Vir Jan Rap oor taal

  • 2

Beste Jan,
Ek kan nie met jou redeneer as jy skelmstreke uithaal nie. Jou skelmstreek is dat jy (en ek is seker daarvan dat jy dit doelbewus doen) verkeerd lees en interpreteer wat ek skryf.

Ek het geskryf: “Engels is vir eeue gepraat sonder dat enigiemand daaraan gedink het dat dit moontlik ? struktuur kan hê. Dis eers in die laaste jare van die sestiende eeu dat ? ene William Bullokar, wat ? goeie kennis van Latynse grammatika gehad het, die struktuur van Engels bestudeer het, en so die eerste Engelse grammatika geskryf het.”

Overgesetsynde beteken dit dat Engels ? struktuur gehad het, maar niemand het daarvan geweet nie, totdat Bullokar dit bestudeer en uitgewys het.

Jy skryf: “Met William Bullokar (wie hy ook al mag wees) skiet jy jouself eintlik in die voet. Bullokar het nie struktuur aan Engels gegee nie; hy kon dit aan die hand van Latyn identifiseer, die struktuur was reeds daar.”

Jy sê dieselfde wat ek gesê het, maar beweer nou dat ek meen dat dit Bullokar is wat die struktuur aan Engels gegee het.

Jy redeneer presies soos iemand wat in ? hoek vasgekeer is en strooipoppe skep wat hy self afskiet.

Die werklikheid is dat grammatika ? taal se struktuur beskryf. Dit gee nie struktuur aan die taal nie. Dit is waarom elke taal ? ander grammatika het. Afrikaans se grammatika beskryf die struktuur van Afrikaans, wat soms ooreenkom en soms afwyk van Europese tale. Zulu het sy eie grammatika, want dit beskryf die struktuur van Zulu.

Oor die verval van taal: Taal verval alleenlik as dit swakker en swakker kommunikeer. Jy sien agteruitgang van taal in “eenvoudigwordende grammatika”. Bedoel jy daarmee dat die verdwyning van fleksie en naamvalsvorme verval van ? taal beteken?

Afrikaans is ? mooi voorbeeld van ? moderne taal, want moderne tale verloor juis fleksie en naamvalsvorme. Volgens jou is Afrikaans dus ? vervalle taal.

Natuurlik het Afrikaans sy ontstaan te danke aan aanpassing by die omgewing en nuwe omstandighede. Jou rede vir die ontstaan van Afrikaans nl gebrek aan onderwys en gebrekkige kennis van die grammatika is ook waar. Gebrek aan onderwys en gebrekkige kennis van die grammatika kan ook ander of nuwe omstandighede wees!

Ek herhaal: om ? taal te praat, is kennis van die grammatika nie nodig nie. Ek twyfel of enigiemand wat saam met Jan van Riebeeck gekom het, Van Riebeeck inkluis, enige kennis van grammatika gehad het.

Die enigste mense wat ? kennis van grammatika het, is mense wat dit doelbewus bestudeer het: onderwysers, grammatici, taalkundiges, ens. Ek het Duits op skool gehad en dit geleer dmv grammatika. Op Universiteit het ek vanweë my studierigting Spes-Latyn moes neem en dit was ook aan die hand van die grammatika. Nooit kon ek ? gesprek voer in enige van hierdie tale nie. My buurman is ? onderwyser en hy leer die Engelse Afrikaans. Hy het my vertel dat hy nie ? woord rep oor grammatika nie, trouens dit is die beleid van tweedetaal-onderwysers om nie grammatika te gebruik nie. Soos wat jy jou moedertaal aanleer, so moet jy ook jou tweedetaal aanleer, sonder die bewuste kennis van grammatika. Hy gee privaat onderrig ook, en ek het al gaan inloer by wat hy doen. ? Zulu-seuntjie praat al redelik goeie Afrikaans, en ? mens kan met hom gesels.

Jan, jy kan maar vergeet van ? geïdealiseerde taalomgewing. Die taal van die verbruiker vier die botoon. Onderwysers, redakteurs, proeflesers, is noodsaaklik, maar as die sprekers “ons” in die onderwerpsposisie gebruik, sal g'n proefleser of onnie dit kan terugbring na “wij” nie. Die grammatika sal in sy beskrywing van die taal dit maar doodluiters moet insluit.
As almal biljoen as een plus nege nulle gebruik, dan is ek bevrees, dis een plus nege nulle. As Afrikaanssprekendes “onguur” en “guur” as sinonieme gebruik, dan kan nie ek, of jy of watter taalindoena iets daaraan doen nie.

Afrikaans is ? taal wat hom uitstekend aanpas by wêreldomstandighede, maw hy is steeds besig om te evolueer. Soos enige ander lewende taal, verbreed sy woordeskat daagliks. (Arme woordeboekmakers het dit maar hot agter.) Jan Rap het so pas ? nuwe woord bygevoeg: “yljin”.

Ek hoop nou maar nie jy kry jou sin en dat Afrikaans slegs binne ? eng geïdealiseerde taalomgewing ingedwing gaan word deur onnies, redakteurs en proeflesers nie, want dan gaan ons geliefde taal ? vroegtydige, wrede, en versmorende dood sterf. Daarna sal hy veras word en nie eens die voorreg van ? Latyn hê om soos die feniks uit die as te herrys nie.

So van die os op die jas, evolusie beteken aanpassing dmv seleksie; nie noodwendig verbetering nie. Lees Richard Dawkins: The Selfish Gene. Dit gaan oor die fiksheid van ? spesie. Met fiksheid word bedoel die suksesvolle vermoë om gene te versprei.

Groete,
Angus

  • 2

Kommentaar

  • Angus,

     
    Weer eens 'n uitstekende skrywe in doodgewone Afrikaans oor die rol wat aanpassing, evolusie en omgewing speel om taal te laat ontwikkel. Interessant dat ek nog nooit enige Engelssprekende taalpuris hoor kla het oor die assimilasie van verskeie Afrikaanse woorde in Engels nie. Elke Engelsman wat ek ken, "braai" as hy braai, hy "barbecue" nie.
     
    Jy maak 'n baie belangrike punt dat 'n kennis van grammatika nie vir jou leer hoe om 'n taal te praat nie. Ek het ook Duits op skool as vak gehad en kon, tsv al die grammatika teen middel st 9 (graad 11) nog geen Duits praat nie. Toe kry ons 'n Duitssprekende onderwyseres wat die grammatika eenkant toe geskuif het, en 'n jaar later het ons klein klas byna vlot in Duits gekommunikeer in die klaskamer. Insgelyks het ons plattelandse Afrikaners se tong dik geword as ons moes Engels praat, want gedurigdeur het jy oor jou "tenses" en "is / are" gewroeg as jy Engels moes praat. Toe beland ek in die weermag tussen 'n klomp souties en binne weke praat ek Engels nes hulle! Geen spanning oor "grammar en tenses" nie.

     
    In een van sy kommentare by jou skrywe (aan my gerig) skryf Jan Rap en ek haal hom direk aan: "Dirk Rigter, vekeerd spel en verkeerd praat is nie 'n taalvariasie nie; dis gewoon slordig, verkeerd en onprofessioneel, net soos 1+1=3 nie 'n wiskundevariasie is nie." Nou toe nou! Kyk hoe slordig spel hy wat Jan is, in dieselfde sin waarin hy ander slegsê oor hul spelling! Maar dis nie al nie. In 'n ander (politieke) skrywe skryf hy van 'n swart platvorm en 'n Afrikaner-platvorm. Ons weet natuurlik almal die spelling is tog platform.
     
    Ek verlekker my nie in sy spelfout nie, maar wil uitwys dat hy nie ander Afrikaanssprekendes as "slordig, verkeerd en onprofessioneel" moet uitkryt net omdat hulle variasie van taal verkil van syne nie. Ons moet maar versigtig wees as ons kritiseer! 
  • Beste Dirk,

    Taal is nie my vak nie, maar my stokperdjie. So lief is ek vir Afrikaans, dat ek in my vrye tyd BA geloop het, en later het ek BA-Hons daarby gevoeg. Ek sê dit nie om te spog nie, maar om te wys hoe ernstig ek oor Afrikaans is. Ek soek en maak vriende met taalonderwysers, en daarom is ek taamlik op hoogte van wat gebeur. Daarom kan ek vir jou sê jou Duitssprekende onderwyseres het presies geweet wat sy doen. 'n Goeie ou vriend van my wou Frankryk toe verhuis, en toe skaf hy vir hom 'n menigte klomp Franse grammatikaboeke aan. Na maande se gesukkel, sluit hy toe by 'n Franse klub aan. Binne 'n paar maande  kon hy al lekker in  Frans gesels.
    Groete,
    Angus 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top