is verantwoordelik vir instinkte, en Chomsky sê dat taal instink is. So gesien, is natuurlike seleksie verantwoordelik vir die evolusie van taal. Taal begin by eenvoudige klanke, word ingewikkelder soos omstandighede en behoeftes verander, om dan in dialekte weer te vereenvoudig.
Elke taal het sy unieke stelsel vir die woorde van daardie taal. Nou kom mense wat taal bestudeer, en hulle beskryf daardie stelsel, en hulle gebruik terme soos naamvalle en case en gender en geslag. Duits het nie sommer maar net vier naamvalle nie, dis taalgeleerdes wat die Duitse stelsel beskryf wat so ’n verdeling doen. Daarom is dit onsinnig om vir my te vra of ek weet van ’n kreoolse taal met ses naamvalle. Indien Wes-Indiese Kreools so ontwikkel het dat daar verskille in naamwoordvorme is volgens die posisie wat hulle in sinne verskyn, ja, dan het Kreools naamvalle; andersins nie. Afrikaans het nie naamvalle nie, want die vorm van naamwoorde verander nie volgens sinsposisie nie. (Behalwe natuurlik in oorgeërfde vaste uitdrukkinge soos kind des doods, ens.)
’n Taal het dus ’n stelsel waaronder woorde funksioneer. Die grammatika is slegs die beskrywing van daardie stelsel deur linguiste.
Jy wil weet waarom moderne tale vereenvoudig? Weer eens, my verduideliking (wat ook nie eens my verduideliking is nie) is vanuit evolusionêre oogpunt. Jy is mos die linguis, dus sal ek die linguistiese verduideliking in bekwamer hande laat. ’n Ouer taal soos Duits of Middel-Nederlands sal min of glad nie verander wat stelsel betref nie. Ontwikkel daar streektale wat dialekte word, wat weer tale word, daaruit, is hulle dikwels minder gekompliseerd. Ons praat van deflekterende tale soos bv. Afrikaans. Die dryfveer daaragter is seleksie. ’n Vereenvoudigde vorm werk net so goed, en kommunikeer baie beter. Deur natuurlike seleksie sal die vereenvoudigde vorm gekies word, nuttelose ou vorme sal weggegooi word, want taal is suinig, en daarmee bedoel ek ekonomies.
Ek maak beswaar teen (en ek haal aan uit jou brief): “Jy sê jy sien ek is bekommerd oor die vertaal van Afrikaans na ander tale. Waar kom jy daaraan? Jy gryp na strooihalms, jy begin nou gly op die eiers wat jy met jou dans stukkend trap want ek het so-iets nooit gesê nie.”
Dis hoe ek die volgende sin van jou vertolk het. Jy is bekommerd as Afrikaans in ’n ander taal vertaal moet word, en dit Engelse woorde in het. As vertaling dan nie ’n probleem vir jou inhou nie, wat dan? Jy sê: “Iemand wat gekontamineerde Afrikaans in, sê Armeens, moet vertaal sal dit nie kan doen as hy nie Engels ook magtig is nie want 'achieve', 'goals set', 'introduce' en 'usually' is bloot nie Afrikaans nie. Om dit eenvoudiger as dít te stel gaan moeilik wees.”
Jy het spesifiek van Afrikaans gepraat, moenie nou dit verdoesel met X-, Y- en Z-tale nie.
Jy het my lekker laat lag deur te beweer dat ek nie verskil tussen kontaminasie en beïnvloed ken nie. Laat my dink aan die grappie: ken jy die verskil tussen ’n olifant en ’n posbus?
Jy weet nie wat kontaminasie (taalkundig) beteken nie. Dit is die vermenging van twee verwante woorde, soos bv. verassureer, verkleineer, verkul, ( van assureer + verseker, verklein + kleineer, kul + verneuk).
Jy weet ook nie wat beïnvloed beteken nie. Dit beteken invloed hê op iets. As ’n Engelse woord soos irrelevant gebruik word in ’n Afrikaanse sin, het dit beslis nie invloed op Afrikaans nie.
Jy weet ook nie wat ’n leenwoord is nie. Dis ’n woord wat aan ’n vreemde taal ontleen is, of Jan Rap daarvan hou of nie. Irrelevant, gentleman en introducé is almal leenwoorde.
Afrikaans kan nie verengels nie, en jou arseen-analogie is vrot, want beteken slegs dat Afrikaans verdwyn, nie verengels nie. Volgens jou word Afrikaans Engels genoem as dit 60% Engelse woorde bevat. Dan het ek slegte nuus vir jou: jy dink nog ons skryf hier Afrikaans, maar dit is eintlik Queen’s English wat ons almal hier op SêNet skryf. Afrikaans wat verengels, volgens jou, word mos Engels genoem.
Groete,
Angus

